Gemeente-uitreike

Korttermynuitreike is ’n belangrike deel van sendingprojekte. Dit dra nie alleen by tot die volhoubaarheid van die projek nie, maar is vir die spanlede ’n geleentheid om deel van God se sending te wees en te ervaar hoedat lewens verander word. Dit is ongelukkig ook ’n plek waar baie foute as gevolg van onkundigheid gemaak word. Hierdie pamflet wil help om foute te voorkom en die beste te maak van die geleentheid.

Hoekom uitreik?

Op die voorblad van Charles Elliott se boek, Comfortable Compassion?, is daar ’n man wat gemaklik in sy leunstoel voor die televisie sit en kyk na beelde van die destydse hongersnood in Ethiopië.

Hierdie prentjie beklemtoon die groot afstand wat dikwels bestaan tussen gelowiges wat deur die geestelike en fisiese nood van die wêreld aangespreek word, en die mense wat in hierdie nood lewe. Te veel keer is die prentjie van die man in die leunstoel ook die prentjie van ons eie betrokkenheid.
Om vanuit die gemaklikheid van ons vergadersale, kerke en sitkamers na beelde en verslae te kyk, en dan vir mense te bid of geld te stuur, is ’n verarming van ons roeping. Die Here het vir ons veel meer in gedagte as leunstoel-uitreike.

Persoonlike kontak en verhoudings is die sleutel tot ons uitreikprojekte

Besoeke en korttermynuitreike is absoluut noodsaaklik. Slegs deur persoonlike kontak word verhoudings gebou en word albei partye deur die Here verander. Uitreik is nie ’n eenrigting aktiwiteit nie. Soveel van die getuienisse wat ons hoor, vertel van mense wie se lewe verander is toe hulle persoonlik betrokke geraak het by mense in geestelike en fisiese nood.
Korttermynuitreike en besoeke aan projekte is ’n inspirasie vir dié wat op besoek gaan en vir dié wat hulle ontvang. Dit is ook nie net uitreike na die ver plekke wat mense verander nie. Uitreike in ons eie omgewing bied net so ’n geleentheid om nie net leunstoel-uitreikers te wees nie, maar om verhoudings met mense te bou. Ons het die geleentheid om vir mense met name en gesigte te bid binne situasies waarvoor ons so ’n bietjie meer begrip het. Ons het ook die geleentheid om agter te kom hoeveel ons ook kan ontvang as ons ons onsself so ’n bietjie blootstel.

Eintlik is dit baie eenvoudig. Toe God sien dat die wêreld in nood is, het Hy nie vanuit die hoogte van sy troon sake oor ’n afstand reggestel nie. Hy het self die stofpaaie van Palestina kom loop. Dit is die voorbeeld wat ons wil volg. As ons dit doen, is dit asof die uitreik ons oë oopmaak vir die heerlike ontdekking dat die lewende God steeds aan die werk is in die wêreld. Hierdie ontdekking inspireer ons en is vir baie ’n lewensveranderende ervaring.

Plaaslik en buiteland

Daar is soveel plaaslike nood – hoekom moet ons dan nog na die buiteland uitreik?

  • Handelinge 1:8 verduidelik dit mooi dat die evangelie plaaslik, maar ook tot aan die eindes van die aarde verkondig moet word. Die plaaslike nood mag nooit geïgnoreer word nie. Gelowiges het verskeie geleenthede tot plaaslike uitreike. In vergelyking met die beskikbaarheid van die evangelie, is die nood in die min bereikte gebiede van die wêreld baie groot. As ons nie daar betrokke raak nie, wie sal dan?
  • Hierdie uitreike is gewoonlik duurder, maar dit is moeilik om ’n geldperk te plaas op geleenthede om die goeie nuus van die evangelie aan onbereiktes te bring. Die kritiek op buitelandse uitreike is dikwels onbillik. Die Here lê die nood van onbereiktes op mense se harte. Dit is onbillik om buitelandse uitreike te kritiseer as jy nie self plaaslik aktief betrokke is nie.

