Tiener seks

Tiener + seks = Swanger?

My naam is Michelle en ek is 15. Ek dink ek is mooi, met sexy bene; my maats sê ook so. Ek kan sien hoe kyk die seuns vir my; veral Shawn – hy kan sy oë nie van my afhou nie. Hy is al 19 en uit die skool. Hy sê hy soek my lyf. Van my maats vertel my hoe exciting dit is om seks te hê. Ek is nuuskierig, wil ook graag weet hoe dit is sodat ek kan saam gesels. Maar ek wonder of dit reg is?

Is dit veilig? 

Daar is baie jong meisies wat voor dieselfde groot keuse as Michelle staan: kan ek maar seks of moet ek eers wag? Daar is meisies van so jonk as elf jaar wat gereeld seks het. Baie meisies wonder selfs ook of dit nie dalk ’n goeie ding is om swanger te raak nie. Wanneer is mens gereed?

Watter risiko’s is daar? Is dit regtig so ’n big deal

 As jy ’n groot besluit moet neem, is dit altyd die beste om eers goed daaroor te dink. “Dink voor jy doen!” het Ouma altyd gesê. Sy was reg: jy moet tog wéét waaroor dit gaan en watter gevolge jou besluit kan hê.

Praat eers met iemand wat jy vertrou en by wie jy veilig voel. Praat eerlik oor seks en jou keuses. Dis goed om openlik daaroor te praat met jou ouers, ’n onderwyser, die jeugwerker of maatskaplike werker.

Dit help nie jy praat net met jou maats wat pouses grootpraat nie. Hulle praatjies help jou dalk net om te gou met dinge te begin wat seerkry en spyt bring.

Maar wat kan die nagevolge dan wees as ek te vroeg met seks begin?

Daar is die gevaar van seksueel oordraagbare siektes. Hierdie siektes kan baie hartseer en pyn bring; dink maar net aan MIV en Vigs, sifilis, hepatitis, ens. Party van die siektes is te erg om eers net aan te dink en onomkeerbaar.

As jou liggaam of jou emosies nog nie volwasse genoeg is nie, kan te vroeë seks jou baie verward maak. Jou liggaam en menswees kan baie seerkry – skade wat jou hele lewe lank by jou bly.

Jy kan vasgevang raak in ’n lewe van seks en daaraan verslaaf word; party meisies begin om hulle liggame vir geld te verkoop; mense kan jou misbruik; jou verhoudings tot niet gaan; jy kan jou selfrespek verloor; jou groei tot volwassenheid kan skeefloop; jou drome en ideale kan gesteel word.

Jy kan swanger word voordat jy regtig gereed is om ’n mamma te word. Om ’n ma te wees bring baie groot verantwoordelikhede – verantwoordelikhede waarvoor jy as tiener heel moontlik nog nie reg is nie.

Al hierdie nagevolge vererger soveel meer as jy met meer as een persoon seks het. Seks is mooi en goed en lekker – ons is eintlik gemaak vir seks.

MAAR, dis bedoel om binne ’n verhouding van liefde en trou plaas te vind – binne ’n huwelik. Dit is hoe God dit bedoel het.

Jy kan kies.  Nee, jy móét kies.

Maar, onthou, daar is gevolge aan jou keuse! 

Wat maak dit so moeilik om reg te kies?

  • Ek wil nie uit voel as my maats grootpraat en oor seks praat nie.
  • As my ou sê: “as jy my liefhet, sal jy met my seks hê.” (Dis natuurlik nie waar nie; so iemand het jou nie regtig lief of respek vir jou nie). Maar sê nou hy los my dan as ek nee sê vir seks?
  • As my vriend baie ouer as ek is en nie verstaan dat ek nog nie gereed is nie.
  • As enigiemand my dwing – op watter manier ook al. (Onthou, as iemand jou dwing om seks teen jou wil te hê is dit ‘n misdaad – dit is verkragting.) Jy mag nee sê! As dit nogtans gebeur, moet jy daaroor praat met iemand wat jy vertrou!
  • As ek eensaam of verwerp voel en ek dink seks gaan my help om weer aanvaar te word.
  • As mense sê: net deur seks kan jy wys dat jy nou regtig “vrou” geword het.
  • As ek daarmee iets aan ander mense wil bewys, dalk wil wys ek sal doen wat ék wil.
  • As ek of my gesin swaarkry en ek wonder of die toelaag (government grant) wat ek vir ʼn babatjie kan kry nie dalk gaan help nie.
  • As ek dink seks of swangerskap gaan my help uitkom uit die probleme in my lewe.
  • As ek en my ou êrens rof vry, dalk van ons klere uittrek en aan mekaar se geslagsdele vat, dan kan dinge gou handuit-ruk. Dan is dit asof jy eintlik nie meer kan kies om te stop nie.
  • As ek drank of dwelms gebruik of onvanpaste, ‘gevaarlike plekke’ soos nagklubs en sjebiens besoek. By sulke plekke is dit baie moeiliker om nee te sê vir verkeerde besluite wat later hartseer bring.
  • Of as daar tussen my en my ouers nie ’n oop en eerlike gesprek oor seks en verhoudinge is nie en ek dinge stilletjies, in die geheim doen.

