Geloof en wetenskap die groot misverstand

Ons wêreldbeeld 

Die meeste mense wat in vandag se wêreld leef, kyk met ander oë na hierdie wêreld as die manier waarop hulle voorouers miskien daarna gekyk het. Vandag se mense het ’n ander wêreldbeeld as die van vorige geslagte.

Sonder dat ons dit altyd weet, word die manier waarop ons na die wêreld kyk, deur die wetenskap beïnvloed. Dis veral die natuurwetenskappe wat ons op skool leer wat ons wêreldbeeld help vorm. Al die vakke dra egter daartoe by – die wiskunde, die chemie, fisika, aardrykskunde en selfs ook letterkunde of geskiedenis. Die manier waarop onderwysers die kennis aan ons oorgedra het, dra ook baie by tot ons wêreldbeeld.

Ons het geleer dat dit ’n fout is om getals-wette te oortree; dat 2+2 nie 5 is nie, maar 4 en dat voorwerpe op die grond kan val omdat daar ’n wet van swaartekrag is. Ons het geleer dat hierdie swaartekrag ’n baie groot rol speel in hoe ons aarde, die maan, son en triljoene sterre in die heelal in hulle bane bly beweeg. Ons praat van die son wat op- en ondergaan, maar ons weet dat dit eintlik die aarde is wat om die son draai. Ons het geleer dat die môrester wat so helder skyn, eintlik die planeet Venus is wat die lig van die son na ons toe reflekteer. En ons leer dat die planeet aarde en die hemelruim wat ons sien, sommer baie miljoene, selfs biljoene jare oud is.

Dit is ook nie meer ’n vreemde gedagte dat die mens nie altyd was soos hulle nou daar uitsien nie. Oor evolusie leer kinders reeds op skool. Ons besef ook dat alles wat ons kan sien en voel uit ’n onberekenbare getal atome bestaan. Ons weet dat al hierdie dinge gereël word deur natuurwette wat nie verbreek kan word nie.

Natuurlik leef ons nie aldag en dink heeldag aan die kennis wat ons opgedoen het nie, maar diep in ons skep dié kennis ’n lewenshouding, ’n moderne gevoel waarmee ons die wêreld rondom ons benader. Dit maak ons opgewonde om van al dié dinge te leer, en daarvan deel
te wees.

Spanning tussen geloof en wetenskap  

Nou kom ek in katkisasie, in die kerk, by huisgodsdiens of in gesprekke met ander gelowiges in aanraking met ’n ander wêreld: die wêreld van die geloof. Dié wêreld van die geloof lyk dikwels so anders as ons moderne wêreldbeeld. Natuurlik hang dit baie af van hoe die geloof aan my oorgedra word, maar dit kan maak dat ek probleme in my gemoed ervaar. Die manier wat van my verwag word om te glo, kom in botsing met die manier hoe ek na die wêreld kyk. Dit gebeur veral wanneer my ouers, die kerk, die leraar of geestelike leier ’n soort Bybelgeloof het wat duidelik nie inpas
in wêreldbeeld wat oor die jare by my gegroei het nie.

Moet ek nou my geloof laat vaar? 

Die merkwaardige is nou dat ek nie skielik begin twyfel aan die dinge wat in my skooljare en miskien ook op universiteit aan my voorgehou is nie. Dit was tog wetenskap wat deur baie slim mense beoefen en vir my geleer is. Die bewyse van die wetenskap is ook net te sterk om sommer eenkant gegooi te word!
Dikwels is dit dan my geloof wat in die slag bly, veral my Bybelgeloof. Ek kan mos nie regtig glo dat die aarde net ’n paar duisend jaar oud is en dat alles gemaak is presies net soos Genesis 1 ons vertel nie! Moet ek regtig glo dat daar sedert die skepping geen ontwikkeling of evolusie was nie? Of moet ek glo dat mense net so gebly het as toe hulle aan die begin geskep is?

Beteken dit alles dat ek my Bybelgeloof en daarmee my geloof as geheel, my geloof in God en Christus en alles wat met hierdie geloof saamhang, moet prysgee? Ongelukkig is dit wat met baie mense gebeur.

