Ek, Johannes, is julle medegelowige…

Oop deure – meditasies vir hierdie seisoen van Lydenstyd, Pase en Pinkster.

 

Openbaring 1:9-11

Johannes was ʼn pastor in die gemeente Efese in Klein-Asië, vandag Wes-Turkye. Tydens die grootskaalse vlaag van verdrukking in die tyd van die Roomse keiser Domitianus is hy vir ʼn tyd lank na die Griekse eiland Patmos verban. Die verbanning was juis omdat Johannes “die woord van God en getuienis van Jesus” volhardend bly verkondig het. Die keiser se motief: Johannes se getuienis moes uitgedoof word!

Patmos is ʼn vulkaniese en rotsagtige eiland in die Egeïese See. Vandag nog is dit veral vir die Oosters-Ortodokse Kerk ʼn heilige plek waarheen pelgrimstogte onderneem word. Veral die grot waarin Johannes na bewering sy gesigte gesien het, is immers die oorsprong-plek waar ʼn besondere troos-boodskap vir die kerk van alle eeue gegee is.

Dat Johannes se verbanning nie los gestaan het van die werk van die Heilige Gees nie, word gou duidelik. Te midde van die keiser se verdrukking van Christene oor die Romeinse Ryk heen, is die Gees aan die werk, in ʼn eensame grot op ʼn Griekse eiland – dalk veel kragtiger as wat die keiser sou vermoed. Daar laat die Gees Johannes die onsienlike sien. In hierdie tyd van verdrukking omskep die Gees Johannes, voer Hy hom mee, open Hy Johannes se geloofsoë, skenk Hy ʼn troosryke boodskap en roep Hy Johannes om dit neer te skryf ­ –  ʼn boodskap vir die lydende kerk van alle eeue.

Maar eers werk die Gees in Johannes self. Hy kry klarigheid oor wie hy is, waarvoor hy hier is, wat sy rol juis in hierdie tyd van eensame afsondering is. Hy is medegelowige (1:9). Hy is nie alleen nie. Selfs te midde van sy afsondering bly hy verbonde aan ander gelowiges. Daar is ʼn band. En hierdie band is ons gesamentlike verbondenheid aan en in Christus. Die Gees van Christus bind ons saam, oor grense van afstand en isolasie heen. Daarom deel ons saam met al die ander in die verdrukking of swaarkry, watter vorme die swaarkry ook al aanneem. Miskien is dit juis dié gedeelde lyding wat ons oë weer oopmaak vir ons verbondenheid in Christus. En daarom aan mekaar. As medegelowige deel Johannes ook met ander in die volharding. Volharding is die antwoord op lyding, die gehoorsaam bly, die bly vashou aan die hoop; daarin moet ons mekaar bly ondersteun en herinner – so spoor die  Openbaringboek ons aan. En ons is saam deel van/verbonde aan die koninkryk van God, die deurbreek van God se heerskappy, die uiteindelike oorwinning! God is op sy troon, en die Lam wat geslag is het die oorwinning behaal! In hierdie koninkryk is ons as gelowiges aan mekaar verbonde, maar juis ook aan die ganse wêreld waar die koninkryk aan die kom is. Daar op Patmos kry die begrip medegelowige vir Johannes ʼn nuwe betekenis.

Mag ons in hierdie tyd van afsondering, hierdie lydenstyd, opnuut ontdek wat dit beteken om ʼn medegelowige te wees. (Gideon v d Watt)

Share this post