Lord Jesus

Die wederkoms

Die Here Jesus kom weer

Die wederkoms is die einde van drie tye, wanneer die Here Jesus weer kom – hierdie keer om oor al die lewendes en die wat reeds gesterf het te oordeel.
Die eerste van die drie tye, strek vanaf die skepping tot by die geboorte van Jesus Christus en staan bekend as die tyd van God die Vader. Daarop volg die tyd vanaf Jesus se geboorte tot by die koms van die Heilige Gees op Pinksterdag. Dit staan bekend as die tyd van God die Seun. Die derde tyd is vanaf Pinkster tot by die wederkoms van Jesus. Dit word die tyd van God die Heilige Gees genoem. In al drie hierdie tye is die Drie-enige God aan die werk, maar elke keer kom een Persoon in die Drie-eenheid duideliker na vore.

Leef ons in die laaste dae?

Ja, die tweede en die derde tyd (die tyd van die Heilige Gees) word saam die tussentyd genoem, want hulle staan tussen die eerste koms van Jesus Christus en sy wederkoms. Ons leef dus in hierdie tyd. Die Bybel noem dit op verskillende plekke die laaste dae. As die Heilige Gees op Pinkstermôre op die gelowiges uitgestort word, staan die apostel Petrus tussen die verbaasde mense op en onder die leiding van die Heilige Gees sê hy vir hulle: hier gebeur wat God reeds honderde jare tevore deur die profeet Joël aangekondig het, dat God in die laaste dae sy Gees sal uitstort op alle mense (Handelinge 2:16-21; Joël 2:28-32). Die Hebreërskrywer sê ook: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun …”
Dis tog duidelik: ons leef in die laaste dae, maak nie saak hoe lank dit nog gaan duur nie. Byna tweeduisend jaar gelede het die apostel Petrus al met onverskillige mense te doen gehad wat met die gedagte van die wederkoms gespot en gesê het: “Ag, alles bly tog maar soos dit altyd van die begin van die skepping af was.” Nee, sê Petrus, die Here stel nie sy koms uit nie, inteendeel. Hy is geduldig met ons (ook met die spotters!), omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie, maar dat almal hulle moet bekeer (2 Petrus 3:3-9). Die skynbare “vertraging” van die wederkoms is ’n vertraging van goddelike liefde. Dis goddelike geduld wat elkeen geleentheid wil gee om gered te word (3:15).

Onverwags?

O ja, die Here kom wel onverwags! Die koms van die Seun van die Mens sal so blitsig soos weerlig wees, sê Jesus. Niemand weet die oomblik waarop Hy kom nie. Ook nie die engele in die hemel nie. Selfs nie die Seun nie. Net die Vader weet wanneer dit sal wees (Matteus 24:27, 36). Daarom waarsku die Here Jesus in gelykenisse soos dié van die tien maagde vir ons almal om gereed te wees (Matteus 25:1-13).
Die apostel Paulus sê die gemeente in Tessalonika weet self baie goed die Here kom onverwags, soos ’n dief in die nag (1 Tessalonisense 5:2). Hieruit het sommige ongelukkig afgelei dat die Here eintlik alreeds hier is, en dat hulle maar kan ophou werk. Daarom skryf Paulus ’n tweede brief waarin hy hierteen waarsku. Die onverwagte koms beteken nie noodwendig dit sal nou-nou gebeur nie (2:2). Ons moet werk terwyl dit dag is, soos wat Paulus en sy medewerkers self vir die gemeente ’n voorbeeld gestel het. Geen leeglêery en bemoeienis met ander se sake, soos sommige begin doen het nie. Wie nie wil werk nie, moet ook nie eet nie (3:6-12). Juis omdat ons nie weet wanneer die Here kom nie, moet ons getrou en steeds werkend wag op ons Here se koms.

Die tussentoestand

Waar is al die mense wat reeds gesterf het en nog sal sterwe voordat die Here kom? Die plek word gewoonlik die doderyk genoem (in die Hebreeuse Bybel sjeool en in die Griekse Bybel hades). Dit is die plek of ryk van die dood, God se laaste vyand, wat deur Jesus se dood en opstanding reeds oorwin is (1 Korintiërs 15:26; Openbaring 1:17-18). Die aardse liggaam word stof of as. Maar wat dan van die gees? Die Bybel gee baie min inligting hieroor. Ons kan byvoorbeeld nie die gelykenis van die ryk man en Lasarus hiervoor gebruik nie (Lukas 16:19-31), want in ’n gelykenis word slegs die hoofgedagte toegepas, en in hierdie gelykenis gaan dit veral om die omgee vir die minderbevoorregte voor jou deur. Miskien mag ons uit dié gelykenis wel aflei dat elkeen wat voor die wederkoms sterf, ’n voorsmaak kry van wat ná die wederkoms vir altyd vir so iemand wag.
Die duidelikste beskrywing van die gelowige in die doderyk is: mét Christus. Jesus sê vir die een rower langs hom dat hy nog dieselfde dag saam met Jesus in die paradys sal wees (Lukas 23:43). Paulus sê weer dat hy verlang om te sterf en met Christus te wees (Filippense 1:23).

