Die grond onder ons voete

Ons het nogal bewus geraak daarvan hoe belangrik water vir ons almal is, want daarsonder kan ons nie lewe nie. En die “ons” is prakties alles wat lewe … mens, dier, plant en vis! Maar besef ons aldag hoe belangrik die grond onder ons voete is? Sonder grond kan ons ook nie lewe nie … ons almal leef uit die bogrond! As dit nie meer daar is nie, of as dit vergaan het, is dit ons einde.

Belangrikheid van grond

Dit is daarom nie ’n verrassing nie dat die Verenigde Nasies die jaar 2015 verklaar het as die Internasionale Jaar van Grond. Bang Kimoon, die leier van hierdie wêreldwye organisasie, het verklaar: “Saam behoort ons die saak van (bo)grond te bevorder, want dit is die soliede bodem (“solid ground”) vir lewe! Ons almal moet eet, en sonder grond het ons niks om te eet nie. Plante vir mens en dier kan dan nie groei nie, en ons (aan die bopunt van die voedselketting) sterf van honger!”

Wat is grond?

Bogrond kan beskou word as die aarde se vel. Ons weet hoe fyngevoelig en delikaat, maar ook belangrik ons eie velle is. Grond is ’n mengsel van vaste stowwe soos minerale en organiese materiaal, maar bevat ook gasse, vloeistowwe en die baie organismes wat lewe op die aarde moontlik maak. Grond is die resultaat van baie jare se interaksie in die natuur. Grond is die medium waarin plante groei, maar is ook die plek waar water gestoor en gesuiwer word. Terselfdertyd is dit ook die interaktiewe raakpunt tussen die aardbol en die atmosfeer.

Die bedreigings vir grond

Maar hierdie bogrond waaruit ons almal leef word deur allerlei faktore bedreig. Baie daarvan is natuurlike prosesse waaroor ons geen beheer het nie, maar veral onrusbarend is die impak wat ons mense op die welsyn van grond het.

Erosie was die belangrikste faktor wat oor die loop van die millennia ons landskappe gevorm het. Die hoogland oor Suider-Afrika is gaandeweg deur wind en weer weggekalwe om ons mooi berge, valleie en vlaktes te vorm. Voor die koms van die mens was erosie ’n natuurlike proses, maar die probleem ontstaan wanneer die gronderosie weens menslike aktiwiteite vinniger verloop as wat dit sou.

Ons mense pas dikwels nie die grond op nie. Ons ploeg waar ons nie moes nie, ons oorbewei die veld met te veel beeste en skape, en ons vee trap paaie wat later slote word. Ons staan dikwels en toekyk hoe groot stukke veld jaar na jaar afgebrand word – veral rondom ons stede en dorpe. Gras en ander plante is belangrik om erosie te keer. Die wind waai die grond van geploegde lande en oorbeweide of afgebrande veld weg, en reënwater spoel die grond weg waar nie genoegsaam plante is nie. Plante maak die vloei van reënwater stadiger in die veld en langs riviere, die wortels hou die grond vas, en daarby breek plantegroei die impak van druppels wat die grond kompakteer.

En mense veroorsaak nie net dat ons grond verloor nie, ons besoedel ook nog die grond met alles wat ons weggooi! Party gemors lê sommer orals rond en vergiftig ons grond en oppervlakte water, maar selfs daardie afval wat op ’n geordende manier deur die munisipaliteite weggeneem en op aangewese plekke afgelaai word, het dikwels ’n baie negatiewe effek op ons grond.

Daar is uitgewerk dat vir elke ton mielies, koring of ander gewasse wat verbou word, ons soveel as 20 ton grond verloor. In Suid-Afrika is dit 300 tot 400 miljoen ton wat per jaar verlore gaan … 3 ton per hektaar. Dit beteken ‘n ry van 10 miljoen vragmotors wat elk 30 ton dra… ’n tou van meer as 100 000km, oftewel 50 vragmotors langs mekaar al met die N1 langs vanaf Messina tot in die Kaap! As ons hierdie jaarlikse verlies aan voedingstowwe wil terugsit, so bereken hulle, gaan dit ons R1 000 miljoen kos.

Hulle bereken dat daar wêreldwyd reeds sowat 5 tot 7 miljoen hektaar verlore gegaan het, en dat tot 33% van alle landbougrond al erg agteruit gegaan het. Stede sluk landbougrond in, bosse/woude word op groot skaal uitgekap en afgebrand … en die grond ly daaronder. Met die huidige klimaatsverandering oor die wêreld heen beteken dit dat daar al minder hoop op gesonde grond geplaas kan word om die atmosferiese balans te help handhaaf deur die koolsuurgas en ander stowwe te absorbeer.

