As siekte langer saamstap

Ons elkeen weet hoe dit voel om siek te wees. Ons lewe is al iewers, minstens tydelik, tot stilstand geroep deur een of ander vorm van siekte. En wanneer siekte onverwags toeslaan, word ons elkeen se planne en prioriteite heeltemal omver gegooi.

Dink aan die laaste keer toe jy siek was:

  • Hoe lank was jy siek?
  • Hoe het jou siekte jou gewone dagroetine en verpligtinge beïnvloed?
  • Was dit ʼn gerieflike tyd om siek te wees?
  • Wat het jou gehelp om weer beter te word?
  • Wat het dit jou gekos om beter te word?
  • Was daar mense rondom jou wat dit vir jou makliker gemaak het om beter te voel? Wie was dit en wat het hulle gedoen?
  • Wat het jy die meeste nodig gehad van die mense rondom jou?
  • Was daar mense wat jou nog slegter laat voel het? Wat het hulle gedoen om jou so te laat voel?

Hoe beïnvloed siekte my lewe?

Mense word siek. Ons kan almal iets van so ʼn tyd in ons lewe onthou. Tog moet ons ook vir mekaar sê dat nie alle siektes dieselfde is nie. Nie alle diagnoses het dieselfde impak op ʼn mens se lewe of op die van jou familie nie. Veral nie as so ʼn diagnose gepaard gaan met onder andere die wete dat:

  • Ek vir die res van my lewe met hierdie toestand gaan saamleef, omdat daar nie ʼn geneesmiddel hiervoor is nie.
  • Die res van my lewe dalk korter mag wees as wat ek nog altyd gedink het.
  • My lewe ingrypend sal verander, terwyl verskillende behandelingsopsies opgeweeg word.
  • Dokters self nie seker is oor wat my kanse op herstel is nie.
  • My lewe afhang van die beskikbaarheid van ʼn orgaan, of beskikbare medikasie.
  • My hele gesin geraak word deur hierdie diagnose.
  • My finansiële situasie kan verander omdat ek dalk nie meer my werk soos voorheen sal kan doen nie.
  • Ek in ʼn hospitaal opgeneem gaan word, en nie my kinders elke dag kan sien of help versorg nie.
  • Ekstra mediese kostes my mediese fonds vinnig kan uitput.
  • Die spesialis-behandeling net by ʼn hospitaal ver weg beskikbaar is.
  • Almal allerhande vrae gaan vra – en ek self nog nie eers presies verstaan wat aangaan nie

Menswaardigheid in ʼn tyd van siekte

Hoe raak hierdie diagnoses ʼn mens se menswees? En hoe kan ons as Christene daar wees vir mekaar op ʼn manier wat ons waardigheid bly bevestig en koester? Hoe kan ons as gemeenskap van gelowiges sagter na mekaar kyk en ʼn veilige ruimte wees vir mense wat ernstig siek is, of gediagnoseer is met ʼn lewensbedreigende siekte? En veral, hoe kan ons ondersteunend wees in ʼn tyd waarin mense nie net met hulle liggame en ʼn siekte worstel nie, maar na alle waarskynlikheid ook met God.

Die Seisoen van Menswaardigheid herinner ons aan die waardes van:

  • Respek
  • Omarming
  • Liefhê, en
  • Respek

Wat beteken hierdie waardes vir iemand wat moet leer saamleef met die realiteite van ʼn chroniese siekte of toestand soos diabetes, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, blindheid, verlamming, depressie of MIV? En hoe gee ons gestalte aan die beeld van die liggaam van Christus waarvan ons in 1 Korintiërs 12:12-31 lees?

Weet ons werklik wat dit beteken om mekaar se pyn te voel en weet ons hoe om teenwoordig te wees in mekaar se pyn, selfs as ons nie die simptome of diagnose kan verander nie?

