Ek was skaam en bang om oor Jesus te praat

Eendag help ek my maatjie. Sy glimlag en sê: “Jy is wonderlik” En al ons maatjies hoor dit.
Toe dink ek: Dit was vir my so lekker toe sy gesê het ek is wonderlik. Dit sal mos vir Jesus net so lekker wees as Hy my voor my maatjies hoor sê: “Jesus is wonderlik!”
Dit is hoekom ek op hierdie prentjie onder die bed uitkruip! ’n Mens kan nie in die donker dink nie!

Ek gaan soek in my Bybel. En daar staan ’n boodskap van Jesus NET vir my: “As jy vir My skaam is, sal Ek ook vir jou skaam wees wanneer Ek weer kom” Lukas 9:26. En ook: “Jy moenie skaam wees om vir mense van Jesus te vertel nie.” 2 Tim1:8.Ek moes ook oor Jesus praat. Maar ek was bang. En ek was skaam. Sê nou almal draai hul koppe en kyk vir my? Sê nou almal lag hahahaha!

Toe ons onderwyser vra: “Het God al iets wonderlik vir julle gedoen?” wou ek sommer skree: “My Ma het nie werk gehad nie, toe gee Jesus weer vir haar werk. Jesus is wonderlik!”
Maar ek het nie. Ek was te skaam.

Dit is hoekom ek op hierdie prentjie net so groot soos ’n vlooi lyk. So lyk ’n kind wat kan doodgaan van skaamte.

Toe iemand by my skool sê sy hou nie van bid nie, wou ek sommer skree: “Jesus help ons dan as ons bid. Jesus is wonderlik!”
Maar ek het nie. Ek was te skaam.

En ek was te bang. Dit is hoekom ek op hierdie prentjie onder die bed wegkruip. Dit is mos waar bang kinders wegkruip.

Toe ek die eerste keer gehoor het hoe Jesus die klein kindertjies nader geroep en sy arms om hulle gesit het, het ek so bly geword dat ek sommer wou skree: “Jesus is wonderlik!”
Maar ek het nie. Ek was te skaam. Dis hoekom ek op hierdie prentjie met my rug na jou toe staan.

Toe ek baie siek was, het almal vir my gebid. Jesus het my weer gesond gemaak. Ek was so bly dat ek sommer wou skree: “Jesus is wonderlik!” Maar ek het nie. Ek was te skaam.

Dit is hoekom net my oë op hierdie prentjie uitsteek.

Dit is hoekom ek op hierdie prentjie huil terwyl almal lag. Ek het gedink almal gaan hahahaha lag as ek sê: “Jesus is wonderlik!” Ek het weer in my Bybel gaan soek. En daar lees ek dat Jesus vir my sê: “Die Heilige Gees sal jou sterk en dapper maak. Hy sal jou help om oor My te praat.” Handelinge

1:8.
Dit is hoekom ek op hierdie prentjie bid. Ek was so bly dat die Heilige Gees kinders ook help. Ek het Hom gevra om my BAIE dapper te maak. Toe ek klaar gebid het, het ek voor die spieël gaan oefen. Ek het vyf keer gesê.

Elke keer ’n bietjie harder. Dit is hoekom daar twee van my in die prentjie is. Ek glimlag voor die spieël. Dit is hoekom jy so baie tande sien. Ek glimlag! Ek is klaar dapper!

Net toe klop iemand aan die deur. My maatjie het by my kom speel. Ek was glad nie meer bang nie. Die Heilige Gees het my BAIE, BAIE dapper gemaak.

”Hallo,” sê ek. “Weet jy wat?” “Wat?” vra my maatjie. “Jesus is wonderlik!” sê ek. Dit is hoekom my maatjie se oë so groot is op hierdie prentjie. Sy was so verbaas. “Hoekom sê jy so?” het sy gevra. Ek het vir haar vertel hoe lief Jesus ons het. Dit was so lekker. Jy moet ook so maak!

Share this post