Geld-slim met ʼn begroting

“Ek het die ‘jackpot’ geslaan”, roep John uit. “R480 000!” Tot sy verbasing het nie net sy geld oornag baie geword nie, maar sy vriende ook (Spreuke 14:20; 19:4 en 6). Dit het John belangrik laat voel. Hy het sy werk gelos, sy waardes verloor en alles begin koop wat sy oë sien en sy hart begeer. Hy het skaars die rykdom gesmaak of dit was weg; dit het vlerke gekry en die lug in gevlieg soos ’n arend (Spreuke 23:4-5). Ai, as John maar onthou het dat kennis belangriker is as besittings (Spreuke 3:13-15). Of die woorde van Spreuke 13:11: Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk. Hy het ook Spreuke 28:20 vergeet: ’n Betroubare man is baie voorspoedig; een wat gou ryk wil word, sal sy straf kry.

Die rede hoekom John se rykdom wat net so vinnig verdwyn as wat dit gekom het, is: John het nie geleer hoe om die geld wat hy maandeliks verdien het, verantwoordelik te bestuur nie. Toe hy oornag baie geld kry, het hy nie die kennis óf die vaardigheid gehad hoe om dit reg te gebruik nie.

Hou op droom oor wat jy alles gaan koop as jy miskien eendag baie geld kry. Gebruik liewer jou tyd en krag om nóú te leer hoe om die bietjie geld wat jy vandag reeds kry, reg te gebruik. As jy dit regkry, sal jou geld stadig maar seker meer word (Spreuke 13:11).

Die eerste en belangrikste ding wat jy moet doen, is om vooruit te dink en te beplan wat jy elke maand met jou geld gaan doen. Hierdie vooruitbeplanning word ’n begroting genoem. Hoe doen jy dit?

Stap 1:                  Maak ’n lys van al die goed waarop jy dink jy geld spandeer. Om jou te help is daar ’n lys  aan die einde van hierdie pamflet. Kan jy aan nog iets anders dink?

Stap 2:                  Meet om te weet! Skryf vir drie maande neer wat jy met AL jou geld maak. Jy moet dit dadelik  doen sodra jy iets koop, anders gaan jy vergeet. Gebruik die lys hier onder. Meeste van jou  uitgawes sal onder een van die sake inpas.

Stap 3:                  Leer hoe om die “calculator” op jou selfoon te gebruik om bedrae op te tel, af te trek, te maal en te deel. As jy nie weet hoe om dit te doen nie, vra iemand om jou te leer.

Stap 4:                  Tel al die bedrae onder elke uitgawe bymekaar en deel die totaal deur drie (dis die aantal maande wat jy alles neergeskryf het). Nou weet jy hoeveel jy gemiddeld elke maand op kos, klere of vervoer spandeer het. Jy weet nou wat jy met jou geld gedoen het.

Stap 5:                  Kyk mooi hoeveel jy op wat spandeer het. Hou jy van wat jy sien? Het jy die meeste geld op die belangrikste dinge spandeer of het jy geld gemors (bv. op rookgoed en drank)? Dink jy jy kan   jou geld beter spandeer? 

Stap 6:                  Hou in gedagte hoeveel geld jy gemiddeld oor die drie maande by elke item op jou lys spandeer het. Besluit hoeveel geld jy onder elke item WIL spandeer.  Skryf die bedrae neer. Jy is mos geld se baas! Geld is nie jou baas nie.

Stap 7:                  Tel al die bedrae bymekaar en maak seker dat die totaal nie meer is as wat jy elke maand verdien nie. Indien dit meer is, moet jy op ’n paar plekke die bedrae effens kleiner maak totdat  jou totaal minder is as jou inkomste. Moenie probeer om op een plek niks te spandeer nie. Dit werk gewoonlik nie.

Stap 8:                  Kyk hoe haalbaar jou begroting is. As jy byvoorbeeld R1000 vir kos begroot het, moet jy die                                     R1000 eers deur die aantal mense in jou gesin deel. Daarna deur die aantal dae per maand. As dit                                     6 mense is, lyk jou som só: R1000 gedeel deur 6 mense is R166.66 per persoon per maand. Gedeel                                   deur 30 dae per maand is dit R5.55 per persoon per dag. Gedeel deur drie etes per dag is R1.85 per                                   ete. Dit beteken dan dat daar vir elke persoon R5.55 per dag of R1.85 per ete vir kos beskikbaar is.                                   Dan is die vraag: Kan jy iemand gesond en gebalanseerd laat eet met R5.55 per dag? Doen                                                 dieselfde met dinge soos klere, ensovoorts.

Stap 9:                  Jy het nou jou uitgawes beplan volgens jou inkomste. Baie geluk met jou begroting. Dis die eerste stap tot finansiële vryheid en voorspoed. Nou moet jy voortgaan om  op te skryf elke keer as jy iets koop. Bly binne jou begroting. Moenie meer geld aan iets  spandeer as wat jou begroting toelaat nie. Indien dit wel gebeur, moet jy besluit op watter ander item jy minder gaan spandeer as wat jou begroting toelaat sodat jou totale uitgawes steeds minder as jou inkomste is.