Die wederkoms self

Christene verskil soms oor hóé die Here kom. Sommige meen dat Hy onverwags kom om dié gelowiges wat werklik gereed is stilletjies te kom haal. Dié wat agterbly, kom in groot verdrukking. Eers lank daarna kom die Here sigbaar en met harde trompetgeluid om alles nuut te maak. Volgens hierdie siening kom dit dan eintlik op ’n dubbele wederkoms neer. Die Nuwe Testament weet egter net van één finale wederkoms. Wat leer die Skrif ons wel hieroor?
Die wederkoms sal gepaard gaan met geweldige veranderinge aan die sterrehemel (Matteus 24: 29).
Die Here kom met groot krag en majesteit op die wolke, onverwags soos ’n dief in die nag en soos ’n weerligstraal, met die stem van ’n aartsengel en geklank van die basuin van God (Matteus 24:27, 30; 1 Tessalonisense 4:6, 5:2).
Almal sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het, en al die volke wat nie geglo het nie sal in selfverwyt oor Hom treur (Openbaring 1:7; Matteus 23:30).
Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid om al sy kinders oor die hele aarde te versamel (Matteus 24:31). Dié wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan en saam met gelowiges wat daardie tyd op aarde lewe, in wolke na die Here toe geneem word om vir altyd by Hom te wees (1 Tessalonisense 4:16-17).

Die hiernamaals

Volgens die Bybel bestaan die hiernamaals, dit wil sê die ewigheidsplek ná die wederkoms, uit hemel en hel.

Die hemel
Wat die oog nie gesien, die oor nie hoor, in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, het God gereed gemaak vir die wat Hom liefhet (1 Korintiërs 2:9). Hierdie hemelse heerlikheid word met die hulp van verskillende aardse beelde beskrywe. Gelowiges se name staan daar in God se boek en op hulle voorkoppe geskryf (Lukas 10:20; Openbaring 22:4). Hulle skitter soos die son (Matteus 13:43). Met verheerlikte liggame (1 Korintiërs 15) sien hulle die onsigbare God deur Jesus Christus (Matteus 5:8; Johannes 17:24; I Johannes 3:2; Openbaring 22:4). Hulle dien die Here as sy onderkonings, deel in sy vreugde (Openbaring 22:5; Matteus 25:34) en geniet ’n vreugdemaaltyd saam met Christus in die koninkryk van sy Vader (Matteus 26: 29).
Johannes beskryf die hiernamaals as ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde met die nuwe Jerusalem daarop en ’n wonderlike tuin (Openbaring 21:1-22:5). Daarin vloei ’n rivier met die water van die lewe en daar staan die boom van die lewe, wat elke maand van die jaar vrugte dra en waarvan die blare genesing bring vir al die nasies (Openbaring 22:1-2). Dáár is geen dors, moeite, droefheid, siekte, gevaar, dood of vervloeking nie. God en die Lam is self die lig wat alle donkerte verdryf. Hier woon God vir altyd saam met sy één verbondsvolk uit alle nasies (21:3). Dit is die volkome vervulling van die Here se verbondsbelofte aan Abraham (Galasiërs 3:8)! Hier is God nou vir altyd in alles en in almal (1 Korintiërs 15:28). Dis ’n nuwe hemel en nuwe aarde vol van alles wat goed en reg is (2 Petrus 3:13), waar Hy wat op die troon sit sê: Kyk, ek maak alles nuut (Openbaring 21:5).

