Demensie – Jou grootste bedreiging tot lewensbetekenis

Ideaalgesproke is ons lewe veronderstel om betekenisvol te verloop tot aan die einde. Veral die proses van veroudering plaas ons egter voor ʼn hele aantal uitdagings wat die betekenisvolheid van ons lewe bedreig. Seker die grootste hiervan is ons vrees vir die siektetoestand wat algemeen “Demensie” genoem word. Navorsing toon dat mense se vrees vir demensie groter is as hulle vrees vir kanker. Dié vrees gaan gepaard met ons oningeligtheid oor ʼn “vyand” wat gesigloos en naamloos is.

Die grootste rede waarom demensie so bedreigend voel, is die feit dat dit veral in die ouerwordende gemeenskap so sigbaar is. Gesaghebbendes sê dat ongeveer 5–7% van ons ouerwordende gemeenskap deur die toestand geraak word. Wêreldwyd het 35,6 miljoen mense die siekte. Projeksies raam dat teen 2030, dié getal tot 65,7 miljoen en in 2050 tot 115,4 miljoen sal styg. Dit word beraam dat die getal mense met demensie elke 20 jaar verdubbel. Die hoogste voorkoms is by die ouderdomsgroep 85 en ouer. Daar is egter ook demensietoestande wat reeds in die middel- tot laat vyftigerjare by pasiënte voorkom.
Dit is ʼn feit dat daar steeds ʼn hoë mate van onkunde en ook stigmatisering aan demensie kleef. Heel dikwels is demensie ook nie ʼn groot behandelingsprioriteit nie. Dit is om hierdie redes dat kennis en insig oor die siekte noodsaaklik is.

Demensie of Alzheimer se siekte?
Wanneer mense oor demensie praat, word Alzheimer se siekte normaalweg in dieselfde asem genoem. Die rede hiervoor is dat Alzheimer se siekte die bekendste demensietoestand van ʼn lang lys siektetoestande is, wat onder die versamelnaam “Demensie” genoem word.
Demensie is ʼn sambreelterm vir ʼn groot aantal siektetoestande. Dit kan onder-verdeel word in:

  • Kroniese degeneratiewe demensies (waaronder bekende toestande soos byvoorbeeld Alzheimer se siekte en Parkinson se siekte val).
  • Akute demensies (soos traumatiese breinbeserings, en Creutzfeldt-Jakob siekte).
  • Omkeerbare serebrale disfunksies (soos vitamine B12 tekort, sekere infeksietoestande en slaapversteurings).

ʼn Baie algemene en breë definisie van demensie omskryf dit as ʼn toestand wat ʼn persoon se geheue en verstandelike vermoë sodanig inperk, dat dit die persoon se sosiale en of beroepsfunksionering negatief beïnvloed. In die afwesigheid van mediese genesingsmiddele vir sekere demensietoestande, kan goedgekeurde medikasie egter tog help om die progressie van die siekte te vertraag. Dit het, naas die waarde vir die persoon met demensie, ook groot waarde om die stres op die versorger te verlig. Verder stel die verhoogde lewenskwaliteit vir die pasiënt ook die uiteindelike opname in ʼn geskikte sorgeenheid heelwat langer uit. Mense met demensie kan nietemin ’n relatief lang en betekenisvolle lewe leef, ten spyte van die feit dat sommige demensietoestande nie geneesbaar is nie.

Die belangrikheid van professionele diagnose
Die feit dat mense in die algemeen onseker oor die werklike aard van ʼn geliefde se geestestoestand is, noodsaak behoorlike professionele diagnose. Indien die diagnose dui op ʼn demensietoestand wat behandelbaar is, kan die toestand met behulp van behandeling opgeklaar word. Indien diagnose wel dui op ʼn demensietoestand wat nie geneeslik is nie, kan die behandeling lewenskwaliteit verhoog. Dit help die pasiënt, familie en vriende om die nodige aanpassings te maak wat goeie versorging kan verseker. Selfdiagnose, daarenteen, wat gegrond is op onkundige waarneming, is tot groot nadeel van die pasiënt én die persoon se versorger.
In die algemene omgangstaal het mense vroeër goedskiks na die verslegtende geestesvermoë van ʼn ouerwordende persoon as “kinds” verwys. Deesdae word die veralgemening baie gemaklik en ongediagnoseer met “Alzheimer” vervang. ʼn Professionele diagnose help almal wat by die persoon betrokke is, om sekerheid en gemoedsrus oor die geliefde se toestand te verkry. Wanneer ʼn probleem ʼn “naam” het, kan ‘n mens dit op baie terreine makliker hanteer. Verdere kennis stel die pasiënt en familie in staat om te weet wat om te verwag en berei hulle beter voor op die onseker pad vorentoe.

Die vroeë simptome van demensie
Om jou sleutels te verlê en vir ʼn wyle nie te kan onthou waar die motor in die parkeerarea is nie, is gewoonlik normaal. Wanneer iemand in staat is om self deur middel van terugsporing hom of haar te oriënteer of die verlore sleutel te vind, is daar nie rede tot kommer nie. Wanneer ʼn persoon se ingekorte vermoë egter hul normale sosiale en beroepsfunksionering begin beïnvloed, raak ʼn professionele diagnose noodsaaklik. Vroeë simptome, soos dié hieronder, sal die huisdokter waarskynlik oortuig om die persoon na ʼn neuroloog te verwys vir verdere evaluering en diagnose. Sulke waarnemings kan die volgende insluit.

  • Inkorting van die korttermyngeheue. Dit word gewoonlik waargeneem wanneer ʼn persoon onlangse gebeure nie kan onthou nie of dieselfde vrae by herhaling begin vra.
  • Wanneer ʼn persoon konsentrasie-probleme ervaar, of nie meer in staat is om probleme wat hulle vroeër maklik kon oplos, te hanteer nie. Aksies wat vroeër maklik was, raak vir die persoon problematies, soos die gebruik van ʼn bankkaart by die kitsbank of om ʼn bekende resep te maak. Die persoon kan ook nie meer basiese “chaos” weer tot die vorige “orde” herstel nie.
  • ʼn Persoon ervaar toenemend probleme om te kommunikeer. Gedagtes word onderbreek, woorde en veral name word maklik vergeet en dit raak moeiliker om ʼn sin te voltooi.
  • Die persoon is gedisoriënteerd ten opsigte van tyd en plek. Die dag en datum word vergeet en dit raak al moeiliker om voorheen bekende plekke in en buite die huis te vind.
  • ʼn Persoon se sig, veral die vermoë om diepte waar te neem, word aangetas. Dit beïnvloed veral die persoon se vermoë om trappe veilig te klim of om refleksies in ʼn spieël sonder verwarring waar te neem.
  • Gemoedstoestande wissel en dit word vir die persoon al moeiliker om emosies soos angs en woede te beheer. Die persoon neig om teruggetrokke te raak en die selfbeeld verswak.

Demensie en geloof
Demensie, veral in die gevorderde stadium daarvan, ontneem die persoon van baie menslike vermoëns. Die verlies van geheue, begrip van tyd en plek, spraak en beweging, laat die persoon met demensie in ʼn eie wêreld en belewenis. Die hoop en troos vir die gelowige met demensie, is geleë in die heerlike feit dat selfs al verloor ’n mens jou menslike verstaan en belewenis van God, die gelowige altyd in die geheue van God bly. Die feit dat ’n gelowige ʼn kind van God is, het met God te make en berus nie op die persoon se gevoelens en emosies nie!

Dr Petrus Moolman

Share this post