Egskeiding – Hoe raak dit my kinders?

Egskeiding is vir kinders net so traumaties as vir die ouerpaar wat skei. Nie alle ouers besef egter watter impak dit op hul kinders het nie. Ouers weet ook nie altyd hoe om hul kinders in dié moeilike tyd by te staan nie.

Egskeiding is ongelukkig soms onvermydelik. En as ouerpare reeds professionele hulp gaan soek het en dalk reeds die huwelik nog ’n kans gegee het, maar tog steeds besluit om te skei, is dit belangrik om te weet hoe om, in wat ook ’n krisistyd vir jou kind is, jou kind by te staan.

Wanneer vertel ek my kinders? 

Hoe vroeër die kinders vertel word, hoe beter. Kinders sal wel kan aanvoel dat alles nie pluis is tussen die ouers nie en dié onsekerheid kan ook bepaalde probleme bring.

Dit is belangrik om te besef dat jonger kinders minder tyd nodig het om nuus te verwerk as ’n ouer kind. Ouer kinders en tieners het meer tyd nodig om byvoorbeeld te treur, veral terwyl beide ouers nog in dieselfde huis woon. Dit is ook belangrik om die kinders na gelang van hul persoonlikhede te hanteer.

Die meeste ouers ken hul kinders en weet hoe hulle stresvolle situasies hanteer. Sommige kinders onttrek en word stil, terwyl ander in opstand kom en rebelleer.

Dit is belangrik om kinders gerus te stel oor hoe die egskeiding hulle gaan affekteer. Vertel hulle wie waarheen gaan trek en hoe dit dinge soos die skool, woonbuurt, vriende, kerk of enige ander sake gaan raak. Waak daarteen om skuld uit te deel of kwaad en verbitterd voor te kom. Moenie die rede vir die skeiding in detail met hulle bespreek nie. Wees egter eerlik wanneer die kinders ingelig word sonder om blaam uit te deel of om na besonderhede te verwys, byvoorbeeld na ’n ander verhouding, jou maat se tekortkominge, of hoe jou maat intussen verander het.

Dit is belangrik om vir jou kinders te sê dat:

  • beide van julle hulle liefhet ten spyte van die feit dat julle nie meer gaan saamleef nie;
  • beide van julle hulle steeds gaan versorg en in hulle behoeftes sal voorsien;
  • julle hulle nie sal verlaat nie (hulle vrees dit omdat een nie meer by hul gaan inwoon nie);
  • julle hulle gereeld sal sien en met hulle in kontak sal bly;
  • dit nie hulle skuld is dat julle gaan skei nie;
  • hulle baie spesiaal is, noem ook spesifieke redes hoekom elkeen spesiaal is;
  • julle belangstel in hulle siening oor die situasie, en
  • julle as ouers die finale besluite oor die toekoms gaan maak.

Hoe reageer kinders op ’n egskeiding?

Gewoonlik ervaar kinders gevoelens van vrees, verlies, verwerping, onveiligheid, skuld, verwarring en woede. Hulle kan ook op een van drie maniere reageer deur hulle te onttrek, uitermatig ‘moeilik’ te word of om buitengewoon ‘goed’ te wees.  Kinders kan ook ’n bietjie van elk van hierdie gedrag openbaar.

Ouers moet egter bedag wees op die volgende tipe gedrag wat by hul kinders mag voorkom:

Gevoelens van hartseer en verlies

Kinders kan buitengewone gevoelens van droefheid en verlies ervaar wanneer hul ouers besig is om te skei of reeds geskei is. Sterk gevoelens van smart by kinders is algemeen, veral as hul na die nie-inwonende ouer en die sekuriteit van hul ou gesinsopset verlang. Sommige kinders voel selfs verleë en skaam oor hul gesinsituasie. Gevoelens van verantwoordelikheid en selfblaam oor die situasie kan soms by jonger kinders gevind word. Kinders sukkel soms om hul gevoelens te verwoord – dit is belangrik om met hulle te praat en te vra hoe hulle voel oor sekere situasies. Daar is kinders wat worstel om hul emosies te beheer.  Moet dit nie as verkeerd afmaak as hulle kwaad is oor die situasie nie. Leer hulle om dit reg te hanteer.

Wat kan ouers doen?

