Muslim

Christene en Moslems

Deesdae is die Moslems gedurig in die nuus … en meestal vir slegte redes. Daar is verskeie burgeroorloë in die Moslem-wêreld, veral die Midde-Ooste, aan die gang. Miljoene mense – meestal Moslems, maar ook talle Christene – is aan die vlug uit die oorloggeteisterde lande. Waar die vlugtelinge heengaan, is daar weerstand en politieke oproer. Orals in die wêreld, maar veral ook in Afrika, is daar Moslem-radikale wat dood en verwoesting saai. Baie mense beskou dié radikale Moslems as die grootste bedreiging vir wêreldvrede. Behoort ons as Christene alle Moslems te haat en te beveg?

Wie is die Moslems? 

Is alle Moslems so radikaal, so veglustig? Wat weet ons van hulle godsdiens, die Islam? Is dit ’n vreedsame godsdiens?

Naas die Christendom, het Islam wêreldwyd die meeste aanhangers … meer as ’n miljard mense. Hoewel die meeste van hulle in Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Indonesië en Pakistan woon, is daar deesdae ook Moslems in ons buurt en ons straat woonagtig … hulle is ons bure, gewone vredeliewende mense wat maar net wil voortgaan met hulle lewe. Trouens, hulle manier van groet is “Vrede vir julle!” (Salaam alaikuum). In Suid-Afrika is Moslems minder as 2 % van die bevolking. Hulle is orals versprei, maar hulle is sterker teenwoordig in die Wes-Kaap (die Slamaier-gemeenskappe). Dan is daar ook baie Moslems wat van Indië en Pakistan afkomstig is.

Dit is daarom belangrik dat ons as Christene hulle moet leer ken en leer om met hulle saam te leef en te werk.

Islam beteken “onderwerping, gehoorsaamheid”. As godsdiens het dit in die 7de eeu na Christus tot stand gekom. Mohammed was die stigter. Islam is bewustelik ’n post-Christelike godsdiens wat erkenning aan Christus as belangrike profeet gee. Hulle erken ook Ou Testamentiese profete soos Adam, Noag, Abraham, Moses en Elia. Hulle beskou Mohammed egter as die grootste en finale profeet. Moslems glo dat God self deur die engel Gabriël sy openbaring aan Mohammed gegee (gedikteer) het, wat in die Koran in Arabies opgeskryf is. Hierdie heilige boek van 114 hoofstukke (suras) bevat die hele geloofsinhoud van Islam. Omdat dit in Arabies gegee is, leer alle Moslemkinders in die wêreld hierdie taal en memoriseer hulle die Koran in die spesiale skole wat madrassas genoem word.

Saam met die Judaïsme en die Christendom word Islam ook as ’n “godsdiens van die boek” beskou. Islam is monoteïsties, want soos die Christene en Jode glo hulle ook in ’n enkele God. Hierdie godsdienste stam ook al drie uit Abraham, al sou die Moslems die Ismael-lyn (Abraham se seun by sy slavin, Hagar) volg.

Wat glo die Moslems? 

Vir Moslems draai hulle hele lewe om die moskee, waar die godsdienstige leier (imam) gereed staan om leiding te gee. Hulle godsdiens staan basies op vyf pilare.

1. Die Geloofsbelydenis (Shahada)

Elke Moslem leef met die volgende belydenis op die lippe: “Daar is net een God, Allah, en Mohammed is sy profeet”. Wie dit bely, is ’n Moslem. Dit gaan dus ten diepste om die onderwerping aan Allah. Omdat dit nie Mohammed is wat aanbid word nie – hy is bloot Allah se profeet – is dit verkeerd om Moslems (soos party mense dit doen) “Mohammedane” te noem.

2. Die gebede (Salaat)

Vyf keer op ’n dag roep die imam die Moslems op tot gebed. Dan rol die Moslem ’n matjie uit en met die gesig na Mekka word vaste gebede opgesê. Veral op Vrydae gaan die mans graag na die moskee om saam te aanbid. Geklee in hulle reinwit gewade, trek hulle eers hulle skoene uit en was hulleself volgens reinigingsvoorskrifte voordat die moskee betree word. In rye, plat op die grond, met gelyke liggaamsbewegings soos een groot liggaam, aanbid hulle Allah in eerbied en toewyding.

3. Aalmoese (Zakat)

Elke Moslem is verplig om 2½ % van sy inkomste aan liefdadigheid te bestee. Hulle sorg daarom graag vir mekaar en vir die armes. Gasvryheid is ʼn belangrike offer, veral ook teenoor vreemdelinge.

4. Vas (Saum)

Die maand Ramadan is volgens oorlewing die maand waarin die Koran aan Mohammed gedikteer is. Van sonsopkoms tot sononder word daar elke dag in dié maand gevas. Dit leer Moslems dissipline, ’n deernis vir hulle wat honger ly en afhanklikheid van Allah. Vir Moslems is dit in elk geval verbode om varkvleis te eet of alkohol te gebruik. Diere moet ook volgens voorgeskrewe prosedures geslag word. Daarom word net rein voedsel (halaal) geëet. Halaal-produkte is by supermarkte uitkenbaar aan die spesiale teken wat op die verpakking aangebring word.

