Hier vind ek vrede

Ek het onlangs ʼn plek gevind waar mense aan die teenoorgestelde kant van die argument, weerskante van die draad, na mekaar luister en selfs van mekaar se argumente en menswees iets leer. Hulle verskil van mekaar sonder om mekaar name te noem, hulle lewer repliek sonder om skelm “cheap shots” te vat. Niemand word demonies of rassisties gebrandmerk nie en hier sit lewenslange vyande respekvol langs mekaar. Waar is dit, in die kerk, hoor ek jou vra.

Nee nie die kerk nie, maar in my studeerkamer, op my boekrak! En die lekker deel is dat as ek nie meer kan hanteer wat hulle vir my sê nie, dan skuif ek hulle net terug op hul plek op die boekrak.

“We read to know we are not alone.”

Uit die film Shadowlands

Uit die aard van my persoonlikheid lees ek altyd ʼn paar boeke op ʼn slag, maar lees is die basis van my menswees en die vorming van my denke. Ek droom baie van ʼn gemeenskap waar ons weer in die stadspoorte kan sit en gesels, redeneer en verskil, sonder om name genoem te word, sonder om ʼn etiket om die nek te kry. Deesdae is dit so maklik, want as ek nie hou van wat jy sê nie, dan “lable” ek jou of ek noem jou name, of ek glimlag en agter jou rug praat ek sleg van jou. Agter jou rug word die dolke diep ingedruk, word jy uitmekaar gepluk. Hoekom doen ʼn persoon dit?

Want hulle kan en niemand is bereid om iets daaroor te sê nie, want as ek iets sê, is ek volgende.

Ons het verleer om met respek langs mekaar te sit en passievol van mekaar te verskil. Ons het verleer om kwaad te word, hard te praat met mekaar en na die gesprek ʼn glas wyn of ʼn koppie koffie saam te drink. Môre is ons terug en verskil steeds respekvol van mekaar, groei op mekaar en daag mekaar uit. Die lewe is juis so moeilik omdat ons dit so vrek moeilik maak vir onsself.

Niemand is of moet dieselfde wees nie, ons is nie so gemaak nie, want ons is elkeen uniek gemaak en nie een is dieselfde nie.

Ons maak so min moeite met mekaar, dat ek soms glo ons sal mekaar nooit verstaan nie, want ons het nie meer die wil om mekaar te verstaan of selfs om mekaar te probeer verstaan nie …

“People understand me so little that they do not even understand when I complain of being misunderstood.”

–Søren Kierkegaard

My gevoel is dat ons mekaar nie werklik meer wil verstaan nie. Stem saam met my, voel my pyn, dink soos ek dink of anders is jy die een wat nie besef waaroor die lewe gaan nie. Iewers het ons geleer dat om saam te stem, om soms te erken dat jy anders kan dink en optree, jou ʼn swakkeling maak en jy dan nie meer in sekere kringe inpas nie. Ek besef al hoe meer dat juis die feit dat ons verskil, nodig is om erken te word, sodat ons voluit kan leef en by mekaar kan leer.

As ek in die dorp rondom my kyk, dan sien ek soveel verskillende mense en kulture, soveel mense wat nie moeite maak om met mekaar te praat nie. Ons leef elkeen so in ons eie wêreld – ons het verleer om met mekaar te redeneer, met respek te verskil en om by mekaar te leer. Vra jy vir iemand sy of haar opinie oor ʼn saak, hoor jy bitter min ʼn nuwe manier van dink. Almal het so in die algemene verval, want ons wil nie mekaar in die gesig vat nie. Ons wil nie van ander verskil nie, want as ons dit doen, staan ons op die kantlyn en moet ons onsself heeltyd verdedig.

God is die enigste absolute waarheid, alle ander dinge is mense se interpretasie van wat waarheid vir hulle as persoon is. Jou interpretasie van ʼn saak kan vir my so ongelooflik baie beteken as ek en jy net bereid is om soos die boeke op die boekrak, langs mekaar te staan en met respek en agting van mekaar te verskil.

Ons opdrag is nie om elkeen wat oor ons pad kom te oortuig van ons eie verstaan van die waarheid nie. As mens het ons nie die vermoë om objektief te wees nie, ons is altyd subjektief, want wat ons dink en doen is gekoppel aan ons belewenis van wat met ons gebeur. So ons is nie op aarde om mekaar te oortuig van iets nie, ons is hier om ons oortuigings te leef, te deel en te vertel en dit moet ons as kind van die Here, met sy liefde doen. God se taal is liefde, God is liefde en ons moet in sy liefde leef – met elkeen wat oor ons pad kom.

Ek wil vrede vind in elkeen wat oor my pad kom. Ek wil verskil, redeneer, ooreenstem met mense en bowenal wil ek tuis wees tussen mense. Ek het die besluit gemaak om vir mense ruimte te maak, vir die manier wat hulle glo, vertrou en leef, al stem ek glad nie met hulle saam nie.

Ek hoef nie van jou te hou nie, maar as kind van die Here, het ek die opdrag van God ontvang om vir jou lief te wees. En dit geld vir elke kind van God op hierdie aarde, want Hy het gesê:

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Iewers moet ons kinders van die Here opstaan en onself laat geld. Ons moet liefde leef en ons kan dit net doen as ons baie naby aan die bron van liefde leef, in ʼn persoonlike verhouding! Om jouself lief te hê, beteken om te verstaan wie jy in God is. Dit beteken dat jy jou opinie kan gee ongeag of ander soms van jou gaan verskil.

Ek staar nou na ʼn paar boeke wat op die grond langs my stoel is … Bonhoeffer en Brooderyk lê bo-op mekaar en hulle sukkel met mekaar. Langs hulle speel Leonard Sweet en Stephan Joubert laggend met mekaar oor die Heilige Gees se invloed in hul lewe … die parakleet.

Nou lag ek kliphard, want in die boekrak sien ek Madiba en John Vorster staan langs mekaar, rug teen rug, maar hulle loer vir mekaar met respek. Daar is net een manier om vrede te leef en dit is om in God se liefde jouself te ontdek en dan liefde met respek te leef vir almal om jou.

Liefde is eerlikheid, liefde is hartseer, liefde is kwaad word, liefde is om jouself te wees, liefde is …

Share this post