Begrafnis – neem afskeid op die regte manier

Begrafnisse is belangrik vir ons mense. Almal probeer deelneem, nie net by die graf nie, maar ook in die tyd voor en ná die begrafnis. Dit is gaaf, maar baie van die gewoontes veroorsaak ‘n baie swaar las op die treurende familie. Dikwels betaal hulle lank daarna nog aan die skuld.

Dit is ’n vraag of daar nie opnuut na begrafnisse gekyk moet word nie. Is al die gebruike waaraan ons gewoond geraak het nodig? En is dit reg? Hoe kan Christene op die regte manier afskeid neem?

Die dood is onvermydelik.

Dood is ’n hartseer ding. Ons probeer daarom om dit so lank moontlik op ’n afstand te hou, en wil nie eers daaroor dink nie. Dis ook reg so, want die lewe is ’n baie kosbare geskenk uit God se hand. Ons moet dit dankbaar geniet. Maar, een of ander tyd kom die dood ook naby aan ons. Op ’n dag is dit my beurt om dood te gaan, of iemand naby my. As ’n geliefde sterf, is ons altyd hartseer. Dit is swaar om afskeid te neem.

Wat gebeur as iemand doodgaan?

Mense dink verskillend oor die dood. Party dink as jy doodgaan, is alles heeltemal verby. Ander, soos die Hindoes, glo dat die mens weer terugkom aarde toe, as ’n mens of dier, afhangende van hoe jy geleef het. Die tradisionele mense van Afrika het geglo dat die dooie eintlik voortlewe as ’n “lewende-dooie”, as ’n skaduwee, ’n gees. Hierdie gees, wat nog tussen die lewendes bly bestaan, moet reg hanteer word anders  kan dit dié wat agtergebly het pla of straf. As mens mooi met hulle werk, kan hulle jou ook beloon. Mens is bang vir hulle. Die persoon wat dood is moet daarom met allerhande rituele en offers onthou word, tevrede gehou word, vereer en selfs aanbid word.

Natuurlik dink ons as Christene anders oor die dood as die mense wat nie in Jesus Christus en sy Woord glo nie. Die Bybel leer ons dat iemand wat in Christus glo en op Hom vertrou, eintlik reeds die ewige lewe het (Johannes 5:24). Al word ons oud en ons liggame gaan dood (2 Korintiërs 5), bly ons lewe – met ons eintlike lewe, die ewige lewe – saam met Christus (2 Korintiërs 4:14, Kolossense 3:1-4). Hoe dit presies gebeur, kan ons nie regtig verstaan nie (1 Korintiërs 15:35 ev). Maar ons weet verseker dat Christus die dood oorwin het, dat Hy die dood “doodgemaak” het (1 Korintiërs 15:55-58). Hy het uit die dood opgestaan. En wanneer Hy eendag weer kom om alles nuut te maak, sal Hy ons wat in Hom glo, ook weer met ons liggame laat opstaan uit die dood om vir altyd by Hom te wees (1 Tessalonisense 4:13-18). Dan sal ons op ’n plek wees waar daar nie meer hartseer en pyn is nie, waar daar net vreugde is (Openbaring 21:1-8). Die Bybel noem dit die nuwe hemel en die nuwe aarde. Ons kan amper sê dat die dood vir die gelowige Christen ’n hoogtepunt is, ’n verlossing (Filippense 1:21). Christene treur dus ook as iemand sterf, maar anders as mense wat hierdie nie glo nie. Ons weet dat ons Verlosser leef, en dat ons by die dood Hóm tegemoet gaan. Ons is hartseer oor ons verlies – ja seker – maar ons treur oor ons eie verlies.

