Die Heidelbergse Kategismus

Oud – en oraloor geliefd

Die Heidelbergse Kategismus (1563) is reeds 450 jaar oud. En tog is dié dokument vir baie mense van oor die wêreld heen vandag nog steeds nuut en vars – en tot ryke troos. Dit was van die begin af een van die mees geliefde belydenisskrifte van die Hervorming. Dis sommer gou-gou wyd aanvaar deur gelowiges en kerke in vele lande, en sou algaande wêreldwyd bekend en bemind raak.

Aanvanklik is dit dikwels deur gelowiges saamgeneem wat moes vlug – as leerboek, maar ook as troosboek in hulle nuwe tuistes. In vele vlugtelinge-gemeentes is dié kategismus benut. In talle tale is dit vertaal. Op elke vasteland was dit bekend – en sommer vróég al, van Etiopië tot Suid-Afrika, van Indonesië tot Korea, van Nederland tot die VSA, oraloor.

Één geloof – vir leer én lewe

Oorspronklik wou Frederik III, vors van ook die Duitse stad Heidelberg, vrede tussen strydende groepe in sy gebied verseker. Inwoners – van klein tot groot – moes opgevoed word in dié vrede, in dié een gemeenskaplike geloof en lewe. Hy benoem daarom ’n kommissie om só ’n geloofsboek op te stel. Dit moes die één Christelike geloof uitspel, só dat gelowiges, ongeag afkoms en agtergrond, die één evangelie sou herken en dit sáám sou uitlewe in sý gebied.

Twispunte moes waar moontlik vermy word. Almal moes die Bybelse boodskap daarvan kon verstáán en hopelik ook érken. Daarby moes die implikasies van dié geloof vir die lewe van elke dag duidelik word.

Die inhoud van dié leer en lewe

’n Jong dosent aan die plaaslike universiteit, Sacharias Ursinus, pas 27 jaar oud, sou die meeste van die skryfwerk doen. Miskien sy gróótste bydrae was die besluit om die gelowiges te tróós met die evangelie. Vanaf die eerste woorde word duidelik dat troos die tema van die kategismus is.

Ursinus het goed geweet wat om die gelowiges te leer – net dieselfde wat nuwe gelowiges deur alle eeue geleer het. Daar was immers ook al ander sulke leerboeke bekend, en almal leer altyd dieselfde vier groot sake: (1) Gelowiges leer vertrou op die evangelie – soos byvoorbeeld bely in die Apostoliese Geloofsbelydenis. (2) Gelowiges leer aangaande die sakramente van doop en nagmaal – want só werk die Heilige Gees in en met ons. (3) Gelowiges leer ken die wil van God – soos byvoorbeeld in die tien gebooie. (4) Gelowiges leer God aanroep in gebed – soos byvoorbeeld in die Ons Vader.

Maar hóé maak Ursinus dié vier sake duidelik – geloofsbelydenis, sakramente, gebod, gebed? Deur te wys hoe hulle saam bydra tot diepe tróós! Dis wat so nuut en anders aan die Heidelbergse Kategismus was en wat dit so gewild sou maak.

My enigste troos – in lewe en sterwe!

Vraag en Antwoord 1 is dié mees bekende woorde in die kategismus. Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe? Dat ek aan Jesus Christus behoort – nie aan myself nie, maar met liggaam en siel, in lewe en sterwe, aan Jesus Christus! Hy het vir my skuld betaal, verlos my van die bose, bewaar die hare op my kop, laat alles vir my ten goede meewerk – wonderbare troos!

Maar Antwoord 1 sê méér. Ons troos is boonop dat Christus ons deur sy Heilige
Gees bereid máák om voortaan van harte vir Hom te lewe. Dié woorde is van sleutel belang. Dit beteken dis déél van ons troos dat Christus self deur sy Heilige Gees ons vernuwe en bereid maak om vir Hom te lewe. Die dankbaarheid waarvan die kategismus nog gaan praat is dus déél van die troos, nie ons reaksie óp die troos nie, maar déél van wat Christus deur sy Gees aan ons skenk.

