Gebede wat raak

’n Oggendgebed

Dankie, wonderlike Vader, dat ek my oë met die breek van hierdie nuwe dag kan oopmaak. Dankie dat die son se strale, die koms van die lig ná die nagdonker, U getrouheid weerspieel. Dankie dat U genade my vanoggend inwag – vars; dat daar geen einde is aan U ontferming nie, dit is elke môre nuut! So nodig soos wat die aarde die son se energie het, so nodig het ek U aandag – om te kan gedy, om met oorgawe te kan lewe. Ek wil hierdie dag benut. Ek wil elke stukkie skoonheid in hom waardeer, elke kans tot groei aangryp, elke geleentheid om te dien raaksien. Daarom, Here, Alsiende, wyse Gees, maak my oë oop: vir moontlikhede en vir mense. Help my om dieper te kyk as bloot die oppervlak. Help my om regtig te síén – wat saakmaak, wat heelmaak; die dinge waarop dit werklik aankom. Maar méér nog as dit: maak my oë oop vir U. As ek U kan sien in hierdie dag, sal dit ’n goeie dag wees …

’n Aandgebed 

Ek is moeg tot in my murg, Here. Hierdie dag het my getap! Soveel aansprake. Soveel opdragte. Soveel mense en dinge en verantwoordelikhede wat elke greintjie energie uit my gesuig het. Soveel wat ek nog wou doen, maar nie by kon uitkom nie. Dit los my met ’n gevoel van kommer en onvoltooidheid. En tog, saam met die moeg en ten spyte van die harwar in my kop, het ek vanaand ook ’n gevoel van tevredenheid – oor alles wat ek wel vandag kon doen en kon regkry; en oor U van alles bewus was. Ek wil vanaand met U deur die dag se tuin stap en oor al die kennis van goed en kwaad praat. Ek wil gemeensaam sommer net met U op ’n klip gaan sit in stilte en juis nie praat nie, net saamwees. Ek wil gaan lê en die kombers van U sorg vaster om my trek en my oë toemaak in die wete: U sluimer of slaap nie; U waak, U beskerm en U verkwik telkens weer my siel. Sien ek ’n nuwe skepping stuk vir stuk ontkiem en Son toe beur.

’n Gebed met belydenis van sonde en ontvang van genade 

Here God, toe U geskep het in die begin was alles goed, baie goed. Hoe moes dit nie gewees het nie? Alles, álles oral góéd! Ons kan ons dit nie meer indink nie. Ons het te veel daarvan verloor. Die wete, die werklikheid, selfs die droom daarvan – in ons verhoudings met mekaar, in ons omgaan met die aarde, selfs ook in ons bewussyn van U. Ons kennis van kwaad het ons kennis van goed te ingrypend, met te veel skade geïnfiltreer. Deesdae voel dit my of ek toenemend, soos Jesaja toe hy voor U heilige, allesoorheersende goedheid te staan kom, wil uitroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Want ek is ’n sondige mens tussen ander sondige mense. En tog het ek die Koning, die Here die Almagtige gesien!” En tog … En tog … Ten spyte van die on-goedheid, die on-Godheid in my en oral om my, sien ek U – sien ek hoe U, God van Golgota, God van die leë graf, God van grenslose genade, oor ons buk, in ons menslikheid insak, om die kwaad wat in ons dieptes posgevat het te kom ontwortel. Sien ek hoe my hartgrond sag word waar U hand weer die saad van goedheid in my plant. Sien ek die klein groen spriete van genade in myself en in my medemens opstaan. En dit is goed. Dankie, Here! Dit is baie goed!

