Easter

Die fees van Paasfees

Paasfees – viering van Christus se kruis en opstanding

Vir baie mense is Paasnaweek net ’n lekker langnaweek, ’n gewilde tyd om iewers te gaan uitspan. Oor Paasnaweek is die land se verkeer die besigste en die ongeluksyfer dikwels die hoogste. Mense vergeet dat dit eintlik ’n Christelike feestyd is, met diepe betekenis. Al hoe meer kerke maak egter groot erns met die viering van Paasfees. Veral vir die Afrika-kerke is Paasfees die belangrikste tyd van die jaar. Lidmate van dié kerke maak groot opoffering en reis ver om oor die naweek saamtrekke by te woon.

Waar kom Paasfees vandaan?

Paasfees is die viering van ons Here Jesus Christus se kruisiging en sy opstanding; dit gaan om die hart van ons geloof. Hierdie fees se geskiedenis strek ver terug.

Vir die mense van die Ou Testament, en tot vandag toe vir die Jode, was die Paasfees ’n tyd om die verlossing uit Egipte dankbaar te vier. Die volk Israel was slawe in Egipte. Die Here het hulle swaarkry en verdrukking raakgesien en belowe om hulle uit die slawerny te verlos en na die nuwe, beloofde land te lei. Die aand voor dié verlossing uit Egipte het Moses reeds vir die Israeliete opdrag gegee oor hoe hulle die fees moes vier.

Hulle moes dan ’n lammetjie sonder gebrek slag en die bloed aan hulle huis se kosyne smeer. In die nag het die engel van die Here al die oudste seuns in die huise waar daar geen bloed was nie, laat sterwe. In die huise waar daar wel bloed aan die kosyne was, is die seuns se lewe gespaar. Die vleis van die lam is geëet, saam met brood wat haastig gebak is, sonder tyd om gis daarby te voeg (Eksodus 12). Die Jode het van toe af die jaarlikse Paasfees gedenk, behalwe tydens hulle omswerwinge in die woestyn en in tye van groot ontwrigting (Josua 5:4-12; 2 Konings 23:21-23).

Toe Jesus nog maar ’n seuntjie was, het Hy saam met sy ouers vir die Paasfees na die tempel in Jerusalem gekom (Lukas 2:41). Hy het dit bly doen tot net voor sy dood (Lukas 22:1-23). Daardie aand, voor sy kruisiging op die Vrydag in Jerusalem, het Hy egter die betekenis van die Paasfees verander: van toe af sou dit nie net ’n fees wees om God te dank dat Hy sy kinders uit Egipte gered het nie. Jesus het dit nou verander in ’n fees om God te dank dat Hy ons uit die mag van sonde en die dood gered het deur die kruisdood van sy Seun Jesus Christus. Daarom het Jesus ook die betekenis van dít wat hulle geëet en gedrink het verander. Die ongesuurde brood herinner ons aan sy sondelose liggaam wat Hy laat breek het vir ons sonde (2 Korintiërs 5:21). Hy het ook die wyn geskink wat die Jode tydens die Paasfees gedrink het, om ons te herinner aan sy bloed wat vir ons gestort is (1 Petrus 1:18-21). Jesus het nie gepraat van die vleis van die lam wat hulle met Paasfees geëet het nie, want Hyself sou as Lam geslag word – die laaste en finale offer.

Maar, Jesus het nie net gesterf nie. God het hom op die Sondagoggend ná die Paasfees uit die dood opgewek (Lukas 24:1-12). Hy het die dood oorwin; deur Hom verkry ons die ewige lewe wat God skenk (Johannes 11:25-26). As ons net Jesus se dood vier sonder om ook sy opstanding te vier, verloor ons geloof alle betekenis (1 Korintiërs 15:12-19). Met Paasfees is die Vrydag en die Sondag ewe belangrik. Ons noem dit “Goeie Vrydag” en “Paassondag”. Die dag waarop Jesus opgestaan het, is net so belangrik as die dag waarop Hy gekruisig is. Daarom vier ons as Christene dié opstandingsdag sommer elke eerste dag van die week – elke Sondag!