Die verdoemenis
Die profeet Daniël noem die verdoemenis of hel ’n plek van skande en ewige veragting (Daniël 12:2). Die Nuwe Testament teken hierdie plek van verlorenheid ook op verskillende maniere, byvoorbeeld as ewige straf (Matteus 25:46); ewige onrus (Openbaring 14:11); diepste duisternis en ’n geween en ’n gekners van tande (Matteus 25:46); die ewige vuur vir die duiwel en sy engele (Matteus 25:41); waar die wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie (Markus 9:48). Paulus gee die volgende aangrypende beskrywing van die hel: vir altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy magtige heerlikheid (2 Tessalonisense 1:9).
In sy groot barmhartigheid maak die Here wel ’n verskil in die graad van straf volgens wat iemand geweet het of nie (Lukas 12:42-48), en volgens wat iemand gedoen het of nagelaat het om te doen (2 Korintiërs 5:10).

Wat is die tekens van die wederkoms?

Die Bybel noem talle tekens van die wederkoms. Jesus noem byvoorbeeld oorloë, gerugte van oorloë, hongersnode, aardbewings op verskillende plekke (Matteus 24:6-7) en allerlei siektes (Lukas 21:11). Selfs die verwoesting van die Jerusalemse tempel deur die Romeine in 70 nC word as deel van die wederkoms gesien. Toe het baie Judeërs gedoen wat Jesus in Matteus 24:16–18 vir hulle gesê het om te doen, byvoorbeeld om uit Jerusalem en Judea te vlug. Die val van Jerusalem word hier so ineengestrengel met die wederkoms dat ’n mens die twee gebeurtenisse eintlik nie uit mekaar kan hou nie. So word talle gebeurtenisse wat tussen Jesus se eerste en tweede koms gebeur tekens en spieëlbeelde van die wederkoms.

Vals christusse en vals profete

Die apostel Paulus waarsku die Tessalonisense teen die verleiding van die groot Antichris onder leiding van die Satan (2 Tessalonisense 2:7-12). Die skrywer van Openbaring sien in een van sy visioene die Antichris in die vorm van ’n aaklige dier uit die see (13:1-10). Die apostel Johannes wys daarop dat daar reeds in sy tyd baie antichriste aan die werk was (1 Johannes 2:18-22, 4:2-3). So ook dwarsdeur die geskiedenis. Dink maar aan wreedaards soos Stalin van Rusland, Hitler van Duitsland, Mao Zedong van China, Kim II Sung van Noord-Korea en Idi Amin van Uganda. Dieselfde geld van vals profete wat die mense verkeerde dinge oor Jesus geleer het. As die Openbaringskrywer ’n dier uit die aarde sien opkom wat mense verlei om agter die Antichris aan te loop (13:11-17), wys die apostel Johannes daarop dat daar in sy dae al baie vals profete opgetree het (1 Johannes 4:1). Jesus self waarsku reeds baie ernstig teen vals christusse en vals profete (Matteus 24:4-5, 23-24).

Vervolging as teken

Enige groot vervolging van Christene is ook ’n teken van die wederkoms. Jesus sê as dié soort dae nie verkort was nie, sou niemand gered word nie (Matteus 24:21-22). Maar terselfdertyd sê die Here sy wederkoms sal wees soos in die dae van Noag, voordat die waterramp die destydse wêreld getref het: mense het soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou totdat die ramp hulle oorval het (Matteus 24:38-39). Hier word gedink aan mense wat sonder geloof in die Here lewe en maar net rustig hulle daaglikse gang gaan sonder om Hom te verwag.

Sending as teken

’n Belangrike teken van die wederkoms is die verkondiging van die blye boodskap in die hele wêreld, aan al die nasies, voordat die einde kom (Matteus 24:14)! Aan hierdie wederkomsteken kan en moet elke gelowige met blydskap deelneem: byvoorbeeld deur jou getroue voorbidding vir die wêreldwye verkondiging van die evangelie (Kolossense 4:2-4; 2 Tessalonisense 3:1); deur jou vriendelike en verstandige optrede teenoor nie-Christene (Kolossense 4:5-6) en deur jou materiële ondersteuning aan sendelinge en sending-instansies (3 Johannes, vers 5-8). Gelukkig is elkeen vir wie die Here op hierdie manier besig sal vind wanneer Hy kom!

Ons sien uit na die wederkoms

Dat die Here Jesus weer kom, staan vas. Ons glo en bely dit. En ons sien daarna uit; dit is ons hoop. Daarvoor bid ons met verwagting. Soos ’n bruid roep ons, die kerk – alle gelowiges – die bruidegom nader: “Kom!” En nooi ons ander uit: “Kom! Sodat die bruilofsfees kan begin en elkeen wat dors het van die water van die lewe kan kom drink, verniet!” (Openbaring 22:17). Op hierdie roep antwoord die Here Jesus: “Ja, Ek kom gou!” (Openbaring 22:20)

Share this post