Die groot misverstand

Die eenvoudige antwoord is: Nee. Iewers is daar ’n misverstand. Hierdie misverstand het te doen met ’n verkeerde verstaan van die Bybel en die Bybel se boodskap. Dit het te doen met ’n Bybelgeloof waarin geglo word dat die Bybel die totale antwoord op al ons vrae is, dat die Bybel nie net ons geloofsvrae beantwoord nie, maar ook die handboek is om alle vrae te beantwoord, ook die vrae wat in die wetenskap gestel word.
Dit het ook te doen met hoe ons die Bybel lees, byvoorbeeld dat die skeppingsverhaal van Genesis letterlik as ’n wetenskaplike beskrywing gelees moet word, en nie eerder as ’n gedig, as ’n loflied oor God se grootheid as Skepper en die wonder van sy handewerk nie!

Hierdie misverstand oor die Bybel kom van ver af en het al baie droefheid veroorsaak.

Die bekendste voorbeeld vind ons reeds in die 16de eeu. Toe het Galileo Galilei, wat dikwels as die vader van die sterrekunde en die Westerse wetenskap gesien word, met behulp van ’n teleskoop beweer dat die aarde om die son draai. Hy het ook gesê dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie en dat meer as een sonnestelsel bestaan. Die Rooms-Katolieke Kerk van sy tyd het hom aan kettery skuldig bevind en onder huisarres geplaas. Eers in 1992 het Pous Paulus II erken dat die kerk verkeerd was.

In Galileo se tyd is sy beskouinge verkeerdelik teen die Bybel gemeet en as ketters verklaar. Dieselfde vind ons vandag nog. Miskien nie so openlik en amptelik soos in die tyd van Galileo nie, maar tog word baie lidmate blootgestel aan ’n tipe prediking en geloofsonderrig wat hulle op ’n intellektuele vlak ongemaklik maak, selfs laat twyfel aan die Christelike geloof. Mense kan dan aanstoot neem aan wat hulle in die kerk beleef en geleer word en die kerk dan verlaat.

Gelukkig is daar ook oral duidelike tekens dat in die kerk die gevaar ingesien word om die Bybel te gebruik waarvoor die nie bedoel is nie. By baie kerke en gemeentes kom dit duidelik na vore dat die Bybel nie bedoel is as ’n handboek om alle vrae, insluitende dié van die wetenskap, op te los nie, maar om die evangelie van God se reddende genade in Jesus Christus te verkondig.

Dit bring ons ook by die ander kant van die misverstand, dat die kerk nie verander nie en halsstarrig bly vashou aan ou, uitgediende gedagtes met ’n beroep op die Bybel.
Mense wat hulleself as intellektueles beskou skryf dikwels die kerk en die geloof af, terwyl hulle onbewus is daarvan dat in die kerk juis met hierdie dinge geworstel word.

Dikwels het ons te doen met wetenskaplikes wat in die waan verkeer dat hulle min of meer alles weet of nog gaan weet oor die gebiede waar hulle die wetenskap beoefen. Die vrae waarop hulle nie antwoorde kan gee nie, ignoreer hulle eenvoudig. Dit is die dieper vrae soos: waarvandaan kom hierdie dinge wat ek ondersoek? Hoekom is daar in elk geval iets wat ek kan ondersoek en is daar nie niks nie? Waarheen is alles op weg?

Hierdie vrae is almal vrae wat slegs in die geloof geantwoord kan word.

Geloof en wetenskap staan nie teenoor mekaar nie. So ’n gedagte is van beide kante ’n misverstand.

Mens kan ’n gelowige wees en tegelyk ook wetenskaplike 

Gelukkig is daar baie mense wat in die wetenskaplike wêreld werk, wat nie onder hierdie misverstand verkeer nie, net soos daar baie gelowiges is wat nie die wetenskap met suspisie bejeën en kragteloos wil maak deur ’n verkeerde gebruik van die Bybel nie. Hierdie wetenskaplikes en Bybelgelowiges erken dat ons nie al die antwoorde het nie. Uiteindelik kom ons almal te staan voor ’n grote, geheimenisvolle God, wat ons verstand heeltemal te bowe gaan, maar wat tog sy liefde vir ons deur sy Seun en sy Gees kom bekendmaak – ’n God voor wie ons net maar in verwondering kan buig!

Dit is die rede waarom daar talle natuurwetenskaplikes is, selfs wêreldberoemdes, wat leef uit die geloof in die God van die Bybel. Ons kan baie voorbeelde van sulke Christusbelydende wetenskaplikes deur die eeue heen noem. Daar is Blaise Pascal van die 17de eeu, seker een van die grootste wiskundiges van alle tye, en in ons eie tyd iemand soos Francis Collins, die leier van die genoomprojek oor die boustowwe van die menslike liggaam.

Jaap Durand

(Sien ook Durand JJF, Godsgeheim, die verhaal van wetenskap en mistieke geloof, Bybelmedia)

Share this post