Geseënd is die vredemakers

In die woorde vrede-maak of versoening hoor mens mooi klanke van naderkom, luister, vergewe, omhels en heel word. Dis egter ook bitter moeilike, onmoontlike, selfs gevaarlike woorde. Versoening begin by die herstelde “vrede tussen ons en God” (Romeine 5:1). Deur die bloed van sy Seun het God ons met Homself versoen (Kolossense 2:20) en aan ons die bediening van die versoening toevertrou (2 Korintiërs 5:18). Dié vrede moet “bedien” word, in huwelike, gesinne, families, binne gemeentes, tussen groepe mense, mense van verskillende rasse en klasse… en tussen kerke.

Vredemakers – ’n moeilike opdrag

As Jesus in sy Bergrede verklaar: “Geseënd is die vredemakers” (Matteus 5:9), weet Hy presies hoe ’n moeilike opdrag vrede-maak is.

Hy wéét van die Romeinse owerheid wat die Jode oorheers en verdruk – die hardheid van hulle juk. Hy weet dat daar in sy eie dissipelkring mense is wat met geweld teen die Romeinse oorheersers in opstand wil kom. Wanneer Jesus praat oor vrede-maak, weet Hy presies van die politieke en sosiale onrus van sy dag, die immoraliteit en korrupsie wat in Palestina hoogty vier – ook onder sy eie volksgenote, byvoorbeeld die hoëpriesters se uitbuiting by die tempel en die Joodse koning Herodes wat kort hierna Jesus se vriend Johannes se kop tydens ’n fuifparty sou afkap. Jesus weet van die uitbuiting van sy mense, die tollenaars en tolhekke, die armoede, die sosiale onreg teen die vroue, kinders, siekes en weerloses. Hy weet goed van die kulturele en rassespanning, die spanning tussen groepe mense soos die Jode, Romeine, Samaritane, vreemdelinge, heidene, die Fariseërs en Sadduseërs, rykes en armes en slawe.

Maar Jesus wéét ook van die spanning binne huise, die misbruik van vroue, egskeiding. Hy weet van die spanning binne sy eie kring van dissipels, binne die kerk, die vyandskap tussen broers, gelowiges wat mekaar hof toe sleep, mekaar veroordeel, mekaar vloek… Blaai mens deur die boek Matteus, staan dit alles daar – presies net soos die wêreld waarin ons vandag lewe.

Teen dié agtergrond kry Jesus se woorde “Geseënd is die vredemakers” dieper betekenis – selfs gevaarlike betekenis. Want om vredemakers in so ’n wêreld te wees, is nie speletjies nie, allesbehalwe. Dit beteken dat jy groot offers sal moet bring; dat jy vervolg sal word en onreg sal moet verduur. Vredemaker beteken jy draai die ander wang; jy loop die tweede myl; jy gee ook die onderkleed; jy vergewe, sewentig maal sewe keer; jy sien af van vergelding; jy los die hofsaak en raak versoen voor die altaar; jy oordeel nie meer nie; jy skeur die skeibrief op; jy steek grense oor en eet saam met die armes en sondaars en heidene en jy gee jou besittings weg. Dit beteken jy betaal belasting aan die gehate keiser; jy sit jou swaard terug in die skede; jy omhels jou vyande, jy het hulle lief, jy bid vir hulle. Om vredemaker te wees beteken jy gaan teen die grein in, teen die natuurlike menslike gedrag in… Daarom is “Geseënd is die vredemakers” van die mees gelade en gevaarlike woorde in die Bybel. Dit vra niks minder as totale selfprysgawe nie!

Hoe maak ’n mens vrede?

Vrede-maak is nie ’n passiewe woord nie, ’n niks doen ter wille van die vrede nie. Daar sit iets aktief in die woord, ’n doelbewuste máák van vrede. Vredemakers is anders as vredeliewendes, wat uit vrees vir konflik liewer onbetrokke bly en niks doen nie. Of wat vrede-vrede skreeu, al is daar nie vrede nie – en so valse vrede maak. Vrede-maak, egte versoening, is harde werk. Dit vra meestal ’n groot prys. Dit vra dapperheid; dit vra selfverloëning; aflegging; blootlegging van die waarheid; bloot-stelling. Dit vra belydenis en vergiffenis – om vergiffenis te gee en te ontvang. Dit skep ruimte vir heling en rig tekens van die koninkryk op. Dit wys: só lyk dit waar die Here Jesus Koning is. Daarom is dit tegelyk ook geseënd om vredemakers te wees.

