Die begrafnis is verby – wat nou?

Die hartseer as iemand wat jy liefhet sterf, kan nie deur ’n koerant beskryf word nie. Net dié wat agterbly kan dit voel: jy huil tot jy moeg is, jy dra heeldag die pyngedagte.

As die begrafnis verby is, vertrek die mense wat probeer help het. Maar dan begin die eintlike swaar tyd: ek moet hierdie verlies verwerk.

Hoe verwerk ’n mens die hartseer van ’n geliefde wat sterf? Hoekom hanteer ons dit so verskillend? Wat is die beste?

• Iemand sê ons moet ophou praat oor hom/haar. Maar ek verlang dan so baie!

• Soms kan ’n Ma nie ophou huil nie. En soms sê die Pa dan: “Dis nou genoeg!”

• Party raak baie besig om te vergeet, en ’n ander wil wegtrek, ook om te vergeet.

• Een mens bid maklik. ’n Ander een sukkel om te bid en is kwaad vir God.

Hartseer is soos ’n reis. Jy kan die reis aanpak of saam met God, of op jou eie.

• Die reis saam met God maak jou gesond.

• Die reis alleen los jou gewond.

Kom stap saam na drie stasies op daardie reis. Ander mense het dit al gestap en kan vertel hoe God met jou saamstap en jou gesond maak.

Die eerste maand: DIE SKOK

’n Geliefde wat sterf ruk jou stukkend. Daarom hoef jy nie probeer om “sterk” te wees sonder om te huil nie. Jy mag maar huil en praat uit jou hart uit, met mense en met God.

• Wees in die eerste maand sag en geduldig met jouself en met jou ander mense.

• Hou eers net vas aan God sonder om nou al rustig en sterk te wees

• Dis moeilik om in hierdie tyd te bid. Vra dus maar net: “Here, hou my vas.” (Ps 32:10)

Die eerste jaar: DIE SOEKTOG

Saam met die Here moet jy soek na antwoorde en balans oor die volgende groot sake:

1. Om te verstaan wat gebeur het en hoekom. Praat gerus oor die gebeure: die botsing, siekte of omstandighede. Vind uit totdat jy wel die feite weet. Maar moenie daarby vashaak nie of probeer om alles volledig uit te pluis nie. Die belangrikste is nie om vir God te vra vir watter rede dit gebeur het nie. Soek eerder saam met God wat jy moet doen noudat dit gebeur het. Rom 8:28 sê dat God alles, selfs rampe, kan gebruik om iets goeds te laat gebeur. Ek moet God vra wat ek kan doen na hierdie ramp.

2. Om te verwerk wat onafgehandel is.

Dalk het ek nog nie vrede gemaak met die persoon wat dood is nie. Dalk was ek kwaad of wou ek nog iets vir hom/haar gesê het, of het hy/sy my iets aangedoen wat ek nou nie kan afhandel nie. Vra die Here om jou te help fokus op die dinge wat jy wel gedoen het eerder as die onafgehandelde. As dit nodig is, skryf ’n brief vir die oorledene – dit laat dit afgesluit voel. Gee dan jou woorde of brief aan God om te vergewe en af te sluit.

3. Om te kalmeer wat ontsteld is.

Totius se gedig noem dit “die pyngedagte,” daardie verlange wat jou in jou bors tref.

Gevoelens van depressie is ’n normale gevolg van rousmart (en soms tref werklike depressie jou, waarvoor jy medikasie kan kry).
God vra nie dat jy gevoelens moet onderdruk nie asof dit ongelowig sou wees om te huil of ontsteld te wees nie. Hy vra ons om dieselfde te doen as die skrywers van baie psalms: hulle het al hul gevoelens eerlik erken, nie onderdruk nie. Dan moet jy dit na God toe neem en uitpraat in gebed. Soms moet jy met ’n helper (leraar, berader of sielkundige) gaan praat om die deurmekaar gevoelens te orden. Eers dan kom dit tot rus. God verbied nooit trane nie. Hy droog dit net af.

4. Om weer te glo nadat my geloof amper losgeruk is.

Partykeer maak hartseer jou kwaad vir God en bitter teen die lewe. Soms laat dit jou voel asof jy nie meer kan glo nie.
Ook dit is verrassend genoeg nie iets wat ek vir God hoef weg te steek nie. Toe Job gewaag het om eerlik hieroor te wees (Job 7:20; 30:20) het God met liefde geluister en Job gehelp om nog nader aan Hom te kom (Job 42:5). Die belangrikste is om aanhoudend met God hieroor te praat in gebed. Dit help soms baie om jou gedagtes neer te skryf asof jy ’n brief aan God skryf. Dit help ontsettend baie om te lees wat ander gelowiges al in so ’n tyd geskryf het, ’n boek, ’n gebed of verhaal.

5. Om besluite te neem en te doen wat gesond is.

Soms neem mense drastiese besluite terwyl die pyn nog rou is, soos bv. om te verhuis. Dis meestal ’n fout. Eintlik behoort geen groot besluit geneem te word voordat daar nie omtrent ’n jaar verloop het sodat dit ’n rustige, weldeurdagte besluit sal wees. Sommige mense sukkel om besluite te neem, raak passief en doen niks nie. Soms moet mens jouself dwing om die gesonde goed te doen en die hulpmiddels wat die Here gee, te benut. Daarom is dit belangrik om steeds planmatig mense te besoek, kerk toe te gaan, ’n selgroep by te woon en die dinge wat gewoonlik vir jou lekker was, aan te doen. Dis veral belangrik om fisies te oefen, selfs deur net gereeld lang afstande te stap. Fisiese oefening is ’n stresverligting en help om depressie te verlig.

Na die eerste jaar: DIE SAAMLEEF

Die lewe na die dood van ’n geliefde mag nooit weer “normaal” wees nie. God wil hê dat ons deur so ’n gebeurtenis moet groei en positief verander. Rom 8:28 is ’n teks wat hier baie kan help: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Dit belowe dat God met my gaan saamwerk om uit ’n ramp iets sinvols te laat groei. Jy moet dus so werk aan swaarkry dat jy ’n ander, ryper mens sal wees, veral op die volgende twee gebiede:

1. Om nog nader aan God te wees. Dalk sal jy nou minder veg om alles te probeer verstaan want dit verlam jou. Dalk sal jy nou eerder fokus om te doén wat jy wél verstaan want dit maak ’n verskil. Dalk sal jy nou dieper en eerliker met Hom gesels.

2. Om nog nader aan ander mense te wees. Die groot berou wat byna alle mense het, is die verlange om meer tyd saam met die oorle-dene te kon beste.  Daardie kans is verby, maar jy het nog die kans om met jou ander geliefdes meer liefde te deel. Moenie dus tyd mors deur kwaad te wees vir iemand of te besig te wees met minder belangrike goed soos werk of dinge nie. Mense is belangriker as dinge of geld of sukses.

3. Om ’n doelgerigte bediening of taak te kry. Iewers het God vir jou ’n roeping waar jy jou groter rypheid en liefde kan uitleef. Benut jou pyn ten goede. As jy jou verlies kan gebruik om iewers ’n taak op te neem en mense met liefde te help, dan word dit ’n beter herdenking as om net blomme op ’n graf te gaan sit

Besoek wel die graf. Vier sy/haar lewe met herdenkings op ’n verjaarsdag of ander spesiale datums. Maar fokus op die lewe wat God jou gegun het totdat ons eendag almal saam by God kan wees.

Want na die begrafnis gee God ’n ewige lewe.

Dr Henk Gous

Share this post