Troos – in ons ellende

Hoekom het ons troos nodig? Vanweë ons ellende, antwoord die kategismus. Weer eens ’n diepe insig! Die term het te make met alien en alienation, soos in vreemd en vreemdelinge. Ons ellende is dat ons ontuis is, soos bywoners voel. Ons ervaar vervreemding, sê mense deesdae, ons is vervreem van wie en wat ons eintlik bedoel is om te wees – en dís ons ellende. Ons voel ontuis. Ons verlang, hunker, het behoefte na iets méérs en iets ánders.

Wanneer ervaar ons dié ellende? Aangrypend antwoord die kategismus. As ons herinner word dat ons bedóél is om lief te hê – God en naaste. As ons onthou dat liefde ons aard is, ons roeping, die soort mens wat ons sou kon wéés – en dan in dié spieël ons nood herken, ons gebrek, verlange, behoefte, gemis, mislukking, kortom, ons ellende. Ons is nie wat ons kón wees nie, ons mis iets – en dié wete bedroef ons.

Die troos – van verlossing

In dié droefheid troos die evangelie ons, want Christus verlos ons uit dié ellende.

Hoe ontvang ons dié troos?, vra die kategismus. Só eenvoudig, deur geloof – en dan gee Vraag en Antwoord 21 ’n
beskrywing van geloof wat vele daarna sou help. Dis tegelyk kennis en vertroue – kennis van die beloftes van die evangelie én vertroue dat dié beloftes nie net vir ander waar is nie, maar ook vir mý.

Dan maak die kategismus duidelik hoe geloofskennis nie blote feitekennis is nie, maar kennis van belóftes. Die Apostoliese Geloofsbelydenis word uitgelê as inhoud van ons geloof, maar élke keer word gevra na die nut daarvan vir ons, na die waarde, betekenis, tróós vir ons (Vraag 24 tot Vraag 64). Skepping en voorsienigheid, die geboorte, lyding, kruis, sterwe, graf en neerdaling van Jesus, die opstanding, hemelvaart, sit aan die regterhand en wederkoms van Jesus? – telkens, élke keer, wat baat dit ons, wat is die nut, hoe tróós dit ons? Geloof is om dié troos in die kennis te ontdek – en te vertrou dis ook vir mý. Kennis, ja, maar kennis van belóftes, kennis van genade en ontferming.

Ook ons geloof aan die kerk is vol beloftes (Antwoorde 54 en 55) – dat Christus sélf die kerk bewaar deur sy Woord en Gees; dat ons waarlik déél is van sy kerk en dit ook sal bly; dat ons almal saam deel in al sy skatte en gawes; dat ons elkeen ook óns gawes met vreugde mag aanwend in diens van ander; één belofte na die ander, één troosvolle versekering na die ander.

Hoe kry ons deel aan híérdie geloof? Christus skenk dit aan ons deur sy Heilige Gees. Hoe doen Hy dit? Deur ons hóór van die beloftes van die evangelie, ja, maar dan verseker Hy ons steeds wéér daarvan deur die sakramente, juis vir dié doel geskenk. In doop en nagmaal is dit Christus self wat deur sy Heilige Gees ons verseël, versterk, verseker – en vertroos (Vrae 65 tot 85).

Die troos – van dankbaarheid

Dán volg die laaste deel van die kategismus oor dankbaarheid – as déél van wat Christus deur sy Gees aan ons skenk! Hy maak ons van harte gewillig om vir Hom te lewe, Hy bring vrugte van dankbaarheid in ons voort (Antwoord 64), Hy vernuwe ons deur sy Gees tot sy eie beeld (Antwoord 86), Hy laat ons ou mens sterf (Antwoord 89) en wek ons op tot nuwe lewe (Antwoord 90) – met ’n hartlike vreugde, met lus en liefde, om volgens Gods wil te lewe. Wat ’n troos – ook dié vreugde, dié lus en liefde, kom van Christus.