Die teoloog Miroslav Volf het vrede-maak aangrypend beskryf aan die hand van wat hy die dans van omhelsing noem. In so ’n omhelsing, byvoorbeeld waar Jakob en Esau versoen raak en mekaar huilend omhels (Genesis 33:4), of Josef sy broer Benjamin (Genesis 45:14-15) of die wagtende vader en sy verlore seun (Lukas 15:11-32), gebeur daar vier bewegings.

Die eerste beweging is die verlange na versoening, die besef dat uitsluiting myself en die ander arm maak. Dis die besef dat vyandskap en verwydering die menslikheid en lewensvreugde uit beide van ons steel. Dis die pynlike ervaring van eensaamheid en gebrokenheid, wat net heel-gemaak kan word in die terugkeer na en aan-vaarding van die ander. Hierdie eerste beweging is die besef van pyn en verlange en stukkendheid, wat my my gesig na die ander laat draai, my in beweging bring… met die verlange na versoening.

Die tweede beweging in die drama van omhelsing is die oopmaak van die arms, wagtend. Dis die gasvrye uitnodiging tot die ander, kom nader… Daar is iets broos en riskant in om jou arms so oop te hou – dit ontwapen jouself, stel jouself bloot, laat die waarheid aan die lig kom. Die uitnodiging kan verwerp word, die blootstelling van die waarheid en die openheid kan teen jou gebruik word. Daarom beteken die oopmaak van die arms juis nie dat ek die ander gryp en dwing om my te vergewe of my uitnodiging te aanvaar nie… ek wag, ek nooi uit, ek luister en ek verstaan. Ek respekteer die ander se gevoelens, ek skep daarmee juis ruimte vir die ander, sodat dit ’n wedersydse beweging na mekaar toe kan word.

Die derde beweging is dan die omhelsing self, wanneer twee mense hulle arms om mekaar slaan en mekaar vashou. Dis waar mens jouself aflê, prysgee. In dié moment word daar vergiffenis gegee en ontvang, kom daar aanvaarding van mekaar. Dis wanneer beide erken, ons het mekaar nodig, ons is lotsgebonde – ons deel in mekaar se skuld en pyn. In hierdie moment word die verhouding herstel, begin die genesing. Die een wat vergiffenis gee en die een wat vergiffenis ontvang word heel, voller mens. In die omhelsing sit daar ook iets van ’n self-omhelsing – jy leer om ook weer jouself te vergewe en te aanvaar.

En dan kom die vierde beweging, waar ons weer die arms oopmaak en mekaar laat gaan. Versoening beteken nie ’n oorweldigende vashou van mekaar, ’n opgaan in mekaar nie, ’n eenders word nie, maar juis ’n ruimte skep vir mekaar, ruimte vir mekaar se andersheid, ruimte vir mekaar se menslike swakheid, ’n ruimte vir heel word, ’n herstel van die onreg, die skep van nuwe lewensmoontlikhede. Ook dit is net so ’n moeilike beweging as al die ander in hierdie drama. Maar dis nodig om juis ook weer ruimte vir mekaar te skep, of anders gestel, om respek vir mekaar se ruimte te hê.

Dis die paradoks. Vrede-maak is die verloor van jouself, die prysgee van jouself, net om weer ’n ryker, voller self terug te ontvang. Daarom noem die Here Jesus vredemakers geseëndes, kinders van God.

Dit is wel moontlik, want versoening is ’n geskenk 

As vrede-maak so teen ons menslike natuur ingaan, hoe kry ons dit dan reg? Die antwoord is te vind in hoe God Drie-enig is en wat God doen. Die antwoord lê by God se versoeningwerk – in die drama van God se omhelsing van die wêreld: hoe God na ons toe draai; sy arms oopmaak en ons uitnooi tot ‘n omhelsing; die omhelsing van genade en vergiffenis, lewensruimte, vreugde en vrede. Die ou kerkvader Ireneus het al gepraat van God die Vader se omhelsing van die wêreld, met die twee arms van Christus en die Heilige Gees.

