Ek is aan jou kant

Ons deel graag groepfoto’s. Ons vriendekring glimlaggend by die see, die familie aan die Kerstafel of die kinders se rugby- of skoolfoto (almal in eenderse kleredrag). Die foto’s spreek vanself: “Ek behoort tot hierdie groep.” Hierdie is my mense. By hulle is ek tuis, word ek aanvaar, is ek nodig.

Die lewe is beslis nie altyd maklik nie. Daarom voel dit goed om saam met ander te wees. Om te weet dat daar iemand is wat saam met jou uitdagings kan aanpak, oplossings kan soek en probleme kan oorkom. Ons het almal, oud en jonk, die behoefte om te weet: ons is nie alleen nie. Die res van die sportspan, my kollegas, ons groepie vriende of ons familie is saam in hierdie ding. Ons is daar vir mekaar.

“Twee is beter as een,” verklaar die prediker. “As jy val, sal jou maat jou ophelp, en as iemand jou aanval, kan julle dubbel weerstand bied. “’n Driedubbele tou is sterker, ’n verenigde front is tot jou voordeel.”

Hierdie behoefte is van die begin af reeds daar. “Dit is nie goed dat hy alleen is nie,” het die Here van Adam in die Tuin van Eden gesê. “Ek sal vir hom ’n maat maak wat hom kan help.” “Hoe sal ek alleen regkom?” het Kain by die Here gesmeek nadat die Here hom verban het. “Ek kan nie alleen gaan nie,” het Moses benoud gesê nadat God hom na die Farao gestuur het. “Kom bid en waak saam met my,” het Jesus vir sy dissipels in Getsemane gevra.  Noag het sy familie saam met hom in die ark geneem, Gideon het sy klein weermag saam met hom gehad toe hy die Midianiete moes verslaan. Alleen kon, of wou, hulle nie regkom nie.

’n Gejaagde lewe, druk program en streng spertye laat ons egter soms fokus verloor. Ons vergeet by tye van die mense wat langs ons, om ons leef. As ons net eers hierdie opdrag kan klaarmaak, die teiken kan haal, dan sal ons weer by mekaar uitkom. Sal ek ’n plan maak om te bel, my kind se sportwedstryd by te woon, vir my man te sê ek is lief vir hom. Ek sal ’n naweek afvat sodat ek met my gesin tyd kan spandeer. Sodra ek weer tyd het…

Die harde werklikheid van inperking, en nuwe en gedwonge grense, het ons in ons spore gestuit. Skielik het ons opnuut besef hoe nodig ons mekaar het en hoe ons in die verlede die klein rituele van Saterdagaand saam braai of kuier by die koffiewinkel waardeer het. Hoeveel waarde verhoudings tot ons lewens voeg. Ons mis die saam kom, saam doen, saam sing en saam bid.

Dit het gelei tot ’n nuwe en amper dringender klem op mense se fisiese en geestelike welstand. Ons sperdatums en doelwitte by die werk is in baie gevalle op die agtergrond geskuif sodat ons kan seker maak:  “Gaan sy alleen regkom met drie klein kindertjies? En wat van ouma, alleen in die aftreeoord? Hoe gaan hy by die winkels uitkom? Hoe gaan dit met die mense wat gewoonlik ons vullis verwyder, of die vrou wat ons kantore skoonmaak? Is ons kinders gespanne, onseker, of bang? Hoe gaan daardie gesin al die uitdagings hanteer?”

Gesinne, families en vriendekringe dink nou aan ander, kreatiewe maniere om in voeling te bly. (Dit blyk dat ons nogal vindingryk kan wees!) Met Whatsapp boodskappe, Skype geselsies en selfs Zoom kuiers en partytjies, wil ons aan mekaar bevestig: julle en julle welstand maak saak, ons verhoudings is belangrik, ons het mekaar steeds nodig. En baie mense kyk verby hulle eie swaarkry en maak hulle harte oop om mense wat in groot nood verkeer, op vele maniere te ondersteun. Daarmee sê ons: ons samelewing is belangrik, ons erken die rol wat ons as Jesus se hande en voete op aarde, kan en moet speel.

Miskien is die virus en alles wat daarmee gepaard gaan, dan nie net sleg nie. Dit kan by tye voel asof die wind skoon uit ons seile is, asof die liggie aan die einde van die tonnel nooit weer gaan skyn nie. Maar ons het ’n nuwe bewussyn van die mense rondom ons, hulle waarde, hulle behoeftes. Ons kan opnuut vir ’n geliefde sê: “Ek is aan jou kant. Ons is saam in hierdie ding.” Ons het ’n nuwe blik en hopelik, ’n beter fokus.

 

Susan Goosen

 

 

 

 

 

 

Share this post