Dis onregverdig!

Kinders het skynbaar kleintyd al ’n sin vir reg en geregtigheid. Selfs ’n kleuter, wat skaars hoёr as ’n baksteen staan, sal sommer vinnig met bolwangetjies vir jou laat verstaan: “Dis nie ‘fair’ nie!”

“Dis nie regverdig dat sy maatjie se speelding mooier, duurder, blinker of raseriger as syne is nie. Of dat haar roomys lekkerder, sy pakkie groter of sy beurt langer is nie. Waar is myne? Wat van my?” Die soeke na reg eindig natuurlik nie in die kinderjare nie. Ons jaag dit almal na. Ons hou boek daarvan. Dit stuit ons by tye voor die bors. “Dis nie regverdig dat iemand anders die plek in die span gekry het, of sonder veel inspanning daardie gesogte toekenning of bevordering gekry het nie. Dat iemand altyd maerder, gewilder en slimmer as ek is nie. Dis nie regverdig dat party mense met die goue lepel in die mond, en daarmee saam ’n familiefortuin, gebore word nie. Dis nie ‘fair’ nie.”

Swaarkry pas ook by hierdie lysie. “Hoekom moet ek of my geliefdes siek wees, swaarkry of werkloos wees?” “Covid 19 is onregverdig,” het ek die afgelope tyd telkemale gehoor. Inderdaad. Skreiend onregverdig. Want skielik, sonder veel waarskuwing, het die bekende reёls van ons lewe se bordspeletjie heeltemal verander. Kompleet asof ons almal Monopoly met Uno kaarte probeer speel. Die roetines, sekerhede en sekuriteite waaraan ons so lank gewerk het en so goed verstaan het, is skielik net nie meer daar nie. En in die plek daarvan is daar ’n groeiende en knaende kommer: gaan ons heelhuids hier uitkom? Hoe lank nog? Wat as …?

Dit voel onregverdig dat ons so hard moet baklei teen ’n vyand wat ons nie kan sien nie, dat jy ernstig siek kan word na ’n onskuldige besoek aan die supermark, en dat duisende toegewyde gesondheidwerkers wêreldwyd reeds hulle lewens verloor het in ’n poging om ander te help. Ons is van ons geliefdes geskei, en kan nie eers werk toe gaan of in die park gaan stap sonder om kort-kort bekommerd aan ons masker te skuif, en hande te was nie. Kinders moet pouses hulle toebroodjies twee meter weg van hulle maatjies sit en eet, matriekleerlinge mis hulle langverwagte matriekafskeid en die res van ons daardie vakansie wat teen hierdie tyd broodnodig is. “Dis net nie ‘fair’ nie!”

En tog, het ek hierdie week besef, is dit ook nie die volle waarheid nie. Ek kan nie gedurigdeur hamer op dit wat ek meen my toekom nie, dit wat ek, en ons, volgens my standaarde, verdien het nie. Ek moet dit trouens nie waag om dit te doen nie. Want dan sal die prentjie veel donkerder wees. In Psalm 53 maan Dawid: “Ons het almal ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” En in Romeine 3 sê Paulus: “Ons het almal gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Niemand kan homself verweer nie. Die hele wêreld is strafwaardig voor God wat betroubaar en regverdig is.” Indien ek op reg en geregtigheid, en op regverdigheid aandring, het ek nooit ’n kans gestaan nie. My sondige natuur, my geneigdheid om maar altyd weer te sondig, sou my tot ’n ewige dood verdoem het. Die loon van die sonde wat in my is, is immers die dood.

Maar God se genade was groter. God het nie gaan sommetjies maak om te kyk wat my – ons – toekom nie. Ons word, sonder dat ons dit ooit kan verdien, vrygespreek. Kwytgeskeld. Ons kry ’n tweede kans, ’n nuwe lewe. Suiwer op grond van die genade van Jesus Christus.

En ek, begenadigde, het dit reeds kleintyd geleer. Ek verdien nie die vooruitsig van ’n ewige lewe saam met Christus nie, en tog het ek dit reeds ontvang. Ek verdien nie die volgehoue leiding, die Helper, wat die Vader in sy groot genade vir my gestuur het nie, en tog kan ek op hierdie hulp aanspraak maak. Ek kan my verheug in die vrede waarvan Paulus praat. Ek kan jubel oor die vrye toegang tot die Vader se troon wat nou ook my deel is. Ek kan juig oor die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Ek kan selfs bly wees oor swaarkry, want ek weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

“Dis nie ‘fair’ nie!” Genadiglik nie.

 

Susan Goosen

 

Share this post