Hoe gemaak met die mense op straat?

Een van die moeilikste tendense waarmee ons daagliks gekonfronteer word, is die groot aantal mense wat van deur tot deur loop, op straathoeke staan en by verkeersligte bedel vir kos en geld.

Daar is geen twyfel daaroor dat Christene ’n verantwoordelikheid in hierdie verband het en kan ons nooit ons rug keer op God se opdrag om uit te reik en om te gee vir mense in nood nie.

Die realiteit is egter dat dit wat bedelaars van goedgunstige verbygangers ontvang, dikwels geen verskil aan hulle omstandighede op die langtermyn maak nie en hulle eintlik maar net in staat stel om more weer op dieselfde hoek te kom staan.

Wie is die man wat aan my motorvenster klop?

Die omstandighede van elke bedelaar is uniek en daar kan nooit ’n standaard profiel aan almal gekoppel word nie. In breë trekke kan bedelaars in drie groepe verdeel word:

  1. Die tradisionele boemelaar

Hierdie persone is die werklike haweloses. Hulle het regtig geen huis nie en slaap in parke, onder bome, in bushokkies en onder brûe. Hulle kry hul kos in vullisdromme en van verbygangers. Hulle kan met baie min klaarkom en bedel eintlik net wanneer hulle regtig honger is. Die lewe op straat is al wat hulle ken en hulle is in die meeste gevalle heel tevrede met hulle omstandighede.

Hierdie mense se kans op herintegrasie in die gemeenskap is baie beperk. Hulle het in die meeste gevalle eenvoudig nie die wil of kapasiteit om ’n “normale”, verantwoordelike lewe te lei nie. Selfs al word hulle ’n werk en huis gegee, sal hulle die leefwyse nie lank kan volhou nie, en beland dan maar weer op straat. Hulle raak dikwels van alkohol afhanklik omdat dit ’n goedkoop afhanklikheidsmiddel is waartoe hulle maklik toegang het.

2. Verkeerslig-bedelaars

Hierdie persone is meestal nie heeltemal haweloos nie. Hulle is wel werkloos en arm, maar woon êrens in ’n arm woonbuurt. Omdat hulle basiese behoefte aan kos vervul is, wil hulle eerder geld as kos hê. Daarmee kan hulle dan koop wat hulle ookal kortkom. Maar ongelukkig is verkeerslig-bedelaars dikwels aan dwelms verslaaf en gebruik hulle dié geld om dwelms te koop.

Navorsing wys dat die mense gemiddeld rondom R300 per dag op hierdie manier kan insamel – dus, konserwatief bereken, R6 000 per maand – selfs al sou hulle net weeksdae bedel! Dit verduidelik moontlik hoekom verkeerslig-bedelaars weer en weer terugkeer en op straathoeke gaan staan.

Hulle maak ook soms van ’n gestremde familielid of vriend gebruik om simpatie uit te lok. So ’n gestremde handlanger is ’n waardevolle bron van inkomste, aangesien hulle ook kwalifiseer vir ’n ongeskiktheidspensioen van die staat (ongeveer R1 400 per maand).

Ander maak weer gebruik van kinders om simpatie te wek. Die kinders word ontneem van ’n skoolopvoeding en beland dan dikwels self ook later op straat.

3. Deur-tot-deur bedelaars

Hierdie mense is ook gewoonlik nie haweloos nie, maar arm mense uit arm woonbuurte. Hulle loop van deur tot deur en samel klere, huisware en herwinbare materiale in, wat hulle dan vir ’n inkomste verkoop.

Baie gemeenskappe is ongemaklik met deur-tot-deur bedelaars, omdat dit moeilik is om te onderskei tussen diegene wat regtig items insamel om te verkoop en kriminele wat in woonbuurte rondhang om mense se gewoontes dop te hou om by huise in te breek en te roof.

Wat kan ons doen om die mense op straat te help?

Die oplossing vir hierdie probleem lê nie by elkeen van ons se individuele poging om te help nie, maar eerder by die geïntegreerde oplossings van gemeenskappe en geregistreerde organisasies wat dienste aan haweloses lewer. Hier volg ’n paar riglyne:

1. Moet nooit geld gee nie

Nie by jou deur nie, nie by die verkeerslig nie en ook nie
op straat nie. Jy verskaf slegs ’n tydelike oplossing wat meestal nie sinvol aangewend gaan word nie.

2. Ondersteun die organisasies in jou omgewing wat dienste aan haweloses lewer

Hierdie organisasies kry weinig subsidie van die staat en is self daarop aangewese om die middele in te samel wat hulle nodig het om ’n diens te lewer. Ondersteun hulle deur byvoorbeeld kos en tweedehandse klere te skenk. Of bied jou tyd aan om vrywillige hulp te verleen.

Wanneer hierdie organisasies kos en klere uitdeel, is dit nie net ’n handout nie. Saam met ’n bord kos bring hulle ook aan haweloses die geleentheid om ’n langtermynoplossing vir hulle omstandighede te vind. Die vervreemdes se families word gesoek, werkloses word toegerus met vaardighede en afhanklikes word by rehabilitasieprogramme ingeskakel. Waar Christenorganisasies betrokke is, word die evangelie ook aan hulle gebring. Om vas te stel watter organi-sasies hierdie diens in jou omgewing lewer, kan jy die plaaslike kantoor van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling skakel.

3. Organiseer jou buurt om bedelaars in julle omgewing te leer ken en ondersteun.

Om regtig ’n verskil in bedelaars se lewens te maak, moet ons by hulle betrokke raak. Woonbuurte kan hulleself beskerm deur bedelaars wat gereeld in hulle omgewing beweeg te leer ken en eerder hul bedrywighede te struktureer en te organiseer as om dit teen te staan. Bedelaars wat items insamel en verkoop, bedryf ’n besigheid en behoort eintlik aangemoedig te word om as entrepreneurs te ontwikkel.

Nog ’n voorstel sou wees dat buurtwagte ’n databasis opstel van bedelaars wat in hul gemeenskap mag kollekteer. Hierdie databasis kan hulle identiteits-nommer en vingerafdrukke insluit. Op hierdie manier kan daar verseker word dat kriminele elemente geïden-tifiseer word en nie in die buurt toegelaat word nie.

Kerke en gemeenskappe kan dan sinvol betrokke raak by die mense op hierdie databasis. Herwinbare materiale en ander items kan op ’n spesifieke dag van die week aan geregistreerde bedelaars uitgegee word om voortdurende bedelary te voorkom. Saam met die uitgee van items om te verkoop, kan geleenthede geskep word om aan hulle besigheidsvaardighede te leer. Kerke kan ook op gestruktureerde wyse die evangelie aan hulle verkondig deur Bybelstudiegeleenthede en lewensvaardigheidsontwikkeling.

Binne ’n gestruktureerde omgewing kan Christene
dus geleenthede skep waar hulle op ’n verantwoor-delike wyse uitreik na bedelaars en eerder langtermyn-oplossings vind as om net in hulle onmiddellike behoeftes te voorsien. Die Here vra nie net dat ons help nie, maar dat ons dit op ’n verantwoordelike manier
sal doen.

Sunette vd Merwe

Share this post