Gaan op uitnodiging

  • Korttermynuitreike geskied op uitnodiging van die kerk of gemeenskap waarheen uitgereik word.
  • Goeie voorafgesprekke is nodig; dit kan lei tot ’n uitnodiging vanaf die plaaslike kerk en nie net vanaf die sendeling of werker nie. Indien daar nie enige bestaande verhoudings is nie, regverdig dit ’n voorafbesoek deur die leierskap.
  • Hierdie uitnodiging moet verkieslik op skrif wees en verduidelik wat die verwagtinge van plaaslike kerk en personeel is.
  • Hierdie verwagtinge maak deel uit van die doel van die uitreik soos deur die uitreikleierskap vasgestel en deur die gemeente goedgekeur.
  • Vooraf word ooreengekom met die gasheer-gemeente: Wat gaan die span doen? Huis-vesting? Kos en vervoer? Die kostes daaraan verbonde en wie daarvoor verantwoordelikheid neem? Die maksimum en minimum grootte van die span?

Doel van uitreik

Benewens baie spesifieke behoeftes, behoort die volgende as doel van ’n uitreik te dien:

  • Om die kerk en uitreikpersoneel na wie ons uitreik te dien en te ondersteun in hulle langtermynwerk.
  • Om die gelowiges en leiers daar te bemoedig.
  • Om by te dra tot die uitbreiding van die evangelie.
  • Om uitreiklede bloot te stel aan die geestelike en fisiese nood en te mobiliseer tot langtermyn betrokkenheid by uitreike.
  • Om die sturende gemeente bewus te maak van die langtermynaksie waarby die gemeente betrokke is en aan die geleenthede om daarby betrokke te raak.
  • Ons gaan om te dien en te leer.
  • Wees realisties oor verwagtinge van mekaar en van die uitreik.

Uitreikleiers

  • Die uitreikleierspan word deur die sturende gemeente se leierskap aangewys. Dit bestaan uit minstens ’n spanleier, ’n geestelike leier en ’n logistieke / administratiewe leier.
  • Hulle neem verantwoordelikheid vir die uitreik, insluitende die finalisering van die program, samestelling van die span en ’n strategie vir werwing van lede.
  • Doen navorsing oor ander moontlike organi-sasies en kerke wat daar werk en moontlike vennootskappe vir die uitreik.
  • Doen navorsing oor die plaaslike omstandighede, mense, kultuur, ensovoorts.
  • Goeie finansiële beplanning en bestuur is noodsaaklik. Uitreike is ’n groot uitgawe en kry dikwels kritiek hieroor.

Samestelling van die span

  • Die samestelling en grootte van die groep word bepaal deur die doel van die uitreik en die omstandighede van die ontvangers / plaaslike kerk.
  • Voornemende uitreikers moet aansoek doen en gekeur word. Uitreike is nie ’n plek om emosionele wonde te heel nie. Vereistes rondom fisiese uitdagings moet in ag geneem word.

Voorbereiding van die span

  • Bywoning van voorbereidingsessies is ’n voorwaarde.
  • Fisiese, emosionele en geestelike voorbereiding is nodig.
  • Gee toepaslike opleiding en praktiese vaardig-hede wat volgens die beplande aktiwiteite nodig kan wees.
  • Voorbereiding ten opsigte van die kultuur en agtergrond van die gemeenskap waarheen uitgereik word.
  • Praktiese riglyne oor watter klere om saam te vat.
  • Vrywaringsvorms en mediese versekering is nodig.
  • Gebedsondersteuners speel ’n belangrike rol.
  • Fondsinsamelings dien ook as bewusmaking vir die projek.
  • ’n Uitstuurgeleentheid in die kerk maak die gemeente betrokke.

