Geregtigheid om God se liefde te lééf

Wat verwag God van ons? 

Die skrywer van die Matteus-evangelie sou met een woord antwoord: geregtigheid (Grieks dikaiosune). Kom ons kyk hoe Matteus, wat sewe keer daarna verwys (3:15, 5:6, 10, 20; 6:1, 33 en 21:32), geregtigheid verstaan.

Die Ou-Testamentiese verstaan van geregtigheid

Jesus se heel eerste woorde in Matteus handel oor geregtigheid. Volgens Jesus moes Hy deur Johannes gedoop word ten einde alle geregtigheid te vervul (3:15 OAV). Om te verstaan wat Hy hiermee bedoel, is dit nodig om te let op die betekenis van geregtigheid in die Ou Testament.

● In die Ou Testament gaan geregtigheid aan die een kant oor hoe God vir Israel van verdrukking in Egipte bevry en in hulle eie land gevestig het. Aan die ander kant gaan geregtigheid ook oor hoe hulle deur die nakoming van die wet self geregtigheid
moes beoefen.

Anders as wat ons dikwels met geregtigheid verstaan, was dit nie in die Ou Testament ’n sinoniem vir gelykheid nie. Die Here het nie armes en rykes gelyk hanteer nie. Hy het sy reg herstel deur op ’n besondere manier vir die armes – die wees en die weduwee – te sorg. Geregtigheid dui op God se besondere versorging van diegene in nood. Dit vra daarom nie bloot dat ons almal gelyk sal hanteer nie. Of dat van sommige geneem word en aan ander gegee word nie. Geregtigheid het ’n reg-stellende fokus. Dit streef daarna om God se reg in die wêreld te vestig en dit fokus daarop om almal wat nood het in hul volle menswees te herstel.

● Geregtigheid is nie net die versorging van diegene in nood nie. Dit is ook die aanspreek van die omstandighede wat aanleiding gee tot hul nood. Israel het tydens hul oorheersing deur ander die Messias verwag wat hulle sou vrymaak en herstel as God se verbondsgemeenskap (Jesaja 61:1-11). In die Nuwe Testament gaan Jesus as die Messias egter verder. Hy poog nie om Israel net van Romeinse oorheersing te bevry nie, maar sterf om die ganse skepping van die greep van sonde te bevry. Om God se geregtigheid na te streef vereis dus dat die nood van die ganse skepping verlig word en die strukture wat mense van hulle waardigheid stroop, getransformeer word.

Reeds met sy doop het Jesus dit duidelik gemaak dat Hy geregtigheid, soos omskryf in die Ou Testament, sou vestig. Dit sou Hy doen deur sy volk te verlos en die vereistes van die wet na te kom. Hy sou die liefde en genade onderliggend aan die wet, en nie net die reëls en regulasies daarvan nie, aan almal betoon.

Die weg van geregtigheid

Jesus het nie net sy dissipels onderrig oor geregtigheid nie. Hy het dit daadwerklik beoefen deur siekes te genees, armes te voed en onreg aan te spreek. Dié bediening van Jesus was meer as ’n barmhartigheidsbediening. Hy het nie op die armes, uitgeworpenes en siekes gefokus omdat Hy net vir hulle jammer was nie. Sy hulp aan hulle was vir Hom ’n saak van geregtigheid. Siekte en armoede, die uitsluiting van mense en die verwoesting van die aarde is nie volgens God se wil nie. Daarom vra dit nie net van ons barmhartigheid – ’n gevoel van jammerte of besorgdheid daaroor nie. Dit vra van ons ’n strewe na geregtigheid deurdat ons ons verhouding met ander en met die natuur, weer in lyn met God se wil bring.

Geregtigheid in die bergrede

Dit is veral in die bergrede (5:3-7:27), Jesus se eerste toespraak in Matteus, waarin Hy omskryf wat Hy met geregtigheid bedoel.