Wees oopkop en oop-oë oor hierdie dinge wat die keuses so moeilik maak. Praat daaroor met iemand wat jy vertrou. Dis reg om oor seks te praat! Dis dom om te ry as die robot rooi is…     

As ek dan tog kies om seks te hê?

  • Ek moet weet wat die gevolge gaan wees en bereid wees om dit te dra.
  • Ek moet liewer voorbehoedmiddels gebruik en weet hoe dit werk. ’n Kliniekverpleegster of maatskaplike werker kan raadgee.
  • Ek moet elke keer as ek seks het kondome gebruik.
  • Ek moet getrou bly aan een maat.

En wat van swanger word? Voor jy kies om swanger te word, moet jy weet:

  • Jong meisies se liggame is nog nie gereed om ’n baba te dra nie; hulle is ook emosioneel nie gereed nie.
  • As jy swanger raak en besluit om die baba te behou, plaas dit al hoe meer druk op jouself en op die mense die naaste aan jou. Dit vra baie tyd en geld.
  • Dat mens geld kan maak met die staatstoelae vir jong, ongetroude mammas, is onwaar. Dié toelae dek skaars een vyfde van die geld wat regtig nodig is om ’n baba reg te versorg.
  • As jy te jonk is, gaan jy regtig nie weet hoe om ’n baba groot te maak nie – en jy gaan ook sukkel om skool klaar te maak.
  • Dit is nie reg teenoor jouself om te gou te veel pligte en verantwoordelikhede as tienermamma op jou jong skouers te laai nie – daar is eers ’n wonderlike lewe wat jyself moet ontdek en geniet. Daar is baie ander pret wat jy nie moet mis nie.

Watter ander keuses is daar?

  • Jy kan kies om liewer te wag voordat jy seksueel aktief raak of swanger raak – daar is baie ander wat ook kies om liewers eers te wag … en hulle is nie spyt nie!
  • Geniet dit eers net om ’n tiener te wees en lekker dinge saam met maats te doen, dinge wat pas by tiener-wees en wat nie groot gevare inhou nie: kuier en gesels, luister musiek, neem deel aan avontuurlike uitstappies, lees en stel belang in die wêreld rondom jou – daar is soveel opwindende dinge om te ontdek en te leer!
  • Jy kan ’n wonderlike verhouding met ’n ou hê sonder seks. Daar is soveel ander lekker dinge wat julle saam kan doen binne ’n verhouding van liefde en respek! Mens moet mekaar eers regtig leer ken en liefkry en vertrou.
  • Wees ’n maat vir ander, help mense wat jou nodig het.
  • Kies die regte maats en veral ook die regte ou, wat respek vir jou het en saam sal wag tot die tyd ryp is.
  • Besef dat jyself en jou liggaam baie spesiaal is: jy verdien die respek van ander mense.
  • Droom oor jou toekoms en werk daaraan om die drome waar te maak.
  • Konsentreer eers op jou studies – dit gaan soveel meer vir jou toekoms beteken.
  • Neem deel aan sport en ander skoolaktiwiteite – oefen, eet reg, slaap genoeg.
  • Vermy gevaarlike plekke waar jy moeilik nee sal kan sê. Vermy ook drank en dwelms.
  • As jy nie met jou ouers oor seks kan praat nie, praat met ander volwassenes wat jy vertrou oor seks en swangerskap – besoek ’n kliniek of ’n maatskaplike werker, selfs sonder jou ouers se toestemming as dit nodig is.
  • As mens eers eenmaal seks gehad het, beteken dit nie dat jy dan nie weer kan ophou en wag tot jy groter is nie.
  • Word deel van die kerk of ’n jeuggroep by die kerk.
  • Onthou, Jesus Christus wil graag met jou in ’n verhouding tree: Hy gee regtig vir jou om, Hy verstaan, Hy wil jou beskerm en help, Hy wil nie dat jy seerkry nie, Hy kan jou bewaar … praat met Hom oor jou lewenskeuses en vra dat Hy jou op die regte pad sal lei.
  • Daarom is dit ook goed en nodig om gehoorsaam te wees aan sy Woord.

 “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen. Spreuke 11:9-10

“Hoe kan ’n jongmens haar lewe skoon hou? Deur haar te hou aan u Woord.” Psalm 119:9

Share this post