Of klink ons eerder soos Job se vriende wat dink dat hulle:

  • Presies verstaan waardeur hy gaan?
  • Namens God kan uitspraak gee oor Job se lewe en waarom hy deur die krisis gaan?
  • Oortuig is dat siekte en teëspoed sy eie toedoen is? en
  • Goedkoop met antwoorde en verduidelikings omgaan?

In 2 Korintiërs 4:7 word ons daaraan herinner dat ons maar almal brose mense is: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

 Wenke

Hoe kan ons as geloofsgemeenskap ʼn veilige ruimte wees vir mense wat ernstig siek is of met ʼn ernstige siektetoestand saamleef?

  • Bly altyd bewus van jou eie broosheid en dat siekte ook enige tyd oor jou pad kan kom. Niemand is teen siekte gevrywaar nie.
  • Wees teenwoordig en bereid om bloot daar te wees.
  • Vra en luister na die spesifieke behoeftes en moenie aanvaar jy weet hoe die persoon voel, of wat hy of sy nodig het nie.
  • Bid altyd inklusief vir “almal van ons wat siek is, almal van ons wat met die realiteite en uitdagings van hetsy depressie, MIV, Alzheimersiekte, diabetes, blindheid, kanker ens. saamleef.” Wees versigtig vir ons-en-hulle gebede.
  • Vermy om kitsoplossings voor te stel.
  • Wees versigtig vir leë of goedkoop trooswoorde soos: “Elke donker wolk het ʼn silwer randjie”; “Die Here het ʼn spesiale doel hiermee”; of “God sal nie iets oor jou pad bring wat jy nie kan hanteer nie”.
  • Weerhou jou daarvan om namens God te praat.
  • Wees baie versigtig wat jy kommunikeer oor genesing – veral as jy nie veel van die betrokke siekte weet nie.
  • Vermy dit om gevolgtrekkings te maak, of oordeel te fel, oor hoe of hoekom hierdie mens siek geword het.
  • Leer ken die feite van die betrokke siekte. Lees daaroor en vind meer uit, sodat die persoon nie voel hulle moet die hele tyd verduidelik nie.
  • Sosiale media en selfone maak dit maklik om vinnig woorde van ondersteuning te stuur en dit kan baie beteken waar mense ver van mekaar af is. Maar dit is ook soms ʼn goedkoop uitweg. Moenie dat hierdie jou enigste vorm van ondersteuning is nie, veral nie as julle naby aan mekaar bly nie.

Oor genesing:

Al meer mense met kanker word vandag genees en tog is dit geen waarborg dat alle kankerpasiënte die siekte sal oorleef nie. Die behandeling is ook nie eenvoudig of maklik nie.

Ander siektes soos tuberkulose en longontsteking kan met behandeling genees word.

Vele chroniese siektes kan goed onder beheer gehou word met die gebruik van gereëlde medikasie en aanpassings in die dieet, soos byvoorbeeld met diabetes en hoë cholesterol.

En dan is daar siektes wat op hierdie stadium onomkeerbaar is, en waarvoor daar ook nie mediese oplossings is nie.

Ons weet die Bybel vertel verhale van mense wat genees word. Blindes wat sien, dowes wat hoor, bloedvloeiing wat stop, melaatses wat genees word, verlamdes wat loop en selfs dooies wat weer leef! Dit is natuurlik om ook aan hierdie voorbeelde te wil vashou en vir genesing te wil bid.

Hoe, waar en wanneer God kies om te genees, is egter nie vir ons om te sê nie en hang ook nie van ons geloof of ongeloof af nie. Daarom moet ons baie versigtig wees om nie uitsprake te maak wat valse hoop by mense kan skep of onnodige druk op hulle plaas nie. En, tensy ons self dokters is, mag ons nie advies gee oor die staking van medikasie nie.

By baie chroniese toestande is dit wel moontlik om met behulp van medikasie ʼn vol lewe te lei, met min simptome, ten spyte van die diagnose.

Share this post