“Ek het dit gewaag om Hom Vader te noem”

Die Pakistani Bilquis Sheikh was 54 jaar oud, geskei en ryk. In haar boek vertel sy van haar soeke na God: “As ʼn meisietjie het my pa nie omgegee dat ek hom pla nie. Wanneer ek ook al ʼn vraag of probleem gehad het, het hy sy werk eers laat staan en sy volle aandag aan my gewy, ongeag hoe besig hy was. Dit was lank na middernag toe ek in die bed gelê het en hierdie wonderlike herinnering kon vertroetel. ‘O, ek dank U…’ het ek tot God gefluister. Het ek regtig met Hom gepraat? Skielik was my hele wese verlig deur hoop. Sê nou net God was soos ʼn vader. As my aardse pa alles kon laat staan om na my te luister, sou my hemelse Vader dan nie…? Bewend van opgewondenheid het ek opgestaan, op my knieë neergeval op die mat en met my oë na bo en met nuwe, dieper begrip God “my Vader” genoem … En skielik was die kamer nie meer leeg nie. Hy was daar! Ek kon sy teenwoordigheid aanvoel. Ek kon sy hand saggies op my kop voel rus. Dit was asof ek sy oë kon sien, gevul met liefde en deernis. Hy was so naby dat ek kon ervaar hoe ek met my kop op sy knieë rus, soos ʼn dogtertjie wat by haar pa se voete sit.” Hierdie boek vertel hoe haar hemelse Vader haar tot ‘n intieme verhouding met Hom gelei het. Die boek se titel is: I Dared to Call Him Father: The Miraculous Story of a Muslim Woman’s Encounter With God”.

Jesus leer sy dissipels, en ook hulle wat vandag kan waag om Hom hulle Vader te noem, om soos volg te bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen (Matt. 6:9 – 13). Net soos die 10 gebooie, handel die eerste deel van die gebed oor God en die tweede deel oor die mens en sy behoeftes. Die eerste drie bede gaan oor die eer van God. Eers as ons ons Vader erken as die Allerheiligste, die Koning van alle konings, die Een wat beter weet wat ons nodig het as onsself, die Een wat vir ons so liefhet dat ons Hom ons Vader mag noem, eers dan kan ons begin om ons behoeftes aan Hom voor te lê.

As ons voor die heilige God staan en besef wie Hy is en wie ons is, word ons belangrikste behoeftes vir ons duidelik. William Barclay wys daarop dat die bede die kern insluit van ons hele lewe: die berou oor ons verlede, ons behoeftes vir vandag, en die bekommernis oor die toekoms. Dit kom neer op versoeke aan die Drie Enige God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die Vader, die Skepper, is ook die Onderhouer van sy skepping, die Een wat vir ons sorg soos ‘n vader vir sy kinders. Jesus beloof: “Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (Matt. 6:8). Daarom kan ons bid gee vandag ons daaglikse brood.

Jesus, die Seun, is gestuur om die pad na ons Vader oop te maak. Hy het dit vir ons moontlik gemaak om die gebed te begin met “Ons Vader”. Daarvoor moes Hy aan die kruis in ons plek sterf vir ons oortredinge: Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm (Jesus) is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes (Hand. 13:38). Daarom kan ons bid: Vergeef ons ons skulde.

As ons die vergifnis van sonde gesmaak het, wil ons nie dieselfde pad van die verlede loop nie. God het vir ons Iemand gestuur om ons daarmee te help, die Heilige Gees. Daarom kan ons bid dat ons selfs nie in die versoeking moet kom om te sondig nie. Die Bose is altyd gereed om God se kinders te verlei en daarom kan ons by die Heilige Gees pleit dat Hy ons sal verlos van die Bose.

           God is ons Vader. Hy is soos ‘n vader wat alles los om sy volle aandag aan elkeen van sy kinders te gee. Hy wil ons seën met sy nabyheid, sy liefde, sy vrede en vreugde.

 

Dankie heilige, liefdevolle God dat ons U ons Vader kan noem. Amen.

 

Gert Berning

Share this post