Geslagsgelykheid

“Verder het die Here God gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.’”
Genesis 2:18

Wat is “seksisme” en “patriargie”?

Seksisme vind plaas wanneer mense van ʼn sekere geslag bevoordeel of gestereotipeer word volgens ʼn onregverdige standaard. Hierdie standaarde word dikwels deur die samelewing as die ideaal voorgehou en gee dikwels vir ons die valse indruk dat een geslag beter of meer waardevol as ʼn ander geslag is.

Patriargie is om die wêreld te verstaan as gedomineer en gesentreer rondom die belange van mans. Dit impliseer dat, selfs op ʼn subtiele of onbewustelike vlak, die voor-keure en behoeftes van mans voorkeur bo dié van vroue geniet – dat vroue “tot diens” van mans hoort te wees. Die wortels hiervan lê diep in die Christelike tradisie, veral die oortuiging dat mans as leiers en voorsieners moet optree en vroue as versorgers en ondersteuners. Die uitdaging van hierdie “rolle-verdeling”, buiten dat dit mense in uiters beperkende boksies plaas, is dat dit ook ʼn ongelyke magsverhouding veronderstel: Een helfte van die samelewing mag die pas aangee en die ander helfte moet bloot volg.

Is daar vandag steeds ongelykheid?

  • Patriargie en seksisme is terme wat so maklik ver van ons kan voel – so ver, dat ons kan wonder of ongelykheid tussen mans en vroue nog bestaan. Die volgende vrae kan ons help om beter te verstaan hoe geslagsrolle, seksisme en patriargie in ons samelewing funksioneer:
  • Het jy al seksisme in jou daaglikse lewe opgemerk (in die werkplek, die huis, die skool, in die gym, ens.)?
  • Word mans en vroue in die samelewing as gelykes beskou?
  • Word sekere rolle (huishoudelike rolle, spesifieke tipe beroepe, spesifieke sportsoorte) in die samelewing aan ʼn sekere geslag gekoppel?
  • Neem jy deel aan seksistiese grappe, of lag jy saam daarvoor?
  • Hoor jy nog dat geslag as ʼn belediging teen mense gebruik word (bv. “Tipies man/vrou”; “Ag, vrouens is mos maar oor-emosioneel”)?
  • Word manwees/vrouwees dikwels aan kinders verduidelik op grond van onregverdige standaarde? 
  • Wanneer daar oor ongewenste gedrag of seksuele geweld teenoor vroue berig word in die media, word vroue soms voorgestel as diegene wat aanleiding gee tot hierdie gedrag en misdade teenoor hulle.
  • Word mans en vroue se fisiese voorkoms en seksualiteit gemeet aan die standaarde en foto’s wat in die Men’s Health- of Cosmopolitan-tydskrifte voorkom?
  • Was daar al ʼn geleentheid waar jy ervaar het dat daar teen jou of iemand naby aan jou gediskrimineer word op grond van jou/hulle geslag?
  • Het jy al gevoel dat jy nie manlik/vroulik genoeg is nie?

Chris se verjaarsdagpartytjie

Ons almal word, op verskeie maniere en tot variërende grade, deur geslagsrolle, patriargie en seksisme beïnvloed. Lees die volgende verhaal en die gespreksvrae wat daarop volg:

Dit is jou seuntjie, Chris, se vierde verjaarsdagpartytjie. Jy en jou huweliksmaat het, saam met Chris, besluit dat die tema vir hierdie spesiale partytjie die Cars-rolprent gaan wees. Chris was baie opgewonde en julle het moeite gedoen om te verseker dat al die blou papierbordjies en glasies met die rooi karretjie bymekaar pas. Chris het die wonderlikste geskenke by sy maatjies en familie gekry: verskillende kleure karretjies, weermagmannetjies, speelgoed-robotte, plastiek dinosourusse asook ʼn pragtige pop wat met sy eie melkbottel kom. Chris was in sy skik met die speelgoed en kon nie wag om by die huis te kom sodat hy met alles kon begin speel nie.

Gespreksvrae:

  • Waarom het jy, jou huweliksmaat en Chris besluit op die Cars-rolprent as die tema vir sy verjaarsdagpartytjie?
  • Hoe het julle gevoel oor die feit dat iemand ʼn pop vir jul vierjarige seuntjie gekoop het?
  • Wat het jy gedink, sou Chris se reaksie wees toe hy die pop as geskenk ontvang het?
  • Hoe het julle oor Chris se reaksie gevoel?
  • Wat dink jy sou jou vriende en familie se reaksies oor die pop, as geskenk vir Chris, gewees het?
  • Sou jy benoud gevoel het oor wat ander se moontlike reaksies sou wees, indien hulle hoor dat jou seuntjie ʼn pop vir sy vierde verjaarsdag gekry het?

