Die mense by die verkeerslig

Help No Food, No Money, No Home, big family. PLZ help! God bless you.

Jy het seker al so ’n plakkaat – of dalk ’n soortgelyke een gesien?

Hoe laat dit jou voel?

Aan die een kant wil jy die bedelaars jammer kry en vir hulle ’n geldjie gee. Maar, jy het ook al gehoor dat dit nie altyd die beste ding is om te doen nie. Aan die ander kant kan jy ook nie sommer net vergeet dat jy hulle swaarkry raakgesien het nie.

Baie keer sien jy selfs mense op die straat-hoek staan met ’n persoon met gestremdheid. Of kinders. Of mammas met klein babatjies. Dit is egter teen die wet om met babatjies of met persone met gestremdheid by die straathoeke te bedel. Jy moet onthou dat daar wel geld vanaf die regering vir elke werklose mamma of mense met gestremdhede gegee word.

Maar hoe kan ons help?

Jesus het mos gesê ons moet die arm mense help en is daar nie iewers ’n teksvers wat sê: “As julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan My (Jesus) gedoen nie”?

Hier is sewe gedagtes wat jy kan onthou:

1. Bedelaars is mense en verdien om menswaardig en met respek hanteer te word. ’n Bedelaar se dieper behoefte is aan omgee en liefde en die manier hoe jy vanuit die motor of langs die pad met bedelaars praat of na hulle kyk, kan dit vir hulle makliker of swaarder/moeiliker maak. Baie van ons wil nie met bedelaars eers oogkontak maak nie, want dan val hulle jou nog meer lastig en kry jy hulle nie “afgeskud” nie. As jy egter na hulle kyk moet jy onthou dat hulle ook na die beeld van God geskep is en ook verdien om menswaardig hanteer te word.

2. Hulle sal nie daar staan as hulle nie genoeg geld kry vir hulle behoeftes nie. Bedel is vir baie ’n werk net soos die persoon van die munisipaliteit wat daardie straathoek skoonhou. Jy moet vir jouself afvra of jy hierdie ‘werk’ wil ondersteun.

3. Jou paar rand, al is dit R100, gaan hulle nie regtig help nie. Geen geld wat jy vir ’n bedelaar gee help hom of haar op die langtermyn nie. Jy sou dit kon toets: Sê nou maar jy kan vir die bedelaar genoeg geld vir ’n hele week se kos en verblyf gee, sal hy nie loop nie. Hulle sal steeds daar staan en bedel.

4. Hulle is waarskynlik verslaaf aan iets soos alkohol of dwelms en van jou geld sal gaan vir hulle middels wat hulle gebruik. Ja, dit is nie maklik om op die straat te lewe nie. Mense raak maer en die son verbrand hulle velle en hulle raak siek en swak. Daarom is die meeste van hulle verslaaf aan iets om hulle te laat ontvlug van hulle situasie. Jou geldjie hou hulle verslaaf en betaal vir die volgende fix.

5. Moenie skuldig voel as jy nie geld of kos gee nie. Ja, dit is waar dat Jesus gesê het dat “vir solank julle dit aan die geringstes doen het julle dit aan My gedoen”. Lees 2 Tessalonisense 3:6-12. Daar is mense wat ten spyte van hulle omstandighede steeds probeer om self te werk en iets te verdien. Ondersteun hulle eerder.

6. Daar is plekke wat vir bedelaars op die regte manier kan help. Ons moet altyd probeer om die mense van die straat af te kry. Daar is organisasies wat mense hiermee help. Gaan vind uit by julle munisipaliteit of kerk watter diensorganisasies daar is. Daar is dalk ’n skuiling wat kos en slaapplek voorsien. Gee eerder geld vir dié organisasies of raak self betrokke. Baie het ook ’n sisteem waar iemand ’n kos- en blyplekkoepon kan koop om aan die bedelaar te gee.

7. Dit is nooit verkeerd om liefde en vriendelikheid te gee nie. Partykeer voel jy net jy moet NOU vir die persoon help. Jou hart raak sag en jy wil uitreik. Doen dit dan op ’n menslike manier. Daar is 3 reëls.

1.  Moenie net iets by ’n venster gee en dan wegry nie. As jy nie tyd het nie moenie gee nie. Wees egter altyd bedag op jou veiligheid!

2. Gee iets wat goed is vir hulle. Dalk ’n botteltjie water of ’n vrug of bietjie room. Laat jou geskenkie ook omgee wys.

3. Vra uit na elkeen se storie. Onthou niemand beland net daar nie. Daar is altyd ’n storie agter die storie. Om rustig na iemand se storie te luister kan dalk die beste geskenk wees.

Share this post