Heerlike huwelike

Toe ons studente was, en almal hulle trou manne en -vroue begin ontmoet, het ons ligtelik gepraat van die huwelik as die verwisseling van die tydelike met die heerlike! Inderdaad! Die huwelik behoort ’n heerlike instelling te wees! Waarom is daar dan so min heerlike huwelike? Ons verwys nie eens na die egskeidingsyfer nie, want dié kan erg misleidend wees. Dit kan mens laat dink dat (slegs!) die 40% egpare wie se huwelike in die skeihof eindig, ongelukkige of on-lekker huwelike het.

Feit is, daar is min gelukkige huwelike. Selfs in die Bybel is daar nie juis voorbeelde van gelukkige huwelike nie. Aan raad is daar nie ’n tekort nie, en wenke is daar baie. Alles in ’n poging om mense te help en bemagtig. Waar loop dit dan skeef? Het die dominee wat die huwelik bevestig het, nie sy werk behoorlik gedoen deur die egpaar voor te berei nie? Steek daar nie waarheid in die feit dat mense op té jong ouderdom té groot besluite moet neem nie? Of is ons verwagtings dalk te groot? Mens wil uitroep: Sal die skuldige asseblief opstaan!

Geluk is nie die punt nie

Vra vir enige jongmens op pad om te trou waarom hulle nou juis hierdie spesifieke persoon gekies het. Jy sal omtrent altyd hoor: hy/sy maak my so ontsettend gelukkig. Miskien is dit dan denkfout nommer een: geen mens kan jou gelukkig maak nie. Dis ook nie hulle werk nie. Elkeen moet sorg dat hulle so heel en gelukkig as moontlik is wanneer hulle ’n permanente verbintenis soos ’n huwelik aangaan.

Wat bring jy in die huwelik in?

Hierdie is ’n belangrike vraag! Juis omdat ons in ’n verbruikersmentaliteit verval het, dink ons dat iets of iemand ons gelukkig moet kom maak. Met respek: jy kan nie van ’n ander gebroke sondaarmens verwag om jou gelukkig te kom maak nie. Hoe lief en dierbaar die ander party ook al is, hy/sy kan jou nie gelukkig maak nie. Jy moet self eers gelukkig wees. Jy moet jou drake uit die verlede oorwin, sodat jy kwaliteit in die verhouding kan inbring. Dan volg geluk eers, as ’n byproduk. En jy sal groei, groei, groei…

Daar is al baie nagevors en geskryf oor die huwelik. Kenners gee raad, bied stappe aan en beloof dat as jy dit sou volg, sukses gewaarborg sal wees. Dit is tog wat ons almal wil hê, nie waar nie? So wat is hierdie sukses dan? Hoe kan ons dit kry? Kan dit regtig so moeilik wees?
Kom ons kyk ’n bietjie van ’n ander kant af. Kom ons dink nuut oor verhoudings. Wat laat verhoudings werk? Daar is baie antwoorde op hierdie vrae, maar lê ’n deel van die antwoord nie in die toestand waarin die verhouding verkeer nie? Daar is ’n spreekwoord wat lui: die verskil tussen ’n groef en ’n graf is net die diepte. Inderdaad! Baie huwelike is reeds dood, of staan op die punt om die gees te gee.

So hoe klink dit dan vir jou as ons na ’n huwelik verwys as ’n lewende, dinamiese gebeure? Die huwelik is iets wat aan die gebeur is. Daar is iets aan die gang, (of nie!) Dit groei, neem toe, blom. Hierdie groei is nie afhanklik van omstandighede nie. Terug na die beginsel van geluk. Sou jou huwelik slegs groei wanneer jy/julle gelukkig is, en wanneer julle die wind van agter het, daar die minimum probleme en uitdagings is om die hoof te bied, gaan die bootjie vinnig begin kantel. Die rede is eenvoudig: wat my vandag gelukkig maak, maak my dalk môre ongelukkig.

Wat is dan nodig?

’n Huwelik moet siel hê! Nou beweeg ons bietjie dieper. Vir ’n huwelik om siel te hê, is dit nodig dat die twee binne hierdie huwelik hulleself baie goed moet ken. Daarmee word bedoel dat jy weet wie jy is, en veral ook wie jy in Christus is. Met hierdie kennis moet jy verder besef dat geen verhouding staties is (stilstaan) nie. Dit groei. Vorentoe of agtertoe, maar dit groei. Bekende skrywers oor die huwelik (Jack en Judith Balswick) noem vier uitgangspunte:

