Diere in die Bybel

Elke dier uniek

In God se skepping is niks sommer net ʼn ding nie. Allermins lewende wesens, hoe skynbaar nietig ook. Daarom moes Adam op God se bevel aan elke lewende wese ʼn naam gee (Genesis 2:19). ʼn Naam was vir ʼn Hebreër meer as ʼn blote etiket. Dit moes iets van die unieke karakter van daardie wese uitdruk.

Onthou dat ook die slang ʼn geskape wese is. Die listigheid waarmee Genesis 3 die slang beskryf, kan óf negatief as listig, óf positief as skrander, verstandig, verstaan word. Omdat God gesien het dat alles wat Hy gemaak het baie goed was (Genesis 1:31), moet ons aanvaar dat selfs ook die slang goed was – so word die slang ook elders in die Ou Testament beskryf. In die Nuwe Testament vermaan Jesus selfs sy apostels om versigtig te wees soos die slange (Matteus 10:16). Daarom moet ons aanvaar dat die slang hier in Genesis deur ʼn bose mag verlei word waarvan die herkoms nêrens in die Skrif verduidelik word nie.

Die uniekheid van diere kom pragtig na vore in God se vermanende gesprek met Job. Hy laat die een na die ander in hulle verskeidenheid voor Job se geestesoog verbygaan: die leeu, steenbok, wilde-esel, buffel, volstruis, perd, valk, adelaar, seekoei en krokodil (Job 39, 40:10-41:25). Die Here noem al hierdie diere met hulle besondere eienskappe om in en deur hulle God se grootheid vir Job en vir ons almal te laat besef: dit is Hy wat hulle elkeen so besonders gemaak het. Maar as Skepper is Hy nog soveel groter en wonderliker!

God se deernis teenoor diere

As ons lees dat God al die diere en voëls wat Hy so sorgvuldig na eie aard geskep het, na Adam bring om te sien hoe hy hulle sou noem, sê dit iets van God se deernis vir diere. Dit is asof die Skepper elke dier en voël met sy eie hand na Adam bring om hom rustig geleentheid te gee om elkeen ʼn gepaste naam te gee.

In die sondvloed-verhaal in Genesis 6 tot 11 reël die Skepper vir ʼn oorblyfsel van die mensdom, maar terselfdertyd ook van diere en voëls. Treffend staan daar dat God ná 150 dae se oorstroming aan Noag en die diere gedink het en die waters laat terugtrek het (Genesis 8:1). Die Here maak ook met Noag, sy familie en met al die diere en voëls by hom ʼn verbond wat vir alle volgende geslagte sou geld: dat mens en dier nooit weer op so ʼn groot skaal deur vloedwaters verswelg sou word nie (Genesis 9:11).

Die Ou-Testament bevat talle maatreëls om die billike behandeling van diere te verseker. So byvoorbeeld moes ook diere op die Sabbat rus (Eksodus 20:10). As jy jou vyand se verdwaalde dier raakgeloop het, moes jy dit beslis na hom terugbring (Eksodus 23:4). ʼn Os se bek mag nie toegebind geword het terwyl hy graan dors nie (Deuteronomium 25:4). Sulke wette wys duidelik dat God omgee; met sy Skeppershand sorg Hy vir alle lewende wesens – selfs vir die kleinste wurmpie …

Die boek Jona handel oor die Here se stryd om aan sy hartelose profeet ʼn meelewende hart soos dié van sy Sender te gee, sodat hy hom nie net oor sy eie volksgenote sou bekommer nie, maar ook oor ʼn groot, sondige, heidense stad soos Ninevé met sy tienduisende kindertjies en baie diere! Die boek eindig treffend met God se vraag aan Jona of Hy wat die Here is, geen reg het om aan so ʼn stad genade te bewys nie. ʼn Loflied op God se deernis teenoor mens en dier!

In Psalm 84 roep die digter uit dat God se liefde so groot is dat selfs ʼn mossie en ʼn swaeltjie vir hulle kleintjies by die Here se altare kan gaan nessies maak (v.4). Wat ʼn tere beeld van goddelike ontferming, selfs vir die geringstes in God se lewende skepping! By die uitsending van sy twaalf dissipels sê Jesus dat, al is die mens soveel meer werd as die voëls, God nogtans ook na voëls in hulle daaglikse onbesorgde bestaan omsien, sodat selfs nie eers die geringgeskatte mossie op die grond sal val sonder die wil van die Vader nie (Matteus 6:26, 10:29-31).

God se deernis met diere laat die kerkhervormer Martin Luther uitroep: “Wys my hoe jy jou hond behandel, en ek sal jou sê watter soort mens jy is.”

Dierebeelde vir God en sy volk

Dierebeelde word baie treffend gebruik om God en sy dade van verlossing in die geskiedenis van sy volk te verduidelik. Toe Israel ná sy vertrek uit Egipte regoor berg Sinai kamp opslaan, sê die Here vir Moses: “Julle het gesien … hoe ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na my toe gebring het” (Eksodus 19:4). In ʼn pragtige lied wat Moses vóór Israel se intog in Kanaän op bevel van die Here vir Israel moes leer, word hierdie treffende beeld weer gebruik (Deuteronomium  32:11-12).

Om die ontsagwekkende majesteit van God in sy straffende en reddende handelinge met sy volk te beklemtoon, gebruik die Ou-Testamentiese profete die kragtige beeld van ʼn brullende leeu (Hosea 11:10-11; Joël 3:16; Amos 1:2, 3:8).