Een van die plekke waar dié omhelsing die mooiste beskryf word, is Johannes 20:19-22. Na die dramatiese kruisgebeure die Sondagaand verskyn Jesus aan sy dissipels. Hulle het agter toe deure gesit, beangs oor alles wat gebeur het. In die strate van Jerusalem was daar onrus en geweld, die skare het om bloed geskreeu; hulle het Jesus wreed gekruisig, doodgemaak, begrawe. Nou soek hulle sy volgelinge. Teen dié onvrede in die wêreld is die deure gesluit .

Dan kom Christus skielik binne. Hy lewe. Hy het opgestaan. Hy is hier. En Hy hou sy arms en hande uit – wagtend, uitnodigend. “Vrede vir julle”, sê Hy. Twee keer. Hier is die vrede wat ek vir julle deur my dood en opstanding verwerf het. Hier is die versoening. Dis vir julle, sê Hy met uitgestrekte arms, sodat hulle die spykermerke in sy hande kan sien, die spies-wond in sy sy. Dié vrede wat Hy hier aanbied het ’n baie duur prys gekos. Daarvan getuig die merke, die wonde. Hier, dis vir julle. Die versoening, die vrede met God die Vader, die vergiffenis, die heelmaak, die nuut maak, die lewe, die herstelde verhouding, die ruimte, die sjaloom… hier, dis vir julle, sê Hy vir sy dissipels. Ontvang dit as geskenk. Aanvaar dit. Glo dit. Aanvaar God se omhelsing. Omhels dit.

Maar dan sê Hy ook: gaan deel dit nou uit in die strate van Jerusalem. Gaan uit agter die toe deure, die wêreld in. Gaan bedien die versoening. Gaan leef dit. “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook,” sê Jesus. Dan blaas Hy oor hulle en sê. “Ontvang die Heilige Gees”. Daarmee gee Hy die belofte: wanneer julle uitgaan om my vrede te gaan uitdeel, en dit vra selfprysgawe, sal Ek met my Gees by julle wees, elke dag, oral. Julle sal vrede ervaar. Julle sal leef uit die versoening.

Wie dié uitnodiging tot die omhelsing van God Drie-enig aanvaar, wie in verwondering die vergiffenis en heelmaak van God se omhelsing ervaar, kan gewoon nie anders nie… jy kan nie anders as om binne die arms van God se omhelsing ook ander te omhels nie. Dis wat geseënd wees beteken, wat kind-van-God-wees beteken.

’n Paar riglyne

  • Die werk van vrede-maak beteken ekself raak met ander versoen. Dit kan beteken ek vergewe of ek word vergewe. Of dit kan beteken ek help ander om by mekaar uit te kom en met mekaar te versoen.
  • Versoening is net moontlik as mense met mekaar begin praat, opreg na mekaar begin luister, in mekaar se skoene probeer staan. Dit vra ’n oop-wees vir die ander.
  • Egte versoening is net moontlik as die waarheid uitkom, al maak dit hoe seer. Daarom moet ons mekaar help en veilige ruimtes skep vir die waarheid om aan die lig te kom.
  • Versoening is ook net moontlik as geregtigheid geskied – die reg herstel word. Dit beteken egter nie ’n soort vergelding, ’n tand vir ’n tand nie. Volkome herstel van die onreg wat gepleeg is, is dikwels nie moontlik nie. Versoening vra egter ’n bereidheid, ’n gebaar van omgee, ’n poging om te herstel en heel te maak. Egte berou is meestal genoeg…
  • En natuurlik vra versoening vergiffenis. Om die ander en jouself te kan vergewe. Vergewe beteken nie vergeet nie – dis nie moontlik nie. Dit beteken egter dat jy nie meer met bitterheid onthou nie, nie meer slagoffer van jou herinneringe is nie, dat jou manier van onthou gesond word.
  • Versoening sit in die kern van die kerk se opdrag. Aan elke gelowige is die bediening van die versoening opgedra. Daarom moet dit doelbewus deel van elke gemeente se boodskap en bediening bly. Daarvoor moet gemeentes bid, moet ons vir mekaar in hierdie land bly bid.

Share this post