● Die bergrede word ingelei deur die saligspreke (5:3-12) wat God se guns toesê aan diegene vir wie Hy in hulle nood raakgesien het. Die armes van gees, barmhartiges, vredemakers en die wat treur ontvang die versekering dat God vir hulle sal seën. Hy sou omstandighede radikaal verander. Twee van die saligspreke verwys direk na geregtigheid (5:6, 10). Geregtigheid in die eerste deel van die vierde saligspreek (5:6) – “Geseënd is die wat honger en dors na reg is” – verwys na wat God van ons verlang, terwyl die verwysing in die tweede deel – “want hulle sal versadig word” – na die geregtigheid wat God aan ons skenk verwys. God vra en gee dus geregtigheid. Enersyds moet ons daarna streef en andersyds is die finale realisering van alle geregtigheid te danke aan die genadige werking van God self. In die agste saligspreek is geregtigheid ook dit wat dissipels doen aangesien hulle daarvoor vervolg word. “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is” (5:10). Om God se wil te doen sou nie almal se goedkeuring wegdra nie.

● In 5:20 kondig Jesus die tema van die bergrede aan, naamlik dat die volgelinge van Jesus die geregtigheid van die wetsgeleerdes en die Fariseërs moes oortref. Gegewe dat hulle spesialiste in die nakoming van die wet was, stel Jesus ’n baie hoë standaard. Die daaropvolgende deel beskryf die oortreffende geregtigheid deur dit met die Joodse wetsgeleerdes se uitleg van die wet (5:21-48) en die piëteit (vroomheid) van die Fariseërs (6:1-18) te vergelyk. Waar die wet moord, egbreek en wraakpleging verbied het, spreek Jesus die oortuigings (woede, wellus, wraak, ens.) onderliggend aan die verbode gedrag aan. Vir Jesus is geregtigheid nie alleen iets wat ons doen nie. Dit is ook wie ons is. Die beoefening van oorvloedige geregtigheid vra daarom dat ons innerlik vernuwe moet word. Om die rede moet ons versoening eerder as woede, reinheid eerder as wellus, en die waarheid eerder as bedrog, nastreef.

● Oortreffende geregtigheid moet van harte gedoen word. Daar moet ook verder gegaan word as om net oor geregtigheid te praat. Jesus kritiseer die Fariseërs dan ook oor sowel hulle onvermoë om geregtigheid in die praktyk uit te leef (23:3) as vir die doen daarvan vir uiterlike vertoon (23:5-7, 14). Waar die Fariseërs aalmoese gegee het, en gebid en gevas het om gesien te word (6:1, 2, 5, 16; 23:5, 28), moet dissipels van Jesus dit juis ongesiens doen.

● Oortreffende geregtigheid vra ook om ’n nuwe ingesteldheid in ons alledaagse lewens. Om God se koninkryk, en die geregtigheid wat daarmee saam gaan, te ontvang (6:33), moet ons ons losmaak van kommer oor aardse skatte (6:19-21) of selfs oor noodsaaklikhede soos kos en klere (6:25-34). Wie op God se versorging vertrou is vry om God se koninkryk en die geregtigheid wat dit kenmerk na te streef. Hulle is vry om hul deelname aan die ekonomie, en die benutting van die aarde se natuurlike hulpbronne, nie deur ’n begeerte na meer of ’n kommer oor gebrek, te laat bepaal nie. Ons kan danksy God se sorg ons lewens rig deur reg aan almal te laat geskied deur die wyse waarop ons leef. Ook die geslagte wat na ons kom.

’n Lewe van geregtigheid

Geregtigheid kan nie los van liefde beoefen word nie. Om geregtigheid te betoon is nie bloot die rigiede toepassing van reëls nie. So onderstreep Jesus die wet deur die liefdesgebod (22:34-40), eerder as om net nóg regulasies te gee. Josef word ook as ’n regverdige man beskryf (1:19) omdat hy ’n middeweg tussen sy liefde vir Maria en die vereiste van die wet probeer vind het toe hy van haar swangerskap verneem het. ’n Lewe van geregtigheid vra dus dat ons onsself sal afvra of ons woorde en dade getuig van:

God se liefde vir almal – ook komende geslagte?

God se versorging van alles – die ganse skepping en nie net van myself nie?

God se bevryding en herstel van spesifiek die gemarginaliseerdes (uitgeskuifde mense) in die wêreld?

’n Innerlike oortuiging eerder as ’n soeke na ander se guns?

Om só te leef is om die weg van geregtigheid te bewandel.

Marius Nel 

Share this post