In die Nuwe Testament word Jesus Christus met ʼn lam vergelyk. Toe Johannes die Doper Jesus na hom sien aankom, roep hy in verwondering uit: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29) Op ʼn sekere dag reis die koningin van Etiopië se “minister van finansies” op sy wa van Jerusalem af terug na sy land. Hy lees in Jesaja 53:7-8 van die kneg van die HERE wat om ons ontwil swygend, soos ʼn lam op pad na die slagplek, die wrede straf dra. Dan verduidelik die diaken Filippus vir hom hoe dit alles na Christus heenwys (Handelinge 8:26-39).

Op die eiland Patmos sien Johannes ʼn visioen van die troon van God. Êrens in die middel staan ʼn lam – een wat geslag is, met sewe horings en sewe oë. Hierdie lam is die eintlike leeu uit die stam van Juda (Genesis 49:9). Hy het oorwin om die boek van God se raads- en reddingsplan vir die wêreld oop te maak (Openbaring 5:1-7).

Johannes die Doper sien hoe die Heilige Gees op Christus neerdaal in die vorm van ʼn duif. Die duif simboliseer reinheid, onskuld en lieflikheid; dié gedagte word hier permanent op Christus oorgedra.

Oral in die Bybel sien God sy volk as ʼn herderskudde, met Homself as Opperherder. Kyk net die deernisvolle houding van die Opperherder tot sy kudde in Jesaja 40:11. Jesus noem sy volgelinge sy skape vir wie Hy sy lewe aflê (Johannes 10:11).

Dierebeelde vir die geloofslewe van God se volk

Deur sy profeet Jesaja kla God dat ʼn bees sy eienaar ken in ʼn donkie die krip van sy eienaar, maar Israel ken nie die Here nie (1:3).

In Psalm 42 sing die digter hy dors na die lewende God soos ʼn wildsbok dors na waterstrome. In Psalm 92 juig hy omdat die Here hom krag gee soos ʼn buffel. Jesaja sê dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vaar op soos met arendsvlerke (40:31). Die profeet Habakuk sing die Here sy God maak sy voete soos dié van ʼn ribbok, sodat hy op hoë plekke veilig loop (3:19).

As die Here Jesus sy apostels op hulle moeilike sending onder die Jode stuur, vermaan Hy hulle om versigtig te wees soos die slange en opreg soos die duiwe (Matteus 10:16).

Diere in diens van die verlossingsgeskiedenis

Van die talle maniere waarop diere in God se verlossingsplan vir die wêreld gedien het, noem ons die volgende voorbeelde:

In die tien plae waarmee die Here die Egiptiese koning gestraf het om Israel van slawerny te bevry, dien ook paddas, muskiete, steekvlieë en sprinkane as strafmiddels (Eksodus 8 en 10).

Vir die bring van offers is diere gebruik vir die brandoffer, maaltydoffer, sonde-offer en skuldoffer (Levitikus 1-7). Al hierdie offers het elk op eie wyse na die finale offer van Christus heengewys en dáárin hulle afsluiting gevind (Hebreërs 10:1-18).

Op pad na Kanaän kla Israel oor tekort aan vleis. Die Here voorsien hulle toe van kwartels as vleis en manna as brood (Eksodus 16).

As die koning van Moab die heidense profeet Bileam huur om Israel te kom vervloek, gebruik die Here die profeet se donkie om hom tot besinning te bring, sodat hy Israel ryklik seën (Numeri 22-24).

Tydens koning Agab se regering het die Here sy profeet onderhou deur kraaie wat soggens en saans vir hom kos gebring het (1 Konings 19:1-6).

Toe Jesus ná sy doop vir veertig dae in die woestyn moes bly om deur die duiwel versoek te word, was wilde diere sy geselskap (Markus 1:12-13).

Waar Jesus by twee geleenthede duisende mense met enkele broodjies gevoed het, het hy dieselfde met ʼn paar vissies gedoen (Matteus 14:14-21, 15:29-38).

In die eerste drie evangelies lees ons van Jesus se intog in Jerusalem op ʼn donkie (bv. Markus 11:1-11) – die vervulling van Sagaria se profesie van die regverdige en nederige oorwinnaarkoning wat op die hingsvul van ʼn donkie ry (9:9).

Gebedsverhouding tussen Skepper en dier

Diere roep na God

In sy gesprek met Job herinner die Here hom daaraan dat Hý, die Here, aan die kraai voedsel voorsien wanneer haar kleintjies na God roep vir kos (39:3; vgl. Psalm 147:9). Dis waarskynlik meer as net ʼn digterlike segswyse; dit wys ook op God se voorsienigheid oor wildediere. In Psalm 104:21 sing die digter: “Die leeus brul op soek na prooi; hulle vra hulle kos van God.” Die digter se innige Godsgeloof laat hom selfs leeugebrul as ʼn gebed tot God verstaan.

Ook diere opgeroep tot lof

Met sy dertien oproepe tot lof aan God sluit Psalm 150 Israel se Psalmboek af. Soos ʼn mag-tige slotakkoord roep die laaste reëls alles wat asemhaal op – mens én dier – om die Here God van die genadeverbond, alle lof toe te bring.

Waar Psalm 150 ʼn oproep tot lof aan God deur al wat leef laat hoor, laat die troonvisioen in Openbaring 5 ʼn spontane uitroep hoor van lof aan God deur al wat leef in die ganse skepping (v.13): “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”

As die diepste doel van die hele skepping dan is om lof aan die Skepper en Verlosser te bring, dwing dit ons om te vra: Is dit nie die heerlike plig en voorreg van die mens, wat as beeld en verteenwoordiger van God oor die aarde en sy diereryk aangestel is, om teenoor diere só op te tree dat ook hulle die doel van húlle bestaan steeds beter sal kan verwerklik nie?

Share this post