Begrafnis is ’n afsluiting

Ons glo dat die een wat oorlede is, reeds by die hek ingegaan het wat bepaal is deur sy of haar aardse geloof. By ’n begrafnis is dit daarom nie die een wat dood is wat in die middelpunt moet staan nie, maar dié wat agterbly … en natuurlik Gód wat die lewe geskenk het. Vir dié wat agterbly is die begrafnis ’n afsluiting. Terwyl die liggaam van die oorledene nog by ons is, is die verlies nog rou. Ter wille van die afronding van die lewe en die heling van ons verdriet, is dit nodig om die persoon se liggaam te ruste te lê. Daarom is ’n begrafnis ’n plegtige, waardige geleentheid waarby die familie en gemeenskap betrokke is.

Goeie begrafnisgebruike

Die tradisionele begrafnisgebruike is bedoel om op ’n ordelike en waardige manier van die geliefde afskeid te neem. Dit bind ’n gemeenskap en ’n familie saam. So is daar nagwake gehou ter ondersteuning van die familie; die rouklere wat gedra is het mense herinner aan die verlies; die plegtige manier waarop die graf gegrawe en weer toegegooi is; die liedere en mooi woorde by die graf; die gasvryheid waarmee gaste behandel word; die hulp wat mense aan mekaar gee; die manier waarop respek betoon word aan die oorledene, ook aan sy of haar wense en beginsels. So help mense mekaar se hartseer dra, troos hulle mekaar en word die lewe van die oorledene mooi afgesluit. Dit is goeie gebruike. Die hele verhaal van Lasarus se dood en begrafnis is ’n goeie voorbeeld hiervan (Johannes 11).

In sekere kulture word al hoe meer mense vandag veras in plaas van begrawe. Hoewel dit vir party mense nie aanvaarbaar is nie, is dit vir ander nie regtig verkeerd of onchristelik nie. Ons liggame vergaan buitendien, ook as ons begrawe word. Die Here sal weer vir ons nuwe liggame gee by sy wederkoms. Die gebruike by verassing moet egter ook, net soos by begrafnisse, vol respek wees. En dit moet troos bring.

Verkeerde gebruike

Ongelukkig gaan dit nie altyd goed by begrafnisse nie. Allerlei verkeerde gebruike het ontstaan:

Baie van die gebruike by begrafnisse het eintlik meer met vrees te doen as met respek of troos.

Mense voel dat hulle sekere dinge moet doen en sê, anders mag slegte dinge dalk met ons gebeur. Dit is glad nie nodig om al sulke dinge te vrees nie. Sê die Bybel dan nie dat Jesus Christus al die bose magte klaar oorwin het nie (Kolossense 2:15)? Hy het die bose en die dood oorwin (Rom 8:31-39). Ons het niks om voor bang te wees as ons in Hom glo nie.

Daar is dikwels by begrafnisse ’n neiging tot oneerlikheid.

Soms word die oorledene opgehemel tot iemand wat eintlik nie herken kan word deur die mense wat hom of haar goed geken het nie. Om die mooi in ’n persoon se lewe te onthou, is goed en reg, maar om dit leuenagtig te oordryf, maak die hele saak belaglik. Waarom doen mense dit? Of dalk is hulle maar net besig om bietjie oor hulleself te spog met hulle mooi woorde. Dikwels is dit die mense wat skuldig voel omdat hulle nie in ’n goeie verhouding met die oorledene geleef het nie wat op die begrafnis erg te kere gaan. Maak liewer vrede met iemand terwyl dié nog leef, en eer ’n persoon terwyl dit nog saak maak! Moenie wag tot die begrafnis om te probeer regmaak nie!

Mense misbruik dikwels begrafnisse vir hulle eie selfsugtige doeleindes. Die begrafnis word gekaap deur ’n politieke groep of leier wat met toesprake hulle eie belange probeer bevorder. Die troos vir die familie van die oorledene is vir hulle nie belangrik nie.

Kerke en kerkleiers kan ook begrafnisse misbruik. Dit gebeur wanneer nie die troos van die evangelie verkondig word nie, maar mense vir hulle kerk gewerf word deur byvoorbeeld ‘n bangpraat met die duiwel of die straf van God, of as hulle vreeslik tekere gaan oor allerlei.