5. Pelgrimstog na Mekka (Hadjdji)

Elke Moslem wat dit enigsins kan bekostig, moet probeer om een of ander tyd ’n pelgrimstog na Mekka in Saudi-Arabië te onderneem. In Mekka loop die honderdduisende pelgrims dan om en om die heilige altaar van swart klip, die kaaba. Volgens Moslemtradisie is dit waar Abraham vir Ismael (nie Isak nie!) moes offer. Op besondere wyse het Ismael hom daar onderwerp aan God se wil. In ʼn spesiale klipgooi-seremonie herdenk die Moslems selfs hoe Ismael die duiwel, wat hom wou verlei om nie geoffer te word nie, met klippe bestook het. Iemand wat ʼn Mekka-pelgrimstog voltooi het, kry die eretitel hadjdji.

Kan ons met Moslems saamwerk? 

Afgesien daarvan dat daar nie aan Christene sulke vaste gebruike voorgeskryf word nie, stem die verwagte goeie lewensgebruike en ideale nogal baie ooreen, en dit kan die basis wees waarop saamgewerk word om ’n beter gemeenskap te bou. Ons kan goeie bure of vriende wees, wat in mekaar se lief en leed deel en mekaar met respek behandel.

Hoe gemaak met ons verskillende geloofsoortuigings? 

Daar is tog ook belangrike, grondliggende verskille waarvan ons ’n paar kan noem.

Die eerste is die status van die Koran. Vir Moslems het die Koran min of meer dieselfde betekenis as wat Christus vir die Christene het. Die Koran is die letterlike en gesaghebbende woorde van Allah, in Arabies. (Natuurlik is daar verskillende skole van interpretasie, en die rol van die tradisies en die opvolgers van Mohammed het onder andere daartoe gelei dat afskeidings en onderling vyandige groeperings onder die Moslems ontstaan het, soos byvoorbeeld die Soenniete en Sjiïete.)

Moslems erken nie die godheid van die groot profeet Jesus nie. “God kan nie ’n seun hê nie”, sê hulle. En buitendien meen hulle die Christene aanbid drie gode: Vader, Seun en Heilige Gees (wat ons Christene natuurlik ontken). Christus se verlossingswerk word dus deur Islam ontken.

Daarom is dit ’n netelige kwessie of Allah identifiseer kan word met die God van die Bybel. Menings gaan daaroor uiteen, maar een ding is seker: vir Christene is Jesus Christus die openbaring van God, en die weg na verlossing. En die God wat ons in die Bybel leer ken, is die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees.

Die Moslem “verdien” sy/haar verlossing deur goeie dade, veral die voorgeskrewe goeie werke. Vir die Christen is alles net genade van God, en goeie werke vloei uit ’n nuwe lewe deur die Heilige Gees (Handelinge 4:12, Johannes 14:6, Romeine 1:17, Efesiërs 2:8-10).

Dit is hierdie “goeie nuus” wat ons met ons Moslem bure wil deel: ons kan nie, en ons hoef ook nie, ons aanvaarding by God te verdien nie! God het ons lief; Hy pleit by ons om sy verlossingswerk te aanvaar (2 Korintiërs 5:20). Hierdie boodskap kan ons egter alleen aan Moslem kommunikeer as ons hulle respekteer en só leef dat hulle kan sien dat ons vir hulle omgee. Trouens, ons hele lewe moet getuig dat die Here ons lewens verander het, en dat ons Hom met vreugde dien en gehoorsaam. Ons moet liefdevolle, vriendelike mense wees.

As Christene kan ons waardering hê vir die Moslems se toewyding en selfdissipline. In die
wyse waarop hulle hul geloofsoortuiging en getuienis teenoor die wêreld uitleef, is hulle dikwels vir ons tot beskaming. Christene is nie beter mense as Moslems nie. Daar is genoeg in ons geskiedenis waaroor ons baie skaam moet wees. Ons moet saamstaan teen dáárdie mense wat – beide in ons tradisie en hulle s’n – vir die ongelowiges rede gee om alle geloof te verwerp. Saam moet ons werk vir die goeie en teen die slegte nuus van die dag soos armoede, magsmisbruike, wetteloosheid en losbandigheid en veragting van gesag.

Ons as Christene is geroepe om met nederigheid en respek, maar ook met vaste geloofsoortuiging en met beslistheid, teenoor ons Moslembure te getuig van die verlossing in Christus – juis omdat God ook vir húlle liefhet, Christus vir ons álmal gesterf het, en die Heilige Gees die egte “vrede met God” ook vir húlle wil skenk.

Ons is daarom geroepe om met oortuiging ons Moslembuurman of -vrou toe te bid: salaam alaikuum!

 Prof Dons Kritzinger 

Share this post