Stap 10:                Pas jou begroting gereeld aan. As jy na ’n paar maande sien dat jy elke maand op ’n sekere saak meer as jou begroting spandeer, pas jou begroting aan. Maak die bedrag vir die spesifieke item groter. Maak dan ander items met dieselfde bedrag kleiner. Jy moet ook jou begroting aanpas wanneer jou omstandighede verander (bv. kinders word gebore of gaan uit die huis uit; jy kry ’n verhoging; julle verhuis, ensovoorts).

Stap 11:                Dink aan die voordele van ’n begroting. Moenie ophou om volgens ’n begroting te werk nie. Dit help om vooraf te besluit wat jy met jou geld gaan doen. Dit help jou met finansiële  dissipline. Dit help man en vrou om eerlik met mekaar te wees en aan mekaar verantwoording te doen. Mense wat nie met begrotings werk nie, spandeer gewoonlik op die ingewing van die oomblik geld op goed wat lekker is, maar nie nodig nie. Hulle mors baie geld. Aan die einde van die maand kan hulle nie verslag doen oor wat hulle met al hul geld gemaak het nie. As jy verslag kan doen van wat jy elke maand met al jou geld doen, kan dit jou ook help in gesprekke waar lone  onderhandel word. Bespreek jou begroting (inkomste en uitgawes) met jou werkgewer.

Ek het grootgeword in ’n huis waar daar baie botteltjies geld in die gangkas gestaan het. Pappa en Mamma het vooraf besluit hoeveel geld hulle op wat kan spandeer. Dan het hulle getrou elke maand die regte bedrag in elke botteltjie gebêre. Kom ons gebruik denkbeeldig vyf bottels. Maak seker dat jy geld in al vyf bottels sit. Die meeste mense het geen finansiële dissipline nie en spandeer elke maand al hulle geld. Die eerste vier bottels bly leeg en hulle bly arm.

Dankoffer (Eerste bottel)

Dankoffer vir jou kerk en die uitbreiding van God se Koninkryk Matteus 6:33; Matteus 22:21 en 3 Johannes:5-8

Offergawes (Tweede bottel)

Hulp aan familie en vriende, asook ander behoeftige mense Handelinge 20:35; Efesiërs 4:28; 2 Korintiërs 9:1-15

Spaar (Derde bottel)

  • Spaar (algemeen en/of vir iets spesifiek wat jy wil koop of doen)
  • Voorsorgfonds bydrae (of enige ander voorsiening vir jou oudag)
  • Voorsiening vir verdere opleiding van kinders (gratis onderwys eindig by graad 9)
  • Opleiding en onderrig vir jouself (om ’n bestuurderslisensie te kry of ’n kursus te doen) Spreuke 6:6-9 en 31:10-31; Prediker 11:2

Belê (Vierde bottel)

Belê geld in dinge wat in getalle of in waarde toeneem of wat rente verdien Spreuke 13:22 en 31:16; Matteus 25:26

Spandeer (Vyfde bottel) 1 Timoteus 5:3-8

  • Kos en gebruiksgoedere (om gesond en  gebalanseerd te eet, skoonmaakmiddels, toiletpapier …)
  • Klere en skoene vir die hele gesin
  • Skool (skoolklere, skoolgeld, koshuisgeld, sport …)
  • Huishoudelike items (meubels, komberse …)
  • Elektrisiteit (vuurmaakhout, gas, kole, paraffien, kerse)
  • Kommunikasie (sel- of telefone / posgeld)
  • Mediese uitgawes  (dokters, besoeke aan kliniek en hospitaalbesoeke, medisyne)
  • Vervoer (brandstof en motoronderhoud, of geld vir ’n taxi)
  • Familie-aangeleenthede (troues en begrafnisse, asook reiskoste daarheen en bydraes daarvoor)
  • Sport, ontspanning en vryetydsbesteding (TV-lisensie, fiets, sporttoerusting en -klere, vervoer …)
  • Alkoholiese drank (bier, wyn, selfgemaakte bier)
  • Rookgoed  (sigarette, tabak en/of ander dwelms)
  • Skuld (alle tipes en soorte skuld, bv. op meubels, klere)
  • Verlof en vakansie (selfs al gaan jy net by familie wat ver woon kuier)
  • Behuising (instandhouding van alles in en om die huis, asook voorsiening vir die tyd na aftrede)
  • Boeke, geskenke (tydskrifte, speelgoed vir kinders)
  • Ander uitgawes waaraan jy nie gedink het nie. 

Die meeste mense weet nie hoeveel geld hulle op rook en drank mors nie. Jy moet meet om te weet.  Rook en drank hou mense in armoede gevange en benadeel hulle gesondheid. Lees wat sê die Woord van die Here in Spreuke 23:19-21 en 23:29-35. Kry hulp en kom vry!

Share this post