Redes

Ongelukkig is ons mense in ’n groot mate verantwoordelik vir die agteruitgang in die hoeveelheid en gehalte van ons grond. Ons het dit al hierbo gesien. Die een rede is dat die bevolkingsaanwas net té groot is. Meer mense per hektaar, meer mense wat kos moet kry, meer mense wat mors … ’n resep vir moeilikheid. Daar is ’n grondhonger wat nie gestil kan word nie. En baie van die negatiewe impak is polities. Orals vind gedwonge verskuiwings plaas, en oorloë veroorsaak die ontworteling van miljoene mense. Vlugtelingkampe word opgerig … die impak op die omgewing is geweldig. Ekonomiese realiteite laat mense in hulle miljoene migreer na die stede wat al meer en meer grond met teer en beton bedek, hand oor hand uitbrei, en dikwels sonder beplanning die grond opeet.

Die agteruitgang van die bogrond is beide die oorsaak en gevolg van armoede. Kos moet geprodu-seer word … op groot skaal, want daar is al meer monde wat gevoed moet word. Die mense wat in vroeë jare ‘n bestaanslandbou kon beoefen, kan dit weens die agteruitgang (en die druk van die ekonomiese werklikhede) nie meer doen nie en hierdie tipe boerdery raak al meer deel van groot kommersiële landbou. Hoewel die meeste boere probeer sorg dra dat die grond nie agteruitgaan nie, is dit nie altyd moontlik nie, en is dit baie duur om soveel terug te sit as wat jy uithaal.

Ons en grond

Die ou skeppingsverhaal in Genesis herinner ons tereg daaraan dat ons en grond op ‘n dieper vlak een is met mekaar. Ons het daaruit gekom (Genesis 2:7)… en gaan daarna terug – ons word weer stof, hoor ons by ’n begrafnis. Ons Godgegewe lewe kom uit die grond, en uiteindelik gaan ons liggame as voedingstowwe terug na die voedingsbodem van alles. Die voortgaande lewe kan nie sonder die grond onder ons voete nie. Daarom is grond – alle grond – in ’n sin ‘heilige grond’, waarop ons sonder sandale, kaalvoet (met groot respek) behoort te trap, want dit is die grond waarop ons God ontmoet en Hy aan ons en ons kinders lewe en leefruimte gee (Eksodus 3).

So jammer dat ons eerder geneig is om die grond onder ons voete te vertrap en te verniel as om dit te koester en op te pas.

Wat kan ons doen?

Heelwat. Die volgende kan genoem word:
• Vermy en tree op teen oorbeweiding of oorbenutting. Moenie korttermyn dink nie, maar beplan vir die droë jare. In Levitikus 25 gee God vir sy volk voorskrifte oor hoe die lande ook rus moet kry.
• Let op hoe geploeg word. Dit is ou nuus dat kontoere en ongeploegde stroke erosie verhoed.
• Verhoed dat omgeploegde lande oop lê vir die wind om die grond weg te waai. Laat plantereste op die lande. Al hoe meer sien ons hoe boere wat ʼn metode van minimum omwerking (sg. “minimum tilting”) volg, op die langer duur groot sukses behaal.
• Beskerm die plante langs strome en in vleilande. Hulle verhoed verspoeling.
• Let op voetpaadjies en ander grondverskuiwings. Verhoed verspoeling en die ontstaan van dongas. Herwin skade wat reeds gedoen is.
• En dan: moenie mors nie! Wees spaarsamig, hergebruik en hersirkuleer eerder as om weg te gooi! ’n Komposhoop op ons erf vir al ons afvalskille en -plantmateriaal kan ’n goeie begin wees.

Waarom dit alles?

• Ter wille van onsself en ons eie voortbestaan moet ons iets drasties doen om die agteruitgang van die grondbodem te keer.
• Ter wille van ons medemense – en ander mede-bewoners van ons planeet – se toekoms. Volgens die Bybel is ons as mense verantwoordelik gemaak vir die bestuur van die aarde. Bewerk én bewaar, was die opdrag. Ons dra die verantwoordelikheid van die welsyn van ook die bodem, die grond van ons almal se bestaan.

Maar miskien die belangrikste rede van alles is ons gehoorsaamheid aan en ons verhouding met God die Skepper. Hy koester hoë verwagtinge van ons as sy beelddraers en verteenwoordigers
(Genesis 1:26, 31). Kom ons maak sy Naam groot deur volgens sy bedoelinge te leef!

Share this post