Die ontvangende kerk en personeel

  • Uitreike plaas druk op die ontvangende sendelingpersoneel en kerk. Hulle het die rol om ’n groep gaste te ontvang en te begelei in hulle program. Hulle is dikwels baie moeg na so ’n uitreik. Aan die ander kant bring die besoek daar vir hulle ook baie seën en hulp in hulle werk. Hulle voel versterk, omdat die span soveel moeite doen om hulle te besoek. Die uitreikspan word ook later ambassadeurs van die projek. Daarom is uitreike nie ’n lastigheid vir die plaaslike sendelinge nie, maar ’n belangrike deel van hulle werk.
  • By uitreike oor kultuurgrense is dit veral vir die leiers geweldig belangrik om kultureel-sensitief te wees. Dit verg respek vir die plaaslike kultuur, nederigheid en wysheid. Goeie voorbereiding deur kenners en gedurige selfondersoek is noodsaaklik.
  • Benewens uiterlike kulturele gebruike en taboes, is dit veral in onderhandelinge, besluitneming en verwagtinge waar kulturele verskille struikelblokke vir die leierskap kan word.
  • Gaan om te dien op hulle terme. Verhoudinge is meer belangrik as “wat ons vandag gaan doen”.
  • Konsentreer daarop om te luister en nie te gou te praat nie.

Materiële kloof en verwagtinge

  • Verstaan hoe geskenke en geld verhoudings kan beïnvloed. Uitreikers word gesien as vermoënd en ’n moontlike bron van geld of geskenke. Dit beïnvloed verhoudings.
  • Finansies is waarskynlik die enkele grootste faktor wat spanning kan bring tussen die uitreikspan en die plaaslike gemeente.
  • Wees baie versigtig vir beloftes van hulp en vir geskenke of kollektes onder die span vir plaaslike werkers.
  • Die eienaarskap van projekte, geboue en toerusting moet van die begin af duidelik ooreengekom word.

Praktiese werk

  • Taal kan ’n struikelblok wees en daarom is goeie tolke in sulke gevalle ’n voorvereiste.
  • Werk saam met plaaslike gelowiges.
  • Eet saam – dit is deel van die verhoudingsbou.
  • Wees bedag op wat besoekers kan siek maak – bv. ongekookte water.
  • Respekteer die plaaslike standpunte oor die gebruik van alkohol.
  • Maak seker oor kleredrag en gedrag wat dalk vir die plaaslike gemeenskap sosiaal onaanvaarbaar is.
  • Aanleer van woorde en frases in die inheemse taal is ’n getuienis dat die plaaslike mense en hulle kultuur na waarde geag word. Jy kom om hulle te dien – nie om vir hulle te vertel hoe sleg hulle is nie.
  • Bly, afhangende van die plaaslike omstan-dighede, by die gemeenskap en nie net in ’n hotel, gastehuis of by die sendeling nie. Skep geleentheid om by tye as span te kan onttrek.
  • Moenie die program so vol maak dat daar nie genoeg tyd is vir die eie geestelike program en begeleiding van die uitreikspan nie.
  • Beplanning vir goeie opvolgwerk is baie belangrik as die span evangelisasiewerk doen. God werk en kan wonders doen. Maar Hy wil ook hê ons moet ons verstand gebruik. ’n Bybel of pamflet wat uitgedeel word of Jesus-film wat vertoon word, kan deur God gebruik word, maar ’n tref-en-trap-benadering sonder opvolgplanne, is nie effektief nie .
  • Fokus op menseverhoudinge – eerder as bouprojekte – veral as die span nie vakkundiges is nie. Daar is dikwels goeie plaaslike vakmanne.
  • Respekteer die plaaslike tradisionele, politieke en administratiewe leierskap.
  • Geeste, demone en toordery, drome, geluk-bringers of getalle speel dikwels’ n groot rol in sekere gemeenskappe.
  • Wees bedag dat jou “dapper” of konfron-terende optrede nie die mense van ander gelowe in die omgewing so ontstel, dat die plaaslike gelowiges en blywende sendelinge wat agterbly dit dan moet ontgeld nie.

Na die uitreik

  • Wees sensitief vir die terugkeer na die “werklikheid” na die intensiewe geestelike ervarings van die uitreik. Dit is nodig om ’n ontlontingstyd aan die einde van die uitreik in te bou. Verkieslik nie op dieselfde plek nie.
  • Gee goeie terugvoer aan die gemeente en ondersteuners – nie oor die moeilike rit en ontberings nie, maar oor God wat in en deur die span gewerk het.
  • Behou kontak. Danksy veral selfone kan kontak dikwels behou word en verhoudings verder versterk word met die plaaslike gelowiges

Dr Danie Möller
Helderberg

Share this post