Dit moet jy weet

Aan die begin van die skooljaar het ek en die kinders opgewonde (en, ek moet erken, met ’n mate van ontsag) na al die nuwe tuisskoolboeke gekyk. Party boeke is met entoesiasme begroet (kyk wat gaan ons hierdie jaar leer!) terwyl ander met ’n groot sug dadelik eenkant geskuif is. Ek het my oudste se stapel skoolboeke (met moeite) opgelig en vir haar gewys. “Teen die einde van die jaar moet jy al hierdie feite ken!” (Ek is met ’n skewe mond vir my moeite en visuele vertoon beloon.)

As ek al drie kinders se skoolboeke vir die komende jaar opmekaar sou sit, sou ons ’n aardige stapeltjie hê. Die spreekwoordelike toring van Babel – ’n verbysterende en soms verwarrende hoop feite. Genoeg om selfs die mees toegewyde studente (en ma) benoud te laat sluk. Hoe gaan ons dit alles geleer en verstaan kry?

Natuurlik gaan die jaar se kennis nie by boekekennis stop nie. Ons bevind ons immers midde-in die vierde revolusie, ’n ware kennisontploffing. Ons gaan elke dag oorval word met vinnige, verstommende en wonderlike feite; nuwe nuus, ou nuus (skielik weer belangrik omdat dit toe nooit waar was nie) en fopnuus, om maar net ’n paar te noem. Daarvoor gaan nuuskanale, Facebook, Twitter, Instagram en ander platvorms sorg. Ons gaan moet kophou!

In my voorbereiding vir die nuwe jaar het ek vir ’n rukkie by die boek Daniël stilgestaan. Daniël en sy drie jong vriende is aan die diep kant ingegooi. Nie alleen moes hulle in ’n wildvreemde land as ballinge aanpas nie – hulle moes ook saam met ander jong mans in die taal, skrif en gewoontes van die Babiloniërs onderrig word. Daar was geen genade nie, hulle moes sink of swem. Hulle kennis van hierdie nuwe land, sou hulle help om daar te oorleef. ’n “tall order”, soos my ouma sou sê.

En dan staan daar in Daniёl 1 vers 17: “God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid.” Verstand, wysheid en insig. ’n Wonderlike waarheid en vertroosting. God het hierdie manne gehelp om sin te maak uit die magdom inligting waarmee hulle gebombardeer is. Hy het hulle gehelp om dit te onthou, te interpreteer, te verstaan en dit in hulle lewe toe te pas.

Nie alleen kon die manne die eksamens aan Koning Nebukadneser se hof met lof slaag nie, God het boonop aan hulle onderskeidingsvermoё gegee sodat hulle geweet het hoe hulle hierdie nuutgevonde kennis moes toepas. Hulle het geweet wat die voorgeskrewe eetgewoontes van daardie land was, en tog het die jong mans besluit om eerder water en groente te eet. Ook het Daniёl se drie vriende goed geweet wat sou gebeur indien hulle nie voor die koning se groot beeld neerval en dit aanbid nie. Steeds het hulle geweier. En Daniёl het begryp wat met die koning se nuwe dekreet bedoel is, en tog het hy, soos dit sy gewoonte was, drie keer per dag tot die Here gebid.

Dit verg wysheid om, met die kennis en insig wat jy het, die regte keuses te maak. Miskien kan ons wysheid sien as die bril waardeur ons na al ons kennis kyk. Die vermoё om daardie kennis in jou daaglikse handel en wandel toe te pas. ’n Padkaart vir ons lewenspad.

Ek delf verder. As ek die Bybel reg verstaan, is hierdie tipe wysheid nie noodwendig iets wat jou toekom nadat jy lank en deeglik gestudeer het nie. Of wat noodwendig toeneem met die ouderdom nie. In Matteus 11:25 sê Jesus: “Ek loof U, Vader, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” Die digter in Spreuke maan as volg: “Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen, Hy sal die regte pad vir jou wys.” (Spreuke 3:6) En ook: “Dit is die Here wat wysheid gee, sy woorde gee kennis en insig. Hy laat hulle wat reg leef, sukses behaal” (Spreuke 2). Die prediker sê as volg: “God gee wysheid, kennis en blydskap vir die mens wat vir Hom vreugde bring” (Prediker 2).

Ons word aangemoedig om hierdie wysheid na te streef. In Spreuke 4 lees ons: “Wysheid het meer voordele as geld. Haar beloning is meer werd as goud. Wysheid het meer waarde as edelstene. Niks wat jy ooit begeer, vergelyk daarmee nie. Die wysheid maak ’n mens gelukkig. Dit bring vir jou tevredenheid.” Job beaam dit wanneer hy sê: “Wysheid is meer kosbaar as goud en kristal. Koraal en kosbare kristal kan dit nie koop nie (Job 28:17–18). Koning Salomo het dit geweet. Toe God vir hom vra wat sy grootste begeerte is, het Salomo nie vir rykdom, gesondheid, ’n lang lewe of ’n sterk weermag gevra nie. Nee, hy het wysheid gekies. Die vermoё om met verstandigheid oor die volk van Israel te regeer.

Ek is dankbaar vir die geleentheid om te kan leer, nuwe begrippe te ontdek en nuwe horisonne te verken. Daarom takel ons die nuwe jaar, met al sy kennis en feite, met oorgawe. Maar selfs wanneer ons hierdie kennis en definisies vergeet, wanneer dit dreig om ons te verwar, staan een feit soos ’n paal bo water. Kennis begin met die dien van die Here (Spreuke 1:7). Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die Here is. (Spreuke 9:10). En dit moet jy onthou.

 

Susan Goosen

Share this post