Die Paasfees, waartydens die dood en opstanding van Jesus gevier is, is van die vroegste tye af deur Christene onderhou (Handelinge 12:3; 20:6). Tot vandag toe is dit ’n baie belangrike fees.

Die viering van Lydingstyd en Paasfees

Oor die eeue het daar allerhande mooi tradisies ontstaan oor hoe Paasfees sinvol binne ’n geloofsgemeenskap gevier behoort te word.

 Lydenstyd: In die sewe Sondae voor die Paasfees, die Lydenstyd, word daar oor die aard en betekenis van Jesus se lyding en sterwe gepreek. Dit is ’n tyd van nadenke oor hoe groot en hoe diep die Here se liefde regtig vir ons as sondaarmense is. Dit bring ons opnuut onder die indruk van ons eie sonde – dit is ons wat die kruisdood verdien, dis vir ons wat Hy so gely het! Lydenstyd is ’n tyd van selfondersoek, verootmoediging, vas, gebed en diens aan ander. Daar is wonderlike liedere en aangrypende musiekwerke geskryf vir Lydenstyd. In baie kerke word passiespele opgevoer.

Aswoensdag: Die Lydenstyd begin met Aswoensdag. Tradisioneel lei dit die 40 vasdae voor die Paasfees in. In baie kerke word daar dan ’n houtkruis in die kerkgebou geplaas, as fokuspunt vir die hele lydenstyd. As van verbrande palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag wat met olyfolie gemeng is, word gebruik om askruisies op mense se voorkoppe te maak, met die woorde: “mens, dink daaraan dat jy stof is en tot stof sal terugkeer”. Die klem lê op die sterflikheid van die mens en belydenis van sonde.

Palmsondag en Groot Lydingsweek (Heilige Week):  Palmsondag lei die laaste week voor Paasfees in. Dan word Jesus se intog in Jerusalem herdenk – dikwels met ’n optog van palmtakke. Gedurende die week word daar in baie gemeentes verskillende dienste gehou, waarin stilgestaan word by die belangrike gebeure wat plaasgevind het in die week voor Christus se kruisiging.

In die vier Evangelies word uitvoerig hier-oor geskryf, bv. oor die reiniging van die tempel, strydgesprekke van Jesus, sy salwing in Betanië en die instelling van die Nagmaal. Gewoonlik word die week op die Donderdagaand met ’n nagmaal afgesluit. Dit kan ook as informele liefdesmaal gevier word. By dié geleentheid pas dit om simbolies mekaar se voete te was, net soos Jesus die aand voor Hy die nagmaal ingestel het  met sy dissipels gedoen het (Johannes 13:4-17) – as simbool van nederige diens aan mekaar. Dit is ook ’n ou gebruik om na die nagmaal die kerkgebou te stroop van alle versierings, en die kerse uit te doof.

Goeie Vrydag:  Die erediens op Goeie Vrydag is ’n voortsetting van die Nagmaal die vorige aand. Dan word die kruisiging van Jesus herdenk. Dikwels is daar dan ’n swart doek oor die kansel of die kruis gedrapeer – simbolies van die diepte van Christus se lyding, die dood waarin Hy vir ons afgedaal het.

Sewe kruiswoorde: Dit is gepas om op Goeie Vrydag of oor die Lydenstyd/Paasnaweek in die prediking te fokus op die sewe kruiswoorde van Jesus. Dit is veral ’n baie gewilde gebruik in Afrika-kerke.  

Eerste: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34) – oor Christus wat ons vergewe en ons wat mekaar behoort te vergewe.

Tweede: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lukas 23:43) – oor die verlossing uit genade alleen.

Derde: “Daar is u seun. Daar is jou moeder” (Johannes 19:26 – 27) – oor Christus se omgee en troos vir weerlose mense en ons omgee vir mekaar.

Vierde: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat” (Markus 15:34; Matteus 27:46) – oor die smarte van Godverlatenheid (die hel) waardeur Christus gegaan het, ter wille van ons, sodat ons nooit weer van God verlate sal wees nie.