En dan die buitensporigheid wat die agter-geblewenes in skuld dompel! ’n Peperduur kis! Oormatige eet- en drinkgoed… en die dronkenskap wat daarmee gepaard gaan! Die duur versierings en motors; die wekelange reëlings terwyl die lyk ten duurste in die koelkas lê; en dan nog die uitspattige grafsteen! Meestal skiet die begrafnispolis ver tekort vir al die uitgawes en moet geld teen baie hoë rente geleen word. Begrafnisse het een van die grootste oorsake van armoede geword. Dit is nie wat die oorledene sou nie wou hê nie! ’n Ordentlike, eerbiedige begrafnis hoef nie die duurste van alles te hê nie. En dan die jaloersheid of selfsug of kritiek op begrafnisse wat die mense skuldig of teleurgesteld laat voel omdat alles nie deftig genoeg was nie, of oor dinge wat skeef geloop en mense dit misbruik het. Begrafnisse kan maklik groot spanning en skeuring in families en gemeenskappe bring.

Christenbegrafnisse

Dit is belangrik dat ’n gelowige Christen se begrafnis anders moet lyk as dié van ’n ongelowige. So word die begrafnis ’n getuienis in die wêreld.

Daarom is gelowige mense se begrafnisse nie buitensporig duur en met onnodige vertoon of allerhande versieringe nie, maar waardig, opreg en nederig.

Gelowige se begrafnisse is bedoel om mense te troos, om vir mense die boodskap te bring dat Jesus Christus die dood oorwin het.

Gelowiges se begrafnisse is ook ’n plek waar die Here gedank word vir die lewe van die oorledene en vir die Here se sorg.

Die prediking van die Woord, liedere, gebede, formuliere en al die ander gebruike by ’n begraf-nis moet die troos van die blye boodskap van Christus se oorwinning oor die dood verkondig.

By die begrafnis moet mense ook die kans kry om te treur en om afskeid te neem, maar dan nie soos mense wat geen troos het nie.

By die begrafnis moet mense weer aan mekaar gebind word as broeders en susters in die Here,
wat mekaar versorg en help. Dit kan ’n plek wees
waar mense uit verskillende groepe, gemeen-skappe of kerke weer nader aan mekaar kom.

By die begrafnis moet mense weer nuwe geloof, hoop en liefde kry. Hulle moet gehelp word om as oorwinnaars te gaan leef, as gehoorsame kinders van die Here in hierdie wêreld.

Oplossings?

Mense wat gewoonlik die leiding neem by begrafnisse moet saamstaan om die oplossings te vind en uit te voer. Daar behoort opgetree te word teen daardie mense wat vir eie gewin mense inpraat in onnodige duur begrafnisse. Dit het tyd geword dat predikante, ouderlinge en gelowige begrafnisondernemers die welsyn van ons gesinne eerste stel en voorloop om ‘n oplossing te vind.

Die begrafnisondernemers oefen groot invloed uit. Dit behoort by hulle opgeskerp te word dat hulle ’n belangrike diens lewer, en dat hulle hulle eer daarin moet stel om vir die treurende mense die gepaste raad te gee. Hulle mag nie hulleself verryk op die rug van arm mense nie. Inteendeel, hulle moet die geleentheid gebruik om die mense in hulle diepste nood op simpatieke en kundige maniere by te staan. Dit sal ook goed wees vir hulle besigheid!

Kerke moet op teologiese gronde hieroor praat en besluite neem, en hulle leiers bemagtig om die regte leiding aan lidmate te gee. Uiteraard is die belangrikste plek waar hierdie insigte deurgegee kan word in die Sondag eredienste. Leraars moet hieroor preek. Lidmate moet gehelp word om vooraf – voordat die tragiese werklikheid van die dood in die familie aanbreek – hieroor te praat, en standpunte in te neem. Die kerk moet almal leer om weer op ’n Bybelse manier te dink oor die dood, die opstanding en die lewe wat Christus skenk. Dan sal Christen-begrafnisse anders lyk as dié van ongelowiges.

Share this post