In Jesus Christus is ons almal gelyk

Die kruisigingsverhaal van Jesus Christus is die
storie van verlossing: vir alle mense, oor alle tye, sonder beperking of voorwaardes of grense. In die tyd van die Romeinse Ryk was ʼn kruisdood gereser-veer vir diegene in die samelewing wat skuldig bevind is aan die mees grusame dade. Die bedoeling van ʼn kruisdood was nie net om die doodstraf op
te lê nie, maar juis ook om die oortreder in die publiek te verneder en ʼn voorbeeld van hom (of haar) te maak: “Wees gewaarsku, so moet ʼn mens nié optree nie!”

Vir ʼn man om gekruisig te word, was hierdie verne-dering juis ten diepste gekoppel aan manlikheid: Goeie, eerbare mans hoort nie aan ʼn kruis nie. ʼn Man aan ʼn kruis word ontneem van sy eer en manlikheid, en is juis daarom ʼn bespotting. En tog is dit juis die wyse waarop Jesus te sterwe kom: ʼn Onskuldige, eerbare man, wat die weg loop van ʼn man gestroop van manlikheid. Wanneer ons Jesus aan die kruis sien hang, is dit in weerloosheid: kaal, beseer, in pyn, sonder prag of praal of trompetgeskal, ontneem van fisiese mag en ʼn bespotting.

En tog is dit juis hierdie einste gebeure, hierdie ontmagtigende verhaal, wat nuwe lewe moontlik maak vir alle mense. Dit is die weerloosheid en gebrokenheid van ʼn manlike Verlosser wat stereotipes deurbreek en wat ʼn uitnodiging rig aan mans én vroue, seuns én dogters, om Hom te volg: en dit op ʼn gelykwaardige manier. Aan die voete van die Gekruisigde is daar nie mensgemaakte kategorieë van meerderes en minderes, magtiges en onderdaniges, leiers en volgers nie. In Jesus se kruisdood word sy bediening en roeping aan alle mense vervul. En word ʼn alternatiewe gemeenskap geskep, waar mans en vroue as eweknieë deur God geroep en gebruik word op ʼn magdom kreatiewe wyses.

Praktiese wenke

Om gestalte te gee aan God se beeld van die Koninkryk, vra van mans én vroue om eienaarskap te neem van die skepping van ʼn werklikheid waar alle mense as gelykes geag en behandel word. ʼn Paar praktiese wenke hiervoor is:

  • Herinner jouself dat alle mense in die eerste plek na die beeld van God geskep is (Gen 1:27): Dit is die eerste waarheid oor onsself en oor ander. Dit beteken alle mense verdien dieselfde behandeling, respek en waardering, juis omdat elkeen na die beeld van God geskape is.
  • Juis daarom kan ons nie stilbly wanneer ons ongeregtigheid, onderdrukking of geweld gebaseer op geslag raaksien nie, veral in ʼn samelewing waar soveel meisies en vroue ly.
  • Neem standpunt in teen opmerkings, grappe, stellings of praktyke waar daar gestereotipeer of gediskrimineer word teen meisies en vroue – selfs al is jy die enigste een wat daarteen opstaan.
  • Weet dat geslagsgebaseerde geweld – die ekstreme vorm van hierdie stereotipering en diskriminasie – in enige huis, omgewing en konteks kan plaasvind. Wees sensitief vir gevaartekens hiervan en meld dit aan by ʼn professionele hulpverlener of die polisie.
  • Let op die tipe taal wat jy gebruik wanneer jy praat oor meisies en seuns, mans en vroue – veral stereotiperende uitdrukkings soos: “Tipies mans!”, “Ag, jy weet mos ons vroue …”; “Mans/Vroue behoort mos nie …”; “Ek kan my vrou nie met my kredietkaart vertrou nie”; “Jy weet, my man se hande is afgekap as dit by huistake kom.”
  • Hou in gedagte dat kinders soos sponse is van dit wat hulle sien, hoor en beleef in die huis. Dink saam oor hoe julle in gesinsverband die huistake doen en wys vir kinders dat mans en vroue nie “outomaties” sekere dinge moet doen op grond van hul geslag nie. Gee vir verskillende gesinslede kookbeurte, tuinbeurte, drom-uitstootbeurte, skoonmaakbeurte. Modelleer as ouers ook hierdie buigbaarheid deur bv. saam kos te maak, finansies te bespreek of belangrike besluite te neem.
  • Wend bewustelike pogings aan om kinders toe te rus om hulself as gelykwaardiges te sien, ongeag hul geslag. Moedig seuns én dogters aan om bv. enige beroep te oorweeg, deel te neem aan enige naskoolse aktiwiteit wat hulle geniet, self die kleure van hul klere te kies en om ook seuns en dogters as gelykes te behandel.
  • Wees op die uitkyk vir jou eie taal en versterking van stereotipes en geslagsrolle wanneer jy met veral klein kinders praat: “Ag nee man, seuntjies huil mos nie!”, “Dogtertjies speel nie so rof nie”, “Seuntjies maak meisies seer as hulle van iemand hou”, “Dogtertjies wil mos rokkies dra.”

Sunelle Stander en Nina Müller van Velden

Share this post