’n Gebed van toewyding

Here Jesus, sal ek soos Marta vir U kosmaak of soos Maria U voete salf? Sal ek soos Petrus alles los en agter U aangaan of soos Paulus U mense as my eie omhels? Sal ek soos Dawid vir U sing of soos Abraham my hartwens vir U offer? Sal enige van hierdie dinge vir U ’n genoegsame teken wees van my toewyding aan U? Of sal U, wat alles weet, van die begin af dwarsdeur my ook kyk soos deur hulle? Sien hoe ek twyfel by my broer se graf, huil as U nie betyds opdaag nie, U verloën as ek bang is, wegdraai van my vriend as ek van hom verskil, myself bevoordeel ten koste van my mede-mens en afdraaipaaie vat as my geloof min raak? God van ondeurgrondelike goedheid, U het my lief. En ek is vir U ook lief – dalk juis omdat ek weet, uit al die Bybelkarakters se ervaring, dat U toewyding aan ons deur alles en enigiets standhou; dat U Uself so heelhartig aan ons verbind, Uself aan ons vasknoop met ’n ewige, onverganklike liefde; dat U getrou bly, al is ons soms ontrou. Here Jesus: U wat by ons tuiskom, wat ons verdedig teen ander se oordeel, wat ons hand gryp as ons begin sink; U wat ons voorstaan wanneer ons op die oorlogspad is en ons lewens, genadiglik, omskep tot iets wat ons naastes verryk; U wat ons, met goedheid en guns, deur al ons dae herder en wat God se beloftes oor eeue en geslagte heen wáár maak – dit is wonderlik om aan U te behoort! Ek sit my hand opnuut in U s’n. Met al die vertroue en toewyding wat menslik moontlik is.

’n Lofgebed

Soos ’n skoenlapper wat fl adder van blom tot blom, so kom ek vlietend raak aan al U wonderlikhede: U liefdevolle geaardheid – wat ek sien in Jesus se manier van mense aanraak en in sy nadertrek van kindertjies; U skeppingsvermoë en vernu? igheid – wat ek sien in kleur en klank, branders en berge, sterre en spikkelklein selletjies; in oë, hande, emosies, seisoene; U gre? gheid om te vergewe – sewentig maal sewe, en meer, nog soveel méér … ; U onmeetbare genade – wat ek sien in elke tweede kans, elke nuwe begin, elke hoopvolle glimlag; U medelye met ons swakheid en ons swaarkry – wat ek sien in die Baba in ’n krip en in elke deernisvolle hart; U trane oor onreg en ongeregtigheid – wat ek sien in Jesus se bloed en in U woede; U oneindige geduld, die versekering van U getrouheid, van U verbintenis aan ons en U voortgaan met ons – wat ek sien in elke reënboog, elke nagmaal, elke doop; U onverganklike altyddaar- wees; U is; U was; U kom … U Gees in my – wat ek wéét, ook wanneer ek nie weet nie, nie sien nie en sukkel om te glo … Soos ’n skoenlapper wat fl adder van blom tot blom, so kom sit ek vir ’n rukkie op al U wonderlikhede, Here. En my fl addervlerke en my indrink van U soetheid en my onbevange veilig-wees by U, sing U lof!

’n Dankgebed

Almag ge Vader, Skepper en Bron van alle goedheid, as ek vir U wil dankie sê soek ek, stamelend, na woorde. Wie U is en wat U doen en hoe U gee oortref taal. U oorweldig my; laat my sprakeloos. Dankietog dat U kan hoor wat ek nie kan sê nie. Dat U die uitswel van my hart sien wanneer iets vir my wonderlik is; die weekword van my hart sien wanneer iets my ontroer; die bons van my hart sien wanneer iets my in ekstase het! Dankie dat U ook die kleinkrimp van my hart ken wanneer die yswinde sny. U leer my hoe om te lewe. Dankie. U laat my drink uit die strome van u goedheid. Dankie! U is by my in die storms. Dankie. Dankie! Dankie!

’n Tafelgebed

Goeie Gewer, U het brood op ons tafel gesit om ons liggame te voed.
Ons sê vir U dankie daarvoor. U het Uself, soos Brood, laat breek vir ons dat ons saam met U kan lééf. Dankie vir U liefde. U maak ons brood vir ons medemens, dat hulle ook kan eet van U goedheid.
Dankie vir U seën.
Amen.

 

Share this post