Vyfde: “Ek is dors” (Johannes 19:28) – oor die diepte van sy lyding, sodat ons die water van die lewe kan drink – vir altyd.

Sesde: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30) – oor die wonder dat Jesus Christus eens en vir altyd klaar betaal het vir ons sonde, ons hoef maar net die genadegeskenk in die geloof te ontvang.

Sewende: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46) – oor Jesus Christus wat as oorwinnaar sterf, in die hande van sy Vader.

Stil Saterdag: Nadat Jesus die Vrydagaand begrawe is, was die dissipels die Saterdag (Sabbat) stil en rustig (Lukas 23:56). Dit is goed om die dag stil deur te bring, ook as families bymekaar. Dit is ’n dag van nadenke en gebed.

Omdat lede van verskillende gemeentes in baie kerke oor die naweek byeenkom, gebruik hul gewoonlik dié dag ook vir kerksake, vergaderings, bevestiging van lidmate en ampsdraers, onderrig, gebed en koorsang. Dit is in veral die Afrika-kerke ’n gewilde gebruik om die Saterdagaand ’n herlewingsdiens te hou. Dan word die sewe kruiswoorde gepreek.

Paassondag: Die heel eerste Sondag waarop Jesus opgestaan het uit die dood het sy dissipels bymekaar gekom om te praat oor hulle lewende Here (Lukas 24:33-35; Johannes 20:19). Sedertdien kom Christene elke Sondag bymekaar om sy opstanding te vier (Johannes 20:26; Handelinge 20:7). Kort na die tyd van die apostels, was die viering van die Paassondag reeds in sommige kerke belangriker as die viering van Goeie Vrydag.

Daar is baie dinge wat gedoen kan word om die oggend van Paassondag ’n besondere geleentheid te maak:

Party gemeentes gaan na ’n begraafplaas of na ’n mooi, stil plek en wag daar totdat die son opkom. Hulle bid en loop dan terug na die kerk toe terwyl hulle sing en uitroep dat Jesus lewe.

Dit is ook ’n ou gebruik om nuwe lidmate op die Sondagoggend te doop. Dit dra die boodskap oor dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat gelowiges saam met Hom uit die dood tot ’n nuwe lewe opgewek is (Romeine 6:3-6).

Ander verkies weer om die nagmaal eers die Sondagoggend te gedenk om die gawe van die lewe te vier (Handelinge 20:7).

Tydens die erediens in die oggend moet daar volop vreugde en lof wees, maar ook goeie prediking oor die betekenis van die opstanding vir alle Christene. Lofliedere en vrolike Paasgesange word gesing. Die kerk is mooi versier, vol lig en kleur.

Dis belangrik dat die jeug spesiaal deel van die fees gemaak word. Vir Israel was die Paasfees juis ’n vrolike geleentheid om die kinders te onderrig (Eksodus 12:24-28).

Die klem op Paassondag moet op vreugde val, dit is ’n fees van die oorwinning van die lewe oor die dood. Hierdie lewensvreugde deel ons met mekaar, deel ons uit aan ander.

 Paasfees is ’n wonderlike Christelike fees, met diepe betekenis. Paasfees is ’n tyd om met ander Christene byeen te kom, om ons opnuut aan God en mekaar te verbind. Dit is ’n tyd om ons geloof te versterk en om die verhouding tussen broers en susters te herstel. Dit vorm ons identiteit as Christene. En, dit is ’n kragtige getuienis: dit bring die boodskap van Christus tuis by mense wat buite die geloof staan. Ten diepste gaan die fees oor Jesus Christus, wat vir ons sonde gekruisig is, wat gesterf het en die dood oorwin het, wat opgestaan het en aan ons die lewe skenk – Hy is die lewende Here. Soos die Christene van ouds, groet ons mekaar op Paassondag vrolik met die belydenis en getuienis: “Die Here het opgestaan, Hy het werklik opgestaan!”

Share this post