Die verbond: Wanneer ons oor die verbond praat, is een van die kenmerke wat uitstaan, die onvoorwaardelikheid van God se liefde. Omdat dit onvoorwaardelik is, groei genade daaruit voort. Dink jouself in: ’n huweliksruimte waar jy besef dat omdat jy ’n begenadigde is, jy ook genade vir ander kan (moet) hê. ’n Ruimte waarin jy sonder vrees vir verwerping leef, jouself kan wees, binne ’n veilige ruimte. Soos in jou verhouding met God. Geen vrees nie, koestering, veiligheid, met die logiese gevolg dat ek my deel van die verbond ook wil nakom. God het my so lief, Hy offer sy kosbaarste. Dit is wat God na my toe bring, en dit is wat ek na die verhouding toe bring. Weerhou God sy liefde wanneer ons, die ander party, die kontrak verbreek? Natuurlik nie! ’n Verbondshuwelik hou nie terug nie. Nooit nie. ’n Volwasse huwelik in elk geval nie.

Genade: Omdat die liefde onvoorwaardelik is, groei genade daaruit voort. Dink jouself in: ’n huweliksruimte waar jy besef dat omdat jy ’n begenadigde is, jy ook genade vir ander kan (moet) hê. Waarop dit neerkom is die volgende: om te vergewe en vergewe te word. Wat natuurlik makliker gesê as gedoen word. Min van ons is goed met vergifnis. En net so sukkel baie van ons om vergifnis wat aan ons geskenk word, te aanvaar.

Hierdie genade waarvan gepraat word, staan teenoor die moets en moenies van ons samelewing. Ons samelewing is deurspek met wette. Wat maak dat ons mekaar tot sekere dinge wil verplig, terwyl ’n huwelik nie ’n saak van wetlike verpligting is nie, maar eerder ’n saak van liefdevolle opoffering. Ek het lief, ek kan nie anders nie. Ek voel verplig, ja, maar dis liefde wat my dryf, en daarom word my plig die grootste plesier denkbaar.

Bemagtiging, om te dien en gedien te word: Lees mooi, hier word nie van mag gepraat nie, maar van bemagtiging. In die huwelik wil ek jou sterk maak, mag aan jou toesê, en jou eer. Ek dien jou, deur jou op te bou en jou te ondersteun, en jy vir my. Ons ontwikkel mekaar se potensiaal; ek omarm jou uniekheid en ek respekteer jou vermoëns. Presies dit wat Jesus se gesindheid in Johannes 10:10: Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, in oorvloed. Bemagtiging staan teenoor ’n magspel, waar een van ons ten alle koste die mag in ons hande wil hou sodat ons mekaar daarmee kan manipuleer, of kontroleer. Geen wonder so ’n verhouding ontaard in ’n magstryd nie.

Intimiteit, om te ken, en om geken te word: Wat ’n wonderlike ding is dit nie dat ons met mekaar kan praat nie! Ons het die vermoë om deur wat ons sê onsself bekend te maak aan mekaar! Adam en Eva was naak, hulle het mekaar dus deur en deur geken. En daar was geen terughoudendheid nie, geen skaamte. Net vrymoedigheid. Dit was nie nodig om woordspeletjies met mekaar te speel nie, ook nie om mekaar om die bos te probeer lei nie. Daar was geen vrees vir verwerping nie. Ons noem dit intimiteit. Huweliksintimiteit wat vrymoedig maak, nie skaam is nie, moeite doen om te leer ken, maar ook te waag om self weerloos te word voor die ander. Seksualiteit wat daarop ingestel is om sekuriteit te bied. Want in die intieme huweliksruimte hoort eerlikheid (en heerlikheid!) Dit skep vertroue. 1 Johannes 4:16: Waar liefde is, is geen vrees nie.

Om op te som: wat is nodig vir ’n (heerlike!) sterk huwelik?

Oorgawe en toewyding (Commitment)
Hierdie huwelik is heilig. Ons is nie deel van statistiek nie. Ons is verbondskinders. Ons gaan deur die swaarkry of spanning kom!

Aanpasbaarheid
Verstaan dat rolle verander het. Ons pro-gramme lyk anders as ons voorouers s’n. Ons omstandighede ook. Een van die kenmerke van emosionele volwassenheid, is die vermoë om by veranderende omstandighede aan te pas. Niks bly vir altyd soos dit is nie.

Respek
Paulus se Efesiërs 5 som dit mooi op: Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Dan word die ek-jy verhouding ’n ek-u verhouding.

Kommunikasie
Jy het hiervoor gewag! Effektiewe kommunikasie is natuurlik heeltemal anders as om oor koeitjies en kalfies te gesels. Dit ook, maar diepte
is noodsaaklik!

Die basis, die fondament, die hoeksteen: Jesus Christus.

Hê ’n heerlike huwelik!

Share this post