  • Help jou kinders om hul gevoelens op ’n verbale en nie-verbale (deur kuns, musiek en daaroor te skrywe) manier uit te druk.
  • Gee erkenning aan kinders se emosies en help hulle om te verstaan wat hulle voel.
  • Verseker jou kinders dat hulle gevoelens normaal en in orde is.
  • Gee aan hulle ’n gepaste verduideliking na gelang van hul ouderdomme. Lê gedurig klem daarop dat die egskeiding nie hulle skuld is nie.
  • Help jou kinders om ander kinders te ontmoet wie se ouers ook geskei is, sodat hulle kan weet hulle is nie alleen nie.
  • Oorweeg dit om jou kinders in te skakel by ’n ondersteuningsgroep vir kinders uit gebroke gesinne.

Angstigheid en vrees

Vrees en bekommernis kom algemeen voor by kinders wie se ouers geskei het. Die gevoel van veiligheid en sekuriteit van die gesinsopset word dikwels ontwrig deur ’n egskeiding. Sommige kinders ervaar ’n oorweldigende gevoel van hulpeloosheid vanweë die talle veranderings wat hulle in die gesig moet staar. Jonger kinders mag selfs vrees dat hul ouers sal ophou om hulle lief te hê en hulle sal verlaat.

Die konflik tussen ouers gedurende die egskeidingsproses is dikwels geweldig stresvol vir jonger kinders. Gewoontes soos buitengewone woeligheid, die byt van naels en fisiese simptome soos maag- en hoofpyne asook bednatmaak, is dikwels algemeen by jonger kinders.

Onttrekking van vriende en sosiale aktiwiteite is ’n teken van bekommernis en vrees by ouer kinders.

Wat kan ouers doen?

  • Vermy konflik voor die kinders.
  • Verminder ontwrigting van die gesinsroetine tot die minimum.
  • Lig die kinders in oor die verandering wat verwag word, waar hulle gaan bly en wie vir hulle sal sorg.
  • Verseker die kinders dat jy hul steeds liefhet en sal voortgaan om vir hulle te sorg.
  • Laat die ouer kinders toe om ’n inset te maak oor toesig en besoektye, maar aanvaar die uiteindelike verantwoordelikheid vir die neem van die besluite.
  • Bied bestendige en voorspelbare ouerskap.
  • Beplan spesiale kwaliteittyd met elke kind.
  • Moedig die kinders aan om hulle bekommer-nisse uit te spreek, gee erkenning aan hulle gevoelens en beoordeel dit.
  • Leer kinders ontspanning- en oorlewingsvaardighede.

Woede en  Aggressie

Woede en aggressie is algemeen by kinders wie se ouers besig is om te skei. Sommige kinders kom tot uitbarsting teenoor hul ouers en kan sover gaan om hulle uit te skel en te beledig. Hulle verwoord dikwels hul woede deur die ouers te beskuldig dat hulle die oorsaak van die egskeiding is.

Die woede teenoor ouers word dikwels op subtiele wyse deur kinders oorgedra deur ongehoorsaamheid, met hul ouers in ’n argument te gaan, of om onvergenoegd te wees en oor alles te kla. Soms kom kinders se woede en aggressiewe gedrag na vore wanneer hulle met ander kinders of hul broers of susters baklei en gewelddadig word.

Wat kan ouers doen?

  • Laat kinders weet dat dit in orde is om kwaad te voel.
  • Leer kinders gesonde maniere om hul aggressie uit te druk.
  • Wees streng met kinders as hulle hul woede op ’n onbehoorlike wyse uitdruk. Wys hulle op ander maniere om met hul negatiewe gevoe-lens om te gaan.
  • Wys kinders hoe om met hul frustrasies en konflik met ander kinders om te gaan.
  • Stel onderwysers en ander versorgers in kennis van die egskeiding sodat ook hulle die kind kan help om dit te hanteer.

Wat sê die Skrif?

Daar bestaan geen onduidelikheid dat Jesus kinders baie hoog geag het nie. Hy sê byvoorbeeld dat as ’n persoon nie soos ’n kind word nie, hy beslis nie in die koninkryk sal kom nie. (Matteus 18:2). Hy spreek hom ook baie sterk uit oor dit wat wag op mense wat ’n struikelblok vir ’n kind is. “Dit is beter as hy met ’n groot meulsteen om sy nek in die diepte van die see verdrink” (Matteus 18:6).  So belangrik het Jesus die kind geag, dat Hy gesê het dat elkeen wat ’n kind in sy Naam ontvang, ontvang ook vir Hom en sy Vader wat Hom gestuur het (Markus 9:37).

Daarom is dit belangrik dat elke ouerpaar wat deur die pynlike ervaring van ’n egskeiding gaan, dit met soveel versigtigheid doen dat dit hulle kinders in die proses minimaal sal skade berokken. Beskerm hulle teen die negatiewe gevolge van die skeiding en verseker hulle voortdurend van julle liefde en versorging.

Share this post