In Vraag en Antwoord 86 kom ál die sleutel gedagtes van die kategismus by mekaar. Ons word alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos – van begin tot einde, álles genade, alles ontferming, alles barmhartigheid, alles vrye guns, en dié sluit tot ons lewe van dankbaarheid ook in.

Hoe lyk so ’n dankbare lewe? Die Heilige Gees gee ons ’n lus en liefde vir sowel die wet as vir gebed, omdat gebed die vernaamste deel van ons dankbaarheid is. Om dié rede sit die kategismus eers uiteen hoe goed dit is om volgens die bedoelinge van die tien gebooie te lewe (Vraag 92 tot 115) en dan hoe goed dit is om soos die Ons Vader te leer bid (Vraag 116 tot 128).

Op ’n nuwe, vars manier vra die kategismus nie soseer wat die afsonderlike gebooie verbied nie, maar wat elkeen gebied. Só verbied die agste gebod nie net diefstal nie, maar gebied dit eintlik dat ons die belange van ons naaste, waar ons ook al kan, sal help bevorder (Antwoord 111).

Ook by die Ons Vader se bedes help die kategismus ons nadink oor die diepere bedoelings. Só herinner die bede om ons daaglikse brood dat God die enigste bron is van alles wat goed is en dat al ons besorgdheid en harde werk ons niks sal baat as ons Vader ons nie daarin seën nie (Antwoord 125).

Dís uiteindelik die diepe troos, dat ons nie aan onsself behoort nie maar aan Jesus Christus – deur sy Heilige Gees leer Hy ons self om só te lewe en só te bid.

Hoe leef ons met dié troos, vandag?

Dié troos van die evangelie, wat ons verlos uit ons ellende en ons dankbaar maak, vol vreugde, lus en liefde om só vir Christus te lewe en só tot ons Vader te bid, word oor die eeue steeds gehóór, bedink, onthou en oorgedra, aan komende geslagte.

Dis die rol en nut van enige kategismus. Die kerk kan sonder lering nie lewe nie, ter wille van ons kinders en hulle kinders na hulle en tot in die geslagte. Juis om dié rede bly die Heidelbergse Kategismus een van die groot gawes aan die kerk van die eeue en van die hele wêreld. Aanvanklik is dit oraloor in kerke, skole én huise gebruik, in vele lande.

In skole het tallose kinders met behulp van dié kategismus letterlik die alfabet geleer, geleer spel en lees, geleer nadink en wonder, geleer Bybellees en glo. Dié vrae en antwoorde het geslagte kinders geleer om vrae te vra en antwoorde te soek, om te gesels, om vir hulleself rekenskap te leer gee van hulle eie oortuigings. Geleerdes sê vandag hoe ’n groot rol die kategismus sou speel in die vorming van die moderne wêreld soos ons dit ken.

In gemeentes het gelowiges vele male met behulp van die kategismus na die Bybelse boodskap van verlossing uit genade alleen leer luister – van Christus se ontferming in ons ellende. In vele kerke was dit gebruik om elke Sondagaand aan die hand van die kategismus te preek, sodat die hele evangelie deur die jaar se 52 Sondae verkondig is.

In huise het talle gesinne deur die eeue saam as gesin die kategismus gelees en daaroor nagedink en gepraat, soms het die kinders dit selfs gememoriseer – miskien dáárom dat die woorde vir vele gelowiges so bekend klink in hulle tye van ellende: My enigste troos is dat ek aan Jesus Christus behoort.

Mag dié kosbare erfenis ons opnuut laat nadink en vra: wat leer ons vandag aan ons kinders? Hoe doen ons dit? Watter werklike troos laat ons hulle en hulle kinders na?

Prof Dirkie Smit

Share this post