Ek en jy en ons huwelik

Êrens in een van sy baie geskrifte het Leo Tolstoi gesê: “Elke man en vrou se roeping is om ander mense te dien.” Baie mooi en deugsame woorde wat ʼn mens laat dink dat Tolstoi baie waardering vir mense op aarde gehad het. Enige vrou wat sy woorde hoor, sal stilstaan en saggies begin prewel: “Dit is my droom … dit is die man waaroor ek gebid het.” Stadig oor die klippe … Iets klink nie reg nie. Iets klink net wreed uit pas en vreemd.

Dan lees ek die woorde van sy vrou raak. Die woorde wat sy gebruik om haar lewe saam met haar Leo te beskryf: “Daar was bitter min egte warmte in hom; sy goedheid het nie uit sy hart gekom nie, net uit sy beginsels. Sy biograwe sal kan vertel hoe hy die werksmense help water dra het, maar niemand sal ooit weet dat hy sy vrou nooit ʼn ruskansie gegun het nie en nooit – hierdie hele twee en dertig jaar lank – sy kind ʼn slukkie water gegee of vyf minute by sy bed gesit het om my kans te gee om ʼn bietjie te rus nie.”

Voordat ons luister na ʼn persoon se waardebepaling van sy/haar huwelik (of enige verhoudings), moet ons voorsiening maak vir ʼn tweede opinie. Dalk sy/haar wederhelf se opinie? Kyk wat word van ʼn persoon na ʼn jarelange huwelik met ʼn ander persoon. Het julle mekaar uitgedaag om jonk van gees te bly? Het julle mekaar gemotiveer om liefde vir die lewe en vir mense uit te straal? Het jy jou lewensmaat toegelaat om ʼn fontein van idees te wees, en is enige groep mense beter daaraan toe as hy/sy deel is van die groep?

Die teendeel is ook waar: Verskyn jou lewensmaat met ʼn uitdrukkinglose gesig in die openbaar? Ontbreek sy/haar gesprekke aan oortuiging of vertroue? Is sy/haar selfvertroue nul? Die dag as idees uitgeruil word, is sy/hy besig om idees te ruil of staan hy/sy bang in die hoekie? Baie vrae met baie verskillende antwoorde. My introspeksie het na die volgende gelei … Ons (altans ek) wil die passie wat ons saamgebind het beleef en uitleef. Ons wil voel ons behoort. Ons wil voel ons is belangrik en waardevol. Ons wil gepamperlang word. Ons wil die ruimte gegun word om net te kan wees wie ons werklik is. Ek sit op die stoep, die vuurtjie brand. Tussen die rook en die geur van varktjops op die kole, sien ek haar weer raak. Daar is iets egs in haar stem as ek haar saggies hoor sing. My oë speel oor haar lyf en ek voel soos ʼn tiener. Agter haar hoor ek dof in die agtergrond die giggel van ʼn kind, die uitbundige lag van sy boetie. Nou word die neurie harder soos wat sy naderkom: “I’m no longer a slave of fear, I am a child of God”. Dit klink harder agter my en ek voel twee arms wat my om die lyf vat en vashou, net vashou terwyl die woorde weer ʼn neurie word. Ek voel skielik ʼn magie wat teen my rug druk, die huis waarin Amia, ons dogtertjie nou groei. Emosie oorweldig my. “God, my God …” roep ek sag. “Dankie”, prewel ek. Meteens, met ʼn spontaniteit wat geen perke ken nie, begin ek saggies neurie: “Genade onbeskryflik groot”

Jy sien, anders as Leo Tolstoi se vrou, kan ek dit skreeu dat die berge antwoord. Haar liefde en haar warmte kom uit haar hart, uit haar menswees! Sy laat my uit die hoekie klim. Sy laat my borrel van oortuiging en vertroue. Sy laat my vrugte dra. Wat doen ek? Ek kan nie anders nie, want haar liefde dring my. Dit is immers sy liefde.

Die vorige aand op die lughawe staan ek vol emosie en wag. Meer as twee weke weg van haar bring die hoekie meteens weer nader. Daar sien ek haar aankom, sy sien my nie, sy weet nie ek is hier nie. Opwinding groei in my. Sy lyk moeg, sy is moeg. Sy kyk nie eers rond met verwagting nie. Dan sien sy my. Sy begin kliphard lag, die trane loop. “Wat maak jy hier?” “Ek kom haal jou,” is die antwoord. Meteens sien ek haar blom, sien ek haar skitter. Sy blom omdat sy my sien. Ek lag uit my bors omdat ek haar sien! Wag eers, die vleis brand …

“I am a child of God …” Hoor ek haar dit herhaal